title
stringlengths
0
200
maintext
stringlengths
0
24.9k
url
stringlengths
21
190
date_publish
stringlengths
0
19
Jong ma verloor been
Allison August (32) GEORGE NUUS - Een van die drie persone wat onlangs voor die Rush-nagklub in Pacaltsdorp deur 'n motor getref is, se linkerbeen moes bo die knie geamputeer word nadat dit vergruis is. Allison August (32), wat van die Paarl vir die naweek in George gekuier het, het ernstige beserings aan albei haar bene opgedoen. Die dokters werk ook hard om haar ander been te red sodat sy volle gebruik daarvan sal kan hê. Die bestuurder van 'n maroen BMW wat vermoedelik die ongeluk voor die nagklub veroorsaak het, is na 'n week lange soektog in hegtenis geneem en staar 'n aanklag van poging tot moord in die gesig. Die botsing, waarin drie mense op die sypaadjie raakgery is, het in die oggendure van 2 Oktober plaasgevind. Benjamin Fielies (36) is verlede Vrydag 7 Oktober in New Dawnpark in hegtenis geneem en het Maandag in die George-hof verskyn. Die saak is tot 18 Oktober uitgestel vir 'n formele borgtogaansoek. Fielies bly in aanhouding. Die polisie het ook op sy BMW beslag gelê en die voertuig sal deur forensiese ondersoekers nagegaan word. Die polisie vermoed Fielies het tussen 03:00 en 04:00 teen 'n silwerkleurige Daewoo voor die nagklub in Beachweg gebots. Die bestuurder van die Daewoo het beheer oor die voertuig verloor. Dit het die pad verlaat en vir August, Lorencio Seconds (32) en Cheryl Jansen (31) getref. Hulle is aldrie onderskeidelik van Parkdene en Borcherds. August is 'n oudleerder van Parkdene Sekondêr wat vroeër modelwerk gedoen het. Sy het ná skool na die Paarl verhuis waar sy haar man, Heino, ontmoet het. Die paartjie is in Desember 2006 getroud en het 'n dogtertjie, Zevah (4). Haar ma, Felecia Leë, het vandeesweek gesê sy bid vir beterskap vir haar dogter en vir verligting van haar pyn. "Ek is so dankbaar dat die Here haar lewe gespaar het. Toe ek op die toneel aankom, het sy nog op die sypaadjie gelê en huil terwyl sy gekreun het van die pyn. Ek het haar hand styf vasgehou en kon sien haar been is vergruis. Ek het hardop gebid en gevra dat die Here haar moet spaar," vertel Leë. In die hospitaal kon sy sien haar dogter probeer sterk wees en sy het besef die pad na herstel en aanvaarding gaan nog lank wees. "Vir nou vat ons dit dag vir dag," sê sy. Seconds, 'n oudrugbyspeler van Evergreens en Progress, het verskeie ernstige beenbreuke opgedoen. Hy is vroeër die week ontslaan en oorgeplaas na Bethesda waar hy tans versorg word. Jansen is later dieselfde oggend uit die hospitaal ontslaan. Jansen sê hulle het op die sypaadjie voor die nagklub vir hul rygeleentheid gewag. "Ons het gestaan en gesels terwyl ons wag. Ek weet nie waarvandaan die karre gekom het nie en het hulle ook nie gesien nie. Al wat ek gehoor het, was tyres en die volgende oomblik was ek op die grond met 'n klomp mense om my." Jansen en August se familie het verlede week verskeie pleidooie op sosiale media en die plaaslike radiostasie, EDENfm geloods op soek na die bestuurder van die BMW wat van die toneel af weggery het. Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die bestuurder van die Daewoo het ook die ongelukstoneel verlaat, maar die voorval direk daarna by die polisiestasie aangemeld. "Volgens inligting het hy bedreig gevoel deur omstanders op die toneel en het iemand gebel om hom te kom haal. Hy is toe na die stasie om die ongeluk aan te meld. Die bestuurder van die BMW het volgens inligting egter doodluiters weggery." Pojie het ook gesê daar is tans baie gissinge dat die ongeluk voorafgegaan is deur 'n gejaag in die strate en dat die beweringe deel vorm van die ondersoek. Behalwe die aanklag van poging tot moord word Fielies ook van regsverydeling aangekla omdat hy vermoedelik die skade aan die motor probeer herstel het om sy betrokkenheid by die botsing te verbloem. Hy word ook aangekla van roekelose en nalatige bestuur en verskeie ander klagte onder die padverkeerswet. Die wrak van die Daewoo-motor voor Rush-nagklub in Pacaltsdorp. Klik hier vir vorige artikels: ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/174278/Jong-ma-verloor-been
2016-10-12 16:00:00
Kommer oor misdaad in Blanco
Ralf en Ina Kolberg saam met 'n beampte van George-polisie kort na die voorval verlede Vrydag. Foto: Michelle Pienaar GEORGE NUUS - 'n Toename in huisbrake in die Blanco-gebied word ondervind. Sò sê kol. Michael Taylor hoof van die sigbare polisie-eenheid in George. Inwoners van Blanco het op Facebook te velde getrek na 'n berig verlede week oor 'n voorval waartydens 'n egpaar vir die vierde keer binne tien maande besteel is. Ralf en Ina Kolberg het Vrydag 21 Oktober omstreeks 12:00 met skok verneem dat daar by hul huis ingebreek is, terwyl Ina buite in haar hoenderhok besig was. 'n Soektog na die egpaar se skootrekenaar en selfoon het nog geen vrugte afgewerp nie. Die Kolbergs se Dell-skootrekenaar, Samsung Galaxy Ace, klein Canon-kamera en 'n wit Vodacom koordlose internetstafie is uit hulle kombuis gesteel. Hulle woon op die plaas Kruispad, aan die buitewyke van Blanco. "Dit is tyd dat misdadigers soos misdadigers behandel word en nie met handskoene hanteer word nie," lui een Facebook-inskrywing. 'n Ander persoon het laat blyk dat daar al 12 keer in twee jaar by hulle huis ingebreek is. Kruispad was in die visier van eiendomsontwikkelaars vir 'n behuisingsprojek wat fokus op die lae en middel inkomstegroep. Die beoogde projek, Outeniqua Vue, is egter in Augustus vanjaar gestaak. Enigeen met inligting word versoek om George-polisie te kontak by 044 803 4744. ARTIKEL EN FOTO: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/175173/Kommer-oor-misdaad-in-Blanco
2016-10-26 17:00:00
Ouetehuis vra ondersteuning
Ike Williams (links), nuwe bestuurder van die Rosemoor-tehuis vir bejaardes, en Charl Collins, Groenkloof George se versorgingsbestuurder by een van die beddens wat Groenkloof aan die tehuis geskenk het. Sabina Olkers is die dame in die bed en in die agtergrond is Jean Pockpass (links) en Canthia Smit. Foto: Alida de Beer GEORGE NUUS - Die nuwe hoof van die Rosemoor-sentrum vir senior burgers, Ike Williams, het 'n beroep op die George-gemeenskap gedoen om betrokke te raak by die tehuis, hetsy deur kontant- of ander skenkings, of vriendskapsbesoeke aan die 97 bejaardes. Die sentrum het sedert einde verlede jaar etlike maande se onsekerheid beleef nadat dit deur die departement van maatskaplike ontwikkeling onder administrasie geplaas is. Die leisels is in Mei weer onder sekere voorwaardes aan die beheerraad oorhandig en dit is gevolg deur Williams se aanstelling ongeveer twee maande gelede. Hy sê daar is baie werk en het begin met die opknapping van die geboue, maar hulp van die publiek word benodig om al hul planne, wat ongeveer R1 miljoen sal kos, deur te voer. Die sentrum het tans drie inkomstestrome, naamlik 'n regeringsubsidie, fondsinsamelingsprojekte, en die inwoners se Sassa-pensioene (90% van die pensioene word deur die sentrum gebruik en inwoners hou 10% vir persoonlike gebruik). In stede van kontant, kan mense ook boumateriale soos teëls en verf skenk of bloeddrukmeters, kostrollies, gordyne en gordynrelings, asook items soos seep en tandepasta. Die sentrum vind reeds baat by die welwillendheid van die gemeenskap. Groenkloof George het onlangs sowat twee dosyn tweedehandse mediese beddens geskenk, en duursame gordyne en prente van Fancourt helder die eetsaal op. 'n Oefenkamer met geskenkte oefenapparate word tans ook geherorganiseer sodat inwoners nut daarvan kan hê. Williams se planne sluit verder in die skep van 'n afdeling vir psigiatriese gevalle en geakkrediteerde opleiding vir personeel. Inwoners het ook intellektuele stimulasie en aandag aan hul emosionele behoeftes nodig. "My visie is dat besighede of individue 'n inwoner sal 'aanneem' en borg, ondersteun en besoek. Ek nooi ook skole uit om inisiatief te neem en ons bejaardes gereeld te kom besoek." Bel die Rosemoor-tehuis by 044 871 1342 vir meer inligting. 'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/173969/Ouetehuis-vra-ondersteuning
2016-10-10 11:00:00
Wil jy 'n gedeelte van jou plaas verkoop? - kry eers toestemming
EIENDOM NUUS - Jy wil 'n gedeelte van jou plaas verkoop, maar wat sê die wet? Kry eers toestemming voor jy jou kuikens tel. Jou vraag is? "Met die voortslepende droogte kan ek nie meer bekostig om al my plaasbedrywighede te bestuur nie, en sal ek graag 'n gedeelte van my plaas wil verkoop. Soos ek dit egter verstaan, mag ek nie my grond onderverdeel nie. Wat is die regsposisie hieromtrent, en is daar enige manier waarop ek dit wel kan doen?" Die onderverdeling van landbougrond is 'n tydrowende, duur en dikwels uitdagende oefe-ning, wat boonop ook gereeld onsuksesvol is. Dit kan toegeskryf word aan die bepalings van die Wet op die Onderverdeling van Landbougrond van 1970 (die Wet) wat uitdruklik die onderverdeling van landbougrond verbied om te verhoed dat sodanige grond verdeel word in kleiner, on-ekonomiese dele. Die Wet bepaal dat landbougrond slegs onderverdeel mag word as die minister van landbou (die minister) daartoe instem, inaggenome dat aansoeke om sodanige toestemming duur is, twee of drie jaar kan neem om geprosesseer te word, en dikwels onsuksesvol is. Die Wet bepaal ook dat "geen gedeelte van landbougrond verkoop mag word of as te koop geadverteer mag word nie" tensy die minister alreeds skriftelike toestemming gegee het vir die grond om in kleiner dele onderverdeel te word. Vir die laaste bykans 40 jaar is verskeie po-gings aangewend om die streng beperkings van die Wet te omseil. Aanvanklik is die definisie van wat "verkoping/verkoop" beteken, nie in die Wet ingesluit nie. Dienooreenkomstig is kontrakte opgetrek waarin gedeeltes van landbougrond onderhewig aan 'n opskortende voorwaarde verkoop is. Hiermee 'n eenvoudige voorbeeld: "Dié gedeelte van die grond is aan X verkoop, onderhewig aan die goedkeuring van die minister." Die redenasie agter hierdie strategie was dat tot tyd en wyl die minister instem tot 'n onderverdeling, 'n verkooptransaksie tegnies nie bestaan nie. In 1981 is die Wet egter gewysig deur die invoeging van 'n definisie van 'verkoop', wat verko-pings gebaseer op opskortende voorwaardes ingesluit het. Ten spyte hiervan, is kontrakte steeds opgetrek onderhewig aan spesifieke opskortende voorwaardes, totdat die Appèlhof in 2003 uitspraak gelewer het wat uitdruklik bepaal dat die opskortende voorwaardes verbied word deur die Wet. In nog 'n poging om hierdie toenemend beperkende verbod aan te spreek, is 'n praktyk ontwikkel waardeur bindende opsies om te koop aangegaan is tussen die verkoper en voornemende koper. Die gedagte daaragter was dat, sou die Mini-ster ooit die onderverdeling toestaan, die verkooptransaksie kan voortgaan, maar dat die voornemende koper in die tussentyd 'n bedrag geld kan oorbetaal ten opsigte van die bepaalde gedeelte van die grond, en dit vir sy eie doeleindes gebruik. Die oortuiging was dat hierdie 'n wettige strategie was om die definisie van "verkoping" soos ingesluit in die Wet aan te spreek. In 2015 het die Appèlhof, in die saak van Four Arrows Investments 68 (Pty) Ltd v Abigail Construction CC and another, bevind dat sodanige kontrak bewoord is as 'n verkoping van onroe-rende eiendom, en ongeag die feit dat die kontrak bepaal het dat dit beskou word as 'n opsie om die onroerende eiendom te koop, moes substans bo die vorm van die bewoording oorweeg word. In hierdie geval, het die kontrak bepaal dat die koper voorlopig die prys moes betaal, en is geen voorsiening vir terugbetaling gemaak sou die koper nie hierdie opsie uitoefen nie. Wat die substans betref was dit duidelik dat die partye beoog het om die eiendom te verkoop, hangende die Minister se toestemming. Dienooreenkomstig, het die hof bevind dat hierdie praktyk neergekom het op 'n poging om 'n gedeelte van die landbougrond sonder die minister se toestemming te verkoop – en is dit onwettig verklaar. Dié uitspraak klaar die regsposisie op, en stop in effek enige poging om die bepalings van die Wet te omseil. Dit beteken ook dat sonder die Minister se toestemming, jy nie 'n gedeelte van grond wat as landbougrond beskou word, kan verkoop nie. ARTIKEL: OOSTHUIZEN, MARAIS & PRETORIUS INC 'Ons bring jou die nuutste Hessequa, Tuinroete, Klein Karoo nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/Southern-Cape-Property/175222/Wil-jy-n-gedeelte-van-jou-plaas-verkoop--kry-eers-toestemming
2016-10-27 17:00:00
Raadslede se bakleiery nou by polisie
Raadslid Gert Niehaus (middel) poseer tussen twee mede DA-raadslede vir die foto. "Hier is my body guards," het hy op 'n ligte noot aan Jean Saffers (links) en Sean Snyman (regs) gesê. Foto's: Michelle Pienaar GEORGE NUUS & VIDEO - Twee DA-raadslede se stryery oor parkering is vandeesweek tydens 'n spesiale raadsvergadering verder aangeroer. Met die aanvang van die spesiale raadsvergadering Maandag 24 Oktober het die ANC waarnemende hoofsweep Piet van der Hoven gevra of die saak deur die George-raad ondersoek word. George DA-raadslid Gert Niehaus is verlede Maandagoggend na bewering deur 'n mede-DA-raadslid, Johan Stander, oor 'n parkeerplek aangerand. Die voorval het in die area voor die burgemeesterskantoor op die tweede vloer van die George-munisipaliteit plaasgevind. Niehaus het intussen 'n klag van aanranding en crimen injuria teen Stander by die polisie ingedien. Van der Hoven het sy verbasing uitgespreek oor die George-speaker Iona Kritzinger se verduideliking dat sy nog nie al die inligting oor die saak het nie. "Die saak is sub judice, ek het nog nie al die verslae ontvang nie," het Kritzinger gesê. Sy het by navraag gesê sy kan haar nie uitlaat oor 'n saak waarvan sy nog nie al die inligting het nie. Die voorval word tans op provinsiale vlak ondersoek. Van der Hoven is van mening dat die Speaker die saak moet ondersoek. "Die voorval het plaasgevind binne die gebou van die munisipaliteit," het hy gesê. "Dit het nie plaasgevind in die DA-kantore nie. Ons wil hê die speaker moet 'n ordentlike ondersoek doen en dit aan ons rapporteer so gou as moontlik." PBI-leier Virgill Gericke het sy teleurstelling oor die voorval uitgespreek. "In terme van die gedragskode vir raadslede is die speaker van die raad verplig om op te tree," het hy gesê. Gericke het 'n beroep gedoen dat Stander van die burgermeesterkomitee geskors word en sy posisie vakant verklaar word. Stander was nie Maandag by die raadsvergadering nie. Hy verteenwoordig die George-munisipaliteit as portfeulje-raadslid vir siviele ingenieurswese by 'n weeklange Imesa-konferensie (Institute of Municipal Engineering of Southern Africa) in Oos-Londen. Kyk na 'n video hieronder waarin die ANC en PBI hul opinies lug: Direkteur van elektrotegniese dienste Kevin Grunewald het as munisipale bestuurder waargeneem by die spesiale raadsvergadering Maandag 24 Oktober. In die 'warm stoel' is George-speaker Iona Kritzinger. ARTIKEL, VIDEO EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/175009/Raadslede-se-bakleiery-nou-by-polisie
2016-10-25 12:00:00
Duisende studente wat studiegeld betaal het, klasse bygewoon het en niks afgebreek of aan die brand gesteek het nie gaan waarskynlik nie aan die einde van die jaar kan eksamen skryf nie. Die toekoms van die huidige akademiese jaar by verskeie universiteite is op die oomblik maar bra somber. As daar iewers in die land iemand is wat nog nie weet dat ons universiteite in ‘n reusekrisis gedompel is nie is dit seker ‘n outjie iewers in ‘n bos met geen toegang tot ‘n selfoon of ‘n radio nie. Betogende studente, stukkende geboue, brandende bande en selfs poefstrooiers is nou reeds alledaags en elkeen wat dit sien en hoor het ‘n eie reaksie en dit gons op sosiale media. Elke Facebook-gebruiker is skielik ‘n kenner op die terrein van openbare geweld en openbare polisiëring en skroom nie om hulle kennis en oplossings met almal te deel nie. Ten spyte van my voorneme om nie op sulke Facebook-plasings te reageer nie kon ek myself ‘n week gelede nie keer nie. Iemand het as oplossing vir die studentegeweld voorgestel dat al die “voorbokke” met skerppuntammunisie bokveld toe gestuur moet word. Ek was verbyster deur die steun wat die voorstel geniet het. Die ‘soldaat’ in verskeie mans van my portuurgroep het oënskynlik skielik agter hul rekenaars op aandag gespring, gesalueer en mekaar in gemeenskaplike kameraderie aangespoor met wekroepe soos, “Kom ons neem die wapen op en vat die land terug.” Wat ‘n vreemde en abstrakte idee? Wie, het ek gewonder, is die ‘ons’ en wie of wat is die gemeenskaplike vyand wat oorwin moet word en van wie die land dan nou teruggevat moet word? Niemand kon my sê nie en ek het my skielik in ‘n Facebook-wêreld bevind wat voor 1994 afspeel; ‘n Wêreld van ‘ons’ en ‘hulle’ en ek moet erken ek was verstom toe ek besef sommige mense se insig en uitsprake het in 22 jaar bitter min verander. Ek wil waag om te sê dat dit wat tans by universiteite gebeur baie dieper lê as bloot ‘n kwessie oor gratis universiteitsopleiding. Net so glo ek is daar ‘n baie dieperliggende rede vir mense se kommentaar wat gewelddadige optrede as ‘n oplossing voorstel. Ons kan nie die feit dat ons land uit ‘n multi-kulturele samelewing met ‘n geskiedenis van onderdrukking en minagting bestaan nie. Die pad wat ons sedert 1652 geloop het, die beloftes wat gemaak is voor 1994, die verwagtinge en gepaardgaande ontnugtering van mense en die vrese wat andere beetgepak het is onlosmaaklik deel van ons. Dit gaan dekades en dekades neem om dit aan te spreek en om op die ingewing van wyn of waan na wapens te gryp en sogenaamde voorbokke af te maai gaan die probleem tienvuldig vererger. DEUR: HANNES VISSER
http://www.georgeherald.com/viewblog/1650/Fooie-staan-wyl-die-gemeenskap-val
Kommer oor dorp se bome
Die voëlent in 'n boom in Camphersdriftweg lyk soos groot voëlneste. Volgens Priscilla Bugoyne, is hierdie boom gesond. Hy bot laat weens die koue weerstoestande. Foto: Alida de Beer GEORGE NUUS - Voëlent kan die voortbestaan van George se bome bedreig. Só sê Tinus Nortjé, 'n inwoner wat sy kommer met die George Herald gedeel het nadat die munisipaliteit se parke-afdeling nie met hom wou saamstem toe hy die kwessie onder hulle aandag gebring het nie. Voëls eet die voëlent se saad en dit word dus oral waar hulle mis, agtergelaat. Volgens Jeffrey Sass, 'n bosbouer van die Knysna-kantoor van die bosboudepartement, het die twee tipes voëlent wat in ons streek voorkom oor die algemeen nie 'n groot effek op bome nie. In die woude word dit nooit verwyder nie. Bome in 'n stadsomgewing verkeer egter onder heelwat meer stres en voëlent kan 'n potensiële bykomende stresfaktor wees. Voëlent se kiemwortel groei deur die bas tot in die cambium (basvate wat water en voedingstowwe vervoer) vanwaar dit kos en water opsuig. Volgens Sass is dit moeilik om voëlent te verwyder omdat die wortel saam met die plant uitgehaal moet word. "Die wortel word so deel van die boom dat 'n mens nie eintlik kan sien waar dit groei nie. Die geaffekteerde boomtak kan seker afgesaag word as jy wil verseker dat dit heeltemal verwyder is, maar daar is natuurlik nog altyd die voëlmis met saad wat steeds op die boom agterbly." Die George-munisipaliteit se parke-afdeling het in reaksie op die koerant se navraag gesê, "Voëlent is 'n hemiparasiet en dit parasiteer slegs gedeeltelik op die gasheerplant. Dit word nie gesien as 'n ernstige bedreiging nie, maar sal oor tyd aandag geniet net soos in die verlede. Voëlent is al meer as 50 jaar in George." Vir Nortjé is die munisipaliteit se uitgangspunt onaanvaarbaar. Hy sê verskeie bome in Davidsonweg, Camphersdriftweg en Wellingtonstraat is besig om deur voëlent benadeel te word en van die bome vrek. "Die voëlent is besig om teen 'n vinnige tempo te versprei en oor 10 jaar gaan al ons mooi bome soos dié in Camphersdriftweg lyk," sê hy. Die kurator van die herbarium van die Botaniese Tuin, Priscilla Burgoyne sê 'n parasiet sal nie sommer sy gasheer doodmaak nie. "Daar is gewoonlik 'n balans in die afhanklikheid van die gasheer, anders vrek die parasiet ook." Ná 'n besoek aan Camphersdriftweg het sy gesê die bome daar is gesond. Volgens haar is voëlent nie die oorsaak van die swak toestand van die geelhoutbome in Wellingtonstraat nie. Geelhoutbome word nie deur die parasiet geaffekteer nie. Sy beaam Sass se mening dat stadsbome onder stres verkeer en grondkompaktering asook harde oppervlaktes soos teer of plaveisel lei daartoe dat bome minder kos en water kry. ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/174271/Kommer-oor-dorp-se-bome
2016-10-12 16:00:00
Bullrun pret bring die trofee na die Wes-Kaap
Die Dusty Sprockets. NASIONALE NUUS - Tydskrifte, koerante en aanlyn berigte het die afgelope week gegons oor die 2016 WegRy Bullrun stofpad rally en pan fun, wat 6-8 Oktober in Vosburg (Noord-Kaap) plaasgevind het. Die Herald het ‘n eksklusiewe onderhoud met die wenners en naaswenners gehad en bietjie dieper gaan delf. Die Bullrun 2016, eerste plek is gevat deur Jan en Anél Burger met hul 1968 Fordoffpolisiekar-Fairlane. Hulle hou die Bullrun wisseltrofee en het die offisiële spogregte (bragging rights) vir die volgende jaar. Daar was 147 spanne wat deelgeneem het hierdie jaar. Die Burgers is van die Kammanassie en die 2016 was hul eerste deelname aan die WegRy Bullrun. “Wat ‘n ongelooflike belewenis...” het Burger gesê. Die ’68 Ford Fairlane was Jan Burger se pa se motor wat hy in 1973 uitgekoop het by Welkom se speurtak vir R630-00. Aanvanklik wou Burger glad nie met sy erfstuk deelneem aan die Bullrun nie en het die paartjie besluit om ‘n ou motor te soek wat minder sentimente sou hê. “Dit het so bietjie armdraai en oorweging gekort, maar eventueel het Jan ingestem dat die Fairlane (Vegskip X) kon dien as die Fordoffpolisiekar,” vertel Anél opgewonde. Die Fairlane het die afgelope 14 jaar net as ‘n “memory” in die stoor gestaan, “...selfs die bande was nog dieselfde bande wat Pa Jan laat opsit het destyds.” So herleef herinneringe en word deel van ‘n nuwe avontuur. Selfs die ou Fairlane het kans gekry om ordentlik keel skoon te maak en ou stof af te skud. Jan het weer met ‘n glinster in sy oog, stories gedeel aan mede Bullrunners van hoe hy en Pa Jan ou tjorre opgebou en heel gemaak het. Na die aankondiging van die wen is Ma’s en familie gebel en gewassap en het verbasing, ongeloof en trane ‘n ou hoofstuk op ‘n hoë noot afgesluit en omgeblaai vir ‘n nuwe hoofstuk van Burger en die ’68 Fairlane. Bullrunners word punte toegeken deur organiseerder Gerrie van Eeden en sy WegRy span asook Marshalls tydens die Bullrun. Die voertuig verdien ‘n punt (“score”) op grond van ouderdom (ouer as 1980) en optrede (“performance”) en punte vir spangees en afsonderlike items word dan noukeurig opgetel en uitgewerk tydens deelname. Die stofpad rally was oor ‘n gesamentlike afstand van 230km om Vosburg. Die ondersteunerspan van die Fordoffpolisiekar was Hendrik en Rene Naude (Kammanassie), Nico en Juliet De Waal en Christa Boshoff van Knysna. “Sonder ondersteuning asook belangstelling van borge sou die deelname en wen nie moontlik gewees het nie” stem al die lede van Fordoffpolisiekar saam. Dankie aan al die belangstellendes en borge! JP Spares, Hereford Group George, Propshaft Engineering, Carlu Trekkers, Ferrobrake, TI Paint en Craig albei van Knysna. Asook vriende wat langs die kantlyn dopgehou en geskree het. Die tweede plek is gewen deur Rudi Van Wyk en sy spanmaat Christo Bakkes, albei van Humansdorp. Hul span, Datskar se tema is Dakar en daarvolgens “gepimp”. Hul ondersteuner span was Pieter Cawood, Pierre du Plessis, Carel Bakkes en Jaco Malan, almal van Humansdorp behalwe Jaco van Patensie. Datskar het in 2014 vir die eerste keer aan die Wegry Bullrun deelgeneem en neem toe in hul 3de jaar die 2de plek in die kompetisie. Die Bullrun het ‘n ongelooflike positiwiteit en kamaraderie onder deelnemers wat van regoor SA opdaag. Albei spanne het aangedui dat hulle gaan kontak hou en volgende jaar die stofpad dalk selfs saam sal aandurf na Vosburg vir die 2017 Wegry Bullrun. Die Bullrun 2016, eerste plek is gevat deur Jan en Anél Burger met hul 1968 Fordoffpolisiekar-Fairlane. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Other/174557/Bullrun-pret-bring-die-trofee-na-die-WesKaap
2016-10-18 12:00:00
Verligting vir verarmde skuldenaars
Generiese foto. GEORGE NUUS - 'n Beslissing van die konstitusionele hof in September oor besoldigingsbeslagleggingsbevele gaan 'n belangrike impak hê op die lot van veral weerlose, verarmde skuldenaars. Dit is volgens Mathilda Rosslee, koördineerder vir 'n finansiële geletterdheidsprojek van die Universiteit Stellenbosch se Regshulpkliniek. 'n Besoldigingsbeslagleggingsbevel is 'n opdrag van die hof ingevolge waarvan 'n werkgewer geld van 'n werknemer se salaris kan aftrek om aan 'n skuldeiser oor te betaal. Die konstitusionele hof het beslis dat so 'n bevel slegs deur 'n landdros uitgereik kan word en nie meer deur 'n klerk van die hof soos die praktyk was nie. Verder moet die landdros 'n tweeledige toets toepas: Eerstens dat dit billik en regverdig is om die bevel uit te reik, en tweedens dat die bedrag wat van die persoon se salaris verhaal word, toepaslik en vir hom/haar bekostigbaar is. "Dit bring revolusionêre verandering in die Suid-Afrikaanse regs- en kredietindustrie se skuldinvorderingspraktyke mee," het Rosslee aan die George Herald gesê. 'n Aansoek wat die Regshulpkliniek in 2014 gebring het namens 15 skuldenaars wat beslagleggingsbevele teen hul lone gehad het, het gelei tot 'n uitspraak verlede jaar deur regter Siraj Desai in die Wes-Kaapse hooggeregshof dat twee artikels in die Wet op Landdroshowe strydig is met die Grondwet, en ongeldig is deurdat dit nie geregtelike oorsig verleen met die uitreiking van die bevele nie. In Maart vanjaar het die konstitusionele hof 'n aansoek aangehoor vir die bekragtiging van regter Desai se uitspraak, asook 'n aansoek om verlof tot appèl deur twee skuldinvorderingsliggame, Flemix & Associates en die Vereniging van Skuldinvorderingsagente (Adra). "Die grootste impak van die uitspraak is op weerlose Suid-Afrikaners wie se grondwetlike regte, veral hul reg tot toegang tot 'n regverdige verhoor, voorheen teengestaan is," volgens Rosslee. Sy het dit verwelkom en gesê die kliniek hanteer tallose gevalle waar onbillike besoldigingsbeslagleggingsbevele toegestaan word. Die konstitusionele hof het ook regter Desai se beslissing bekragtig dat 'n landdroshof in die omgewing waar die persoon woon of werk, genader moet word vir die uitreik van so 'n bevel. Tot op hede is baie bevele deur vêrafgeleë howe uitgereik, tot nadeel van die skuldenaar. Felicia Spangenberg, 'n assosiaat van Millers Ingelyf in George, het die veranderings aan die een kant verwelkom omdat dit 'n billike uitkoms vir die publiek bewerkstellig, maar het gesê in die praktyk kan die gevolg vir regslui die teenoorgestelde effek hê. "Dit sal al moeiliker raak om so 'n bevel te bekom, want hofrolle is vol en dit sal afhang van die beskikbaarheid van 'n landdros. Dit sal ook beteken dat die prokureur die finansiële posisie van die skuldenaar eers behoorlik sal moet navors en al die relevante inligting aan die hof openbaar, alvorens die relevante regshulp verkry kan word. "Die praktyk wys dat die skuldenaar baie min of geen samewerking gee nie, en dit kan dus dan 'n onbegonne taak word." Sy het gesê dit moet egter nie beskou word dat invorderings onmoontlik sal wees nie. "Indien krediet nie roekeloos toegestaan word nie, behoort die invordering daarvan 'n positiewe resultaat teweeg te bring." ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/173670/Verligting-vir-verarmde-skuldenaars
2016-10-05 10:00:00
Items nodig vir veiling vir kankerlyer
Anja van Niekerk GEORGE NUUS - Skenkings van goedere wat opgeveil kan word word benodig om die plaaslike kankerlyer Anja van Niekerk, te help om haar mediese onkoste te dek. Van Niekerk moet dringend 'n beenmurgoorplanting kry en 'n oorsese skenker is gevind. Die koste vir slegs die beenmurg beloop meer as R300 000. Van Niekerk het reeds honderde duisende rande se mediese onkoste gehad sedert sy in 2013 met leukemie gediagnoseer is. 'n Aantal goedere gaan nou elke tweede naweek gehou word om geld vir haar in te samel. Die veilings sal elke tweede Saterdag by Tradesman Auctions plaasvind. Die eerste veiling is reeds die afgelope naweek gehou en die volgende een is op Saterdag 22 Oktober om 10:00. Enige skenkings van items wat opgeveil kan word, is welkom. Goedere kan afgegee word by Tradesman Auctions se veilingslokaal in Foundryweg. Mense wat dalk 'n bakkievrag vol goedere het of 'n groot item wat hulle nie self kan vervoer nie, kan vir Suzette bel by 084 308 5500. Vir meer inligting oor geldinsameling vir Van Niekerk, besoek die Facebook-blad, Die Bloed in my Are. Klik hier vir vorige artikels: 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/174082/Items-nodig-vir-veiling-vir-kankerlyer
2016-10-11 11:00:00
Glenwyne Vaaltyn skitter vir Evergreens
Die Evergreens-flank Buran Parks (links) en Clint Miller (linkervleuel) was twee van hul span se groot uitblinkers Saterdagmiddag in Windhoek. GEORGE NUUS - RSK Evergreens het rede om breëbors rond te loop nadat hul Saterdagmiddag vir FNB Wanderers in Windhoek met 35-27 geklop het. Evergreens het 4 pragdrieë gedruk en verdien om te wen. In hul laaste drie wedstryde in die gewilde Goue Beker-rugbykompetisie van SARU het hulle vol punte oorwinnings behaal, wat weereens bewys is dat klubrugby kerngesond is in die Suid-Kaap en dat hulle met die beste spanne in die land kan kompeteer. Die finale puntestand in Groep B van die kompetisie is: Rustenburg Impala 20 punte en punteverskil (+95), Evergreens 15 punte en punteverskil (-6), Pirates 11 punte en punteverskil (-1), FNB Wanderers Windhoek 9 punte en punteverskil (-2), Northam Platinum Rhinos 3 punte en punteverskil (-86). Die vonke kan Saterdagmiddag om 15:00 behoorlik spat wanneer Evergreens die klubkampioen van die Westelike Provinsie, Durbanville-Bellville, op sy tuisveld in 'n kwarteindronde wedstryd pak. Die span wat die knoop gaan deurhak gaan in die halfeindronde van die kompetisie speel. Die wenspan sal op Saterdag 22 Oktober vir die wenner in die wedstryd tussen Pretoria-polisie en Direct Axis Valsbaai die stryd aansê. Micro Geduld, skakelbeampte van RSK Evergreens, het Saterdagmiddag na die wedstryd aan die George Herald gesê: "Die wedstryd het teen 'n hoë tempo begin, want albei spanne het geveg vir 'n plek in die kwarteindstryd. My span verdien 'n pluimpie vir hul terugvegpoging in die tweede helfte nadat die manne van Windhoek rustyd nog met 12-11 voor was. "Ons sterk vasskopstut, Glenwyne Vaaltyn, het die manne van Namibië laat kreun in die skrums. Hy het sy beste wedstryd van die seisoen gespeel en is beloon as speler van die wedstryd. Lostrio, Gurschwin Muller, Freginald Africa en Buran Parks, het die losspel oorheers. "Agterlangs was C-Than Moos (losskakel) en Deon Moos (binnesenter) rotsvas op die verdediging. Dwayne Smart (regtervleuel) en Leegan Moos (heelagter) was altyd gevaarlik met die bal in die hand. Moos het ook 15 punte met die skoen aangeteken." RSK Evergreens 35(11): Drieë: Buran Parks (flank), Clint Miller (linkervleuel), Freginald Africa (flank, 2). Doelskoppe: Leegan Moos (heelagter, 3). Strafdoele: Moos (3). Freginald Africa (flank) het twee keer gaan druk vir Evergreens in die Goue Beker-rugbykragmeting teen FNB Wanderers in Windhoek. 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus' Durbanville-Bellville, wat onoorwonne was en bo-aan die punteleer in Groep A geëindig het met 19 punte en 'n punteverskil van (+88), gaan in Kaapstad 'n harde neut wees om te kraak. Bellville, wat tans die topklubrugbyspan in Suid-Afrika is, het verlede jaar in die CellC Gemeenskapsbeker-kompetisie finaal vir Rustenburg Impala geklopPuntemakers:
http://www.georgeherald.com/news/Sport/Rugby/174332/Glenwyne-Vaaltyn-skitter-vir-Evergreens
2016-10-13 10:00:00
Partye steek stok in DA-begrotingswiele
Dié raadslede was nie lus vir die DA se planne nie: Gert van Niekerk (VF Plus), Johann du Toit (ACDP), Virgill Gericke en Pat Buys (PBI) en Piet van der Hoven (ANC). Foto's: Michelle Pienaar GEORGE NUUS - Werksverpligtinge en die dood is van die redes waarom te min George DA-raadslede Maandag beskikbaar was om 'n belangrike verslag tydens 'n spesiale raadsvergadering goed te keur. Die ANC, PBI, VF Plus en ACDP het die raadsaal verlaat net voor die kwartaalikse moniteringsverslag vir die munisipale begroting ter sprake sou kom. Dié verslag gee 'n oorsig van die munisipaliteit se begrotingsprestasie van Julie tot September, en moet voor die einde van Oktober deur die raad goedgekeur word. Die vergadering is geskuif na Maandag 31 Oktober. Tydens vandeesweek se vergadering was 24 DA-raadslede teenwoordig, maar 27 raadslede is egter nodig vir 'n kworum. Die George-raad het altesaam 29 DA-raadslede, waarvan twee onlangs oorlede is. Nog 'n raadslid, Johan Stander, is in Oos-Londen vir 'n konferensie. In 'n poging om die saak te beredder het die AIC en EFF besluit om die DA te probeer help om 'n kworum te bekom, maar sukses was steeds een stem weg en die vergadering is verdaag. Die waarnemende ANC-sweep, Piet van der Hoven, het gesê die DA wil die partye slegs as 'n rubberstempel gebruik. "Ons gaan dit nie toelaat nie," het hy gesê. "Daar is groot kwessies in die gemeenskap wat nie bespreek word nie, hulle stel net belang in 'n skoon oudit." PBI-leier Virgill Gericke was ontevrede dat die partye nie 'n kans gehad het om 'n item op die agenda te plaas nie. "Hierdie item moes eerder op 'n gewone raadsvergadering gedien het," het hy gesê. George-burgemeester Melvin Naik het die AIC en EFF bedank dat hulle bereid was om tot die raad se redding te kom. * The quarterly budget monitoring report for George municipality will feature again next Monday 31 October as an item at a second special council meeting, since the DA couldn't reach a quorum during a meeting on Monday. The AIC and EFF supported the DA in council but a quorum of 27 votes evaded council with one vote. AIC-raadslid Abel Kiwit (agter) en EFF-raadslid Laetitia Arris het die DA ondersteun in hul poging om 'n kworum te bekom vir 'n item wat voor die einde van die maand goedgekeur moet word. Dié raadslede was nie lus vir die DA se planne nie: Gert van Niekerk (VF Plus), Johann du Toit (ACDP), Virgill Gericke en Pat Buys (PBI) en Piet van der Hoven (ANC). Foto's: Michelle Pienaar ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/Politics/175166/Partye-steek-stok-in-DAbegrotingswiele
2016-10-27 09:00:00
"Sy beskou ons nie as atlete nie; sy beskou ons as haar kinders...," het Wayde van Niekerk gesê. Dit was 'n groot oomblik vir Suid-Afrika toe Wayde die 400m goue medalje op die Olimpiese Spele gewen het. Maar nog groter was die verbasing toe die media openbaar maak dat die persoon agter Wayde se sukses 'n 74-jarige, tingerige "oumatjie" is, naamlik "tannie" Ans Botha! Die een wat eintlik die blink Audi R8-motor moes kry met Wayde se terugkoms in SA was eintlik sy (of ten minste die helfte daarvan!) Sy was van 1990 die hoofbaan- en veldafrigter aan Kovsies. Laat in 2012 het Wayde haar genader om hom af te rig. Ans self was effens lugtig vir die uitdaging. Maar ook opgewonde oor die vooruitsig om 'n atleet van wêreldgehalte af te rig. Wayde het gereeld met beserings gesukkel en sy gunstelingitem, die 200m, het as gevolg daarvan in die stof gebyt. Die 400m was die beste manier waar hy sy naelloopspoed met minder pyn kon kombineer. "Wanneer ek hom vertel wat hy moet doen, kla hy nooit..." vertel Ans. Sy sê ook daar is talle kere wanneer Wayde werklik swaarkry, maar dan is sy antwoord: "Ek weet wat ons drome en doelwitte is en ek sal doen wat jy my sê om te doen..." Wayde kon maklik geredeneer het, "... wat kan hierdie tingerige ou vroutjie my tog leer?" Maar gelukkig was hy nederig genoeg om haar hulp in te in te roep. Dit het sy lewe vir altyd verander... Mordegai was die 'tannie Ans' in Ester se lewe. Hy was haar mentor en raadgewer. Haar oom het haar mooi voorberei vir die 'kampioenprys' van destyds naamlik om die koningin van die magtigste ryk op aarde te word. Gelukkig was sy ook nederig genoeg om die advies van haar 'ou oom' te aanvaar. Dit het ook haar lewe en die van duisende ander van haar landgenote onherroepelik verander... Kom ons gee vir Wayde al die eer wat hy verdien. Dit is 'n baie groot prestasie wat hy behaal het. Maar kom ons vergeet ook nooit vir 'tannie Ans' wat dit moontlik gemaak het. Méér nog - kom ons probeer om die 'tannie Ans' in ander se lewens te wees deur wyse raad, liefde en belangstelling te gee op die regte tyd. In elkeen van ons se lewens is daar hoë impak mense wat 'n groot verskil kan maak as ons nederig genoeg is om hulle raad te aanvaar. Salomo verklaar - "Waar daar nie beraadslaging is nie, slaag planne nie..." (Spreuke 15:22)
http://www.georgeherald.com/viewblog/1654/Probeer-om-die-tannie-Ans-in-ander-se-lewens-te-wees
9de Bush Lapa Musiekfees lok weer grotes
KD Fourie (links), eienaar van Herold's Bay Resort en stigter van die Bush Lapa Musiekfees, en Servaas de Kock, Group Editors se bemarkingshoof, met die mooi uitsig van Down to Earth Venue & Restaurant in die agtergrond. Foto: Alida de Beer SUID-KAAP NUUS - Die jaarlikse Bush Lapa Musiekfees lok komende Desember vir die negende jaar in 'n ry van die land se voorste Afrikaanse kunstenaars na Georgiete se voorstoep. Agt vertonings word van 19 tot 31 Desember aan musiekliefhebbers opgedis by die Bush Lapa naby Heroldsbaai. KD Fourie, eienaar van die Herold's Bay Resort en stigter van die fees, belowe dat hulle weer hul reputasie vir topvermaak gestand gaan doen. "Mense kan solank die datums aanteken. Ons maak die feesprogram volgende week bekend en dan sal die kaartjies ook beskikbaar wees." Servaas de Kock, Group Editors se bemarkingshoof, sê die George Herald het besluit om weer as mediaborg by die fees betrokke te wees ná verlede jaar se sukses. "Mense moet hul kaartjies eerder vroegtydig koop as om uit te mis op so 'n wonderlike geleentheid. Baie het verlede jaar te laat wakker geskrik om kaartjies te bespreek en kon nie geakkommodeer word nie," sê De Kock. Die voorafvertonings sal grootliks deur plaaslike kunstenaars gelewer word om vir hulle ook die kans te skep om blootstelling te kry. Fourie sê die musiekfees het die Bush Lapa help vestig as een van die gunstelingverhoë onder die land se topkunstenaars. "Die lapa het gegroei van 'n eenvoudige 100-sitplekvenue in 2008, toe die fees die eerste keer aangebied is, tot 'n lokaal wat vir 500 gaste kan regstaan. Dit is 'n plaaslike inisiatief vir George en het ontwikkel in iets waarop ons voorwaar trots is. Georgiete kan die fees ag as een van sy eie. Spesiale kaartjiepakkette gaan vooraf aangebied word juis vir ons plaaslike ondersteuners." Die Bush Lapa is 'n intieme gesinsvenue waar die gehoor rondom tafels naby aan die verhoog kuier terwyl hulle smaaklike potjiekos of ligte etes kan geniet. Die Bush Lapa vorm deel van 'n groter prentjie, naamlik die Herold's Bay Resort, wat ook beskik oor 'n gastehuis (selfsorgeenhede) met bomabraaifasiliteite en die lieflike vlagskiplokaal, Down to Earth Venue & Restaurant met sy asemrowende uitsigte oor see, woud en Mosselbaai se liggies in die verte saans. Die oord (slegs 10 minute se ry van George af) is in 'n rustige, landelike omgewing met 'n plaasatmosfeer geleë. Gaste kan hul uitstappies na die musiekvertonings afskop met 'n skemerkelkie en selfs sappige biefstuk of vis by Down to Earth. Dit is daagliks oor die Desember-seisoen oop as restaurant vir ontbyt, middag- en aandetes. Die venue is ook bekend om sy korporatiewe, privaat en jaareindfunksies asook troues en konferensies, dinees en skemerkelkfunksies. "Ons ruim perseel leen hom tot groot byeenkomste, maar is ook intiem genoeg vir verjaardagpartytjies en informele kuiers. In die somer is buitelugfunksies 'n alternatief," sê Fourie. Sondagmiddagetes word aangebied in 'n ontspanne atmosfeer met lewendige agtergrondmusiek. Op Kersdag word 'n Kersete bedien. "Noddy, die hoofsjef, se smullekker kos laat twee woorde in 'n mens se gedagtes opspring: 'vars' en 'passie'. Ons personeel is vriendelik en diens uitstekend." Die Bush Lapa Musiekfees word nie gekenmerk deur 'n ongemaklike samedromming van mense nie. Daar is oorgenoeg ruimte en parkering en 'n joviale atmosfeer. Kaartjies se pryse wissel tussen R90 en R130. Kinders onder 10 betaal slegs R50 (slegs van toepassing op sekere sitplekke). Die deure open om 18:00 en dan is daar voorvertonings voordat die hoofkunstenaar om 21:00 optree. Ná die hoofvertoning kuier baie mense nog gesellig verder en word daar nog musiek gemaak. Vir meer inligting kontak Herold’s Bay Resort by 0448510113 of stuur gerus n e-pos na [email protected] ARTIKEL EN FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/175161/9de-Bush-Lapa-Musiekfees-lok-weer-grotes
2016-10-26 15:00:00
Hoe gemaak as jy die Nobelprys wen? Jy swyg. Veral as jy Bob Dylan is. Sedert dit verlede week bekend gemaak is dat die ikoniese sanger, liedjieskrywer en kunstenaar wat as een van die mees invloedryke musikante ooit beskou word, die Nobelprys vir letterkunde ingepalm het, het hy die nuus sonder 'n woord begroet. Die Sweedse Akademie het na wat berig word egter vir eers tou opgegooi om die sanger se teenwoordigheid by die toekenningsgeleentheid op 10 Desember in Stockholm te probeer bevestig. In kontras met Dylan se swye, hetsy uit stomme verbasing, stille waardigheid of uit tipiese anti establishment-protes, gons die wêreld van die kunste oor sy toekenning. Op 75, is Dylan die heel eerste liedjieskrywer wat dié gesogte toekenning ontvang. Veral skrywers voel dat sy lirieke darem nie dieselfde meriete het as sommige van sy mededingers nie. Hoe dit ookal sy, daar is 'n paar goed wat Dylan merkwaardig maak. Behalwe dat hy geassosieer word met van die wêreld se mees ikoniese liedjies, het hy die stormagtige sestigs oorleef en daarin geslaag om die vloek van die sogenaamde Club 27, wat verskeie van sy ewe talentvolle tydgenote, Janis Joplin, Jimi Hendrix en Jim Morrison geëis het, vrygespring. Club 27 verwys na minstens 20 kunstenaars, musikante en akteurs wat almal voortydig op 27-jarige ouderdom aan vergrepe of in fratsongelukke dood is. Dylan, gebore Robert Allen Zimmerman in 'n Joodse huis, het ten spyte van teenkanting en kritiek, openlik bekend gemaak toe hy die Christelike geloof aangeneem het. Boonop, toer hy feitlik ononderbroke sedert 1988. Sy Never Ending-toer het op June 7, 1988. Sedertdien het hy ongeveer 100 konserte jaarliks gehou gedurende die 1990's en 2000's. Teen Mei 2013, het hy en sy orkes by meer as 2 500 konserte opgetree. Dylan se stilswye ten spyt, het nie Hibbing High School waar hy skoolgegaan het van stryk gebring om te spog nie. "Congrats to Bob Zimmerman, Class of 1959 who received a Nobel Prize in literature," het 'n elektroniese kennisgewingbord buite die skool gelees. Dis hier waar 'n jong Dylan sy tande geslyp het. Die skoolhoof het destyds 'n optrede van Dylan se orkes kortgeknip omdat dit "too noisy" was. Hoe dit ookal sy, wie laaste lag, lag inderdaad die lekkerste (al is dit stilswyend). Wat probeer Dylan deur sy stilswye sê? Kan dit wees dat hy tevrede is met sy lewensreis tot dusver, met of sonder die Nobelprys? 'n Vriend uit sy kindertyd meen dat Dylan floreer het in 'n stabiele huis. Die man beweer Dylan was bevoorreg om 'n besonders liefdevolle moeder te hê. Op sy tiende verjaardag het Dylan 'n hartstogtelike gedig aan sy ma geskryf waarin hy die hoop uitspreek dat sy nooit sal oudword nie en het hy beken dat sonder haar liefde hy "dead and buried" sou wees. Is "Mamma" nie die soetse, mooiste naam op aarde nie? Maar soms tref die verantwoordelikheid daarvan 'n mens soos'n onverwagse vuishou. Die gewig van daardie titel word verswaar deur die woorde van Napoleon Bonaparte: "Die kind se bestemming is altyd die ma se werk." Knap gedaan, mev Zimmerman! En Bob... Silence is golden, of hoe?
http://www.georgeherald.com/viewblog/1653/En-die-wenner-is
Malherbe en Datsun skitter in tydren
In aksie tydens die Toyota Handelaarstydren. SUID-KAAP NUUS - Ettiene en Mauritz Malherbe, George se bekende tydrenspan, met hul ewe bekende Silverton Radiators 1974 Datsun 160 U SSS Koepee het geskitter in die onlangse Toyota Handelaarstydren in Kaapstad. Maar dit was nie net alles maanskyn en rose nie. Korrespondent Francois Germishuys het met Ettiene gesels oor sy deelname in tydrenne in 2016. Weens werkdruk en ander prioriteite het hy en sy seun Mauritz, wat ook sy navigator is, besluit om vanjaar net aan drie tydrenne deel te neem. Die eerste was die Baywest-tydren in Junie in Port Elizabeth. Die Datsun het goed gery en na twee sneldele was hulle onder die voorlopers. In sneldeel drie het hulle egter oorywerig geraak en in 'n draai wat skerper was as wat verwag is, is hulle taamlik vinnig van die pad af en is die stuurstelsel beskadig. Daar was nie `n geskeduleerde dienspunt na die sneldeel nie en hulle was verplig om sneldeel vier met die skade aan te pak. In hierdie sneldeel het die stuur egter erger geraak en in 'n skerp draai na links, het die Datsun aan 'n walletjie gehaak en op sy dak beland. Dit was die einde van die deelname in die tydren. Dit was egter 'n stadige oepsie en hulle het ongedeerd uitgeklim. Die probleem was dat dit 'n 42-jaar oue motor is met die voorruit bitter skaars. Na 'n gesprek met Paul van Wyk, self 'n tydrenjaer van formaat en eienaar van Accident Guru Paneelkloppers in Kaapstad, het Etienne besluit dat hulle die Datsun gaan regmaak. Die enjin is uitgehaal en die motor is Kaap toe gesleep vir die herstelwerk aan die bak. Intussen is die enjin op George herstel deur Barnies Enjinbouers. Vier dae voor die Toyota-tydren is die herstelde Datsun-bakwerk terugge-stuur George toe sodat die enjin gepas kon word. 'n Nuwe windskerm moes ook gepas word en al die panele teruggeplaas word - alles binne net vier dae! Nagte is ook deurgewerk. Na onderdele uit Johannesburg ingevlieg is, kon hy uiteindelik die Datsun net betyds op 'n sleepwa laai vir die pad Kaap toe. Vrydagoggend was die Datsun op Killarney-renbaan by Kaapstad gereed met sy nuwe plakkers om in die Historiese Klas deel te neem. In die eerste sneldeel was die hantering nie te waffers nie en het hulle verskeie kere getol. Die meer moderne Golfies en Toyotas het vir hulle weggery. Die twee ander sneldele was na donker en daar het dit beter gegaan. Die Saterdag het hulle van 'n redelike agterstand in die klas tot `n voorsprong van ongeveer 2 minute teruggeveg. Wéér was hulle bietjie oorgretig en het die Datsun amper gerol, twee pap wiele moes oorkom word en het dit hulle oorwinning in die klas gekos. Met al die teëspoed was dit egter 'n puik tweede plek in die klas en 'n skitterende negende plek algeheel teen baie meer moderne motors. Etienne se volgende tydren is die Heine Sport-tydren in Port Elizabeth. Hy het die tydren verlede jaar gewen. Hy wil net graag dankie sê aan: sy familie, Accident Guru - Paul, Brenton en almal wat die Datsun reggebuig het, Barnies Enjinbouers - veral Nico en Bennie, Gearbox & Diff Centre in Port Elizabeth, veral Thys, JP Spares - dankie aan Johnny, Willie's Paneelkloppers, Tiger Wheel & Tyre, Syrah Racing - Sydney, Francois Jordaan, Quintus Blom, Herman Neetling en oom George Keyter. Aan die toeskouers en ondersteuners in die Kaap en elders sê Etienne dit bly 'n voorreg om die Datsun te ry met sulke mense langs die roetes. Dankie ook aan sy diensspan: Arthur, Jacques en Sone. Sonder hulle, meen Etienne, kan hy maar by die huis bly. 'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo, Hessequa nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/Southern-Cape-Motoring/174308/Malherbe-en-Datsun-skitter-in-tydren
2016-10-14 13:00:00
Prince Albert Leesfees begin Vrydag
Avonturier-skrywer C Johan Bakkes se gesprek oor sy nuutste boek, Openbaring, is iets om nie mis te loop nie. SUID-KAAP NUUS - Dís Prince Albert Leesfees 2016 se vol program begin Vrydag met twee rymkletsers (Yoma en Die Hooflig), twee jeugskrywers (Anzil Kulsen en Suzanne Ongansie) en een akteur (Daniel Richards) wat met honderde leerders in The Showroom en die VGK-saal praat ook boeke, skryfkuns en die waarde van woorde. Die jeug word verder verryk met 'n skryfslypskool deur Anzil Kulsen 'n werksessie vir rymkletsers. Maar dis ook 'n fees vir ouer jongmense, soos vir die kortverhaalskrywer Jolyn Phillips (Tjieng, tjang, tjerries) en die performance poets Shirmoney Rhode (Nomme 20, Delphi Straat) en Gaireyah Fredericks (Kaaps is Hollands). Terselfdertyd ook vir die gesoutes – joernalis Marianne Thamm met haar Hitler, Verwoerd, Mandela and Me, saam met die ewe ervare Dennis Cruywagen, wie se jongste boek, The Spiritual Mandela, pas die lig gesien het. Behalwe vir bekende skrywers is dit ook belangrik om plaaslike talent bekend te stel: Vanjaar drie gewilde en welsprekende Karoo-skrywers - dr. David Piedt, skrywer en meningsvormer, Hannes Visser, koerantredakteur en digter/skrywer, en Suzanne Ongansie, onderwyser en skrywer. Die fees open Vrydagaand met die vertellings van dié drie se jeugjare en hoe dit hul skryfwerk beïnvloed, en hulle is in gesprek met Pieter Hugo, 'n direkteur van die Wes-Kaapse biblioteekdienste en 'n digter in eie reg. Een van vanjaar se groot trekpleisters is die radiopersoonlikheid Margot Luyt wat Sondagoggend haar gunstelinggedigte voorlees saam met die ewe gewilde Diana Ferrus en Daniel Hugo, drie mense wie se lewe draai om die bevordering van Suid-Afrikaanse digkuns. Ook op die spyskaart is die bekende Carmen Niehaus, Huisgenoot se kosredakteur, Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker wat saam met Japie Gouws (ATKV-baas) aan die oudradio-omroeper Euna Wentzel gaan vertel hoe Kook saam Kaaps ontstaan het, en die Karoo-skrywer Sally Andrew, “moeder” van die Tannie Maria mysteries, wat gaan praat oor en voorlees uit haar Recipes for love and murder en The Satanic Mechanic. Sondagoggend gesels Hannes Visser met C Johan Bakkes (Openbaring) oor Bakkes se besoeke aan die wêreld se koudste en warmste plekke, Don Pinnock – skrywer en kriminoloog – gaan feite gee oor Kaapstad as bende-mekka (Gang Town), en Wium van Zyl en Judy Maguire gaan vertel wat Prins Albert, Gordonsbaai en die Rijksmuseum in Amsterdam gemeen het (Ontdekkingsreisiger of Soldaat). Die bekende skrywer en fliekkenner, Leon van Nierop, praat met die joernalis Carla van der Spuy (Mishandel, misbruik, misken) oor haar ervarings van mense in gevangenisse en haar ontmoeting met die dogter van die berugte kinder-ontvoerder Joey Haarhoff, asook met Martin Steyn wat, met die boek Swartval hom as een van Suid-Afrika se voorste spanningsromanskrywers gevestig het. Leon trek dan Sondagmiddag sy fliekbaadjie aan wanneer hy die gasheer is van die immergroen akteurs Johan en Lida Botha en die filmmaker Koos Roets, met Leon se boek Daar doer in die fliek as grondslag. Dis 'n naweek van luister, lees en ontspan in die geselskap van topskrywers, met 'n goeie boekwinkel en goeie kos (deur Johanna Luttig en Madri Rossouw)... kortom, drie dae waarin jy genoeg padkos kan kry om jou te dra tot die 2017 leesfees. Kaartjies: www.princealbert.org.sa/leesfees en Prins Albert-biblioteek, 023 5411 014. George Herald se susterpublikasie, Oudtshoorn Courant, is die trotse mediaborg van vanjaar se Prince Albert Leesfees. 'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'
http://www.georgeherald.com/news/Arts--Entertainment/Entertainment/175451/Prince-Albert-Leesfees-begin-Vrydag
2016-10-31 14:00:00
Een van die eerste dinge wat Jesus na sy opstanding gedoen het, was om die dissipels wat Hom so erg in die steek gelaat het, op te soek. "Gedurende die vroeë aand, op daardie eerste dag van die week, terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: 'Vrede vir julle!' Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien. 'Vrede vir julle!' sê Jesus weer 'n keer. 'Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook'" (verse 19-21 NLV). Tussen die groep was Petrus, wat op die water geloop het, wie se hande kos aan vyfduisend honger mense uitgedeel het, wat Moses en Elia langs Jesus op die Berg van Verheerliking sien staan het. Groot, moedige Petrus wat gesê het, '...Al laat almal U in die steek - ék sal dit nooit doen nie' (Matteus 26:33 NLV). Hy was ook nie die enigste een nie. '...Al die dissipels het dieselfde verklaar' (vers 35 NLV). Tog wys die rekord, 'Dit was toe dat almal Jesus net daar gelos het en gemaak het dat hulle wegkom' (Markus 14:50 NLV). Al die dissipels het Jesus in die steek gelaat toe hy hulle die nodigste gehad het. Tog het Jesus nie een keer daarna verwys nadat Hy weer opgestaan het nie. In plaas daarvan, het Hy sy hande en sy sy aan hulle gewys. Hoekom? Om hulle te wys dat Hy hulle liefhet, selfs ten spyte van hulle foute. In plaas daarvan om hulle te onterf, het Hy vir hulle gesê, '...Net soos die Vader my gestuur het, stuur Ek julle ook' (vers 21 NLV). Vandag sê Hy dieselfde vir jou.
http://www.georgeherald.com/viewblog/1660/Hy-se-dieselfde-vir-jou
13-jarige wen weer SA staptitel kaalvoet
Die 13-jarige Durando Aweries, gooi sy arms triomfantlik in die lug nadat hy sy SA 3 km-staptitel in Kaapstad gewen het. Dis die tweede agtereenvolgende jaar wat Durando dié titel wen. Kaalvoet. GEORGE NUUS - Sy tydgenote het die 3 km-stapnommer by die interprovinsiale padstapkampioen-skappe by Youngsfield in Kaapstad in hul kleurvolle tekkies afgelê. Hy het kaalvoet gestap, met sy voete toegedraai in wit verbande om dit teen die teerpad te beskerm. En gewen. Redelik maklik. Sy naaste teenstander, van die Boland, was sowat twintig treë agter hom toe hy oor die eindstreep wikkel in sy nie meer so wit verbande nie. Dis die tweede agtereenvolgende jaar wat Durando Aweries, 'n 13-jarige leerder van Heidedal Primêr in George, die SA 3 km-staptitel buit. Die George Herald het hom Maandag oor sy prestasie uitgevra. "My voete is nog seer, meneer, maar ek is net bly ek kon weer wen. Vanjaar se wedloop was moeiliker met sterker teenstanders wat my al die pad gejaag het. Ek kon die atleet van die Boland, wat tweede geëindig het, eers in die laaste ronde naby die eindstreep afskud." In die onderhoud het sy ma, Naomi, toe sy daaroor gepols is, gesê hulle het eenvoudig nie geld om vir Durando duur stapskoene te koop nie. Haar man, Koos, is 'n laaigraafoperateur, en sy is huisvrou wat na die vyf kinders omsien. Durando, een van 'n tweeling, is die jongste saam met sy sussie, Angelique. "Maar ons is almal trots op hom. Hy werk ontsettend hard om bo uit te kom." Sy twee afrigters, Mari Swiegelaar en Sharon Losper, is ewe trots op die begaafde klein stapper. "Ons rig Durando die afgelope twee jaar af en daar's geen twyfel nie dat hy oor hope talent beskik nie," het Mari gesê. "Jong, hy stap nog altyd kaalvoet en dit wil voorkom of hy dit verkies. Hier is seker nog 'n vyfstuks ander atlete wat kaalvoet by ons oefen. Maar waar die kinders vandaan kom, gaan dit maar broekskeur en is daar nie werklik geld vir stapskoene nie." Sharon het dit beaam en gesê ordentlike stapskoene sal Durando beslis help om nog vinniger te stap. "Maar as daar nie geld is nie, wat moet jy doen? Bloed kan mens nie uit 'n klip tap nie. "Verlede jaar het hy kaalvoet gestap, maar vanjaar het ek self sy voete met verbande voor die wedloop verbind, want hulle was nog teer ná die vorige deelname op Mosselbaai waar hy ook kaalvoet gestap het. "Waar hulle in Borcherds oefen, plak ek altyd pleisters op sy voete om hom teen die bottelstukke te beskerm. Maar hy is taai en ongelooflik toegewyd. "Ek gee vir elke stapper 'n stokkielekker - daai kleintjies - en Durando gee alles net om daai beloning te kry." Dalk is daar 'n barmhartige samaritaan in George wat vir Durando met 'n paar nuwe stapskoene kan beloon. Hy is immers ons kaalvoetkampioen. Omring deur sy teenstanders met hul kleurvolle tekkies, stap Durando Aweries (tweede van links) kaalvoet met sy voete toegedraai in wit verbande tydens verlede Saterdag se interprovinsiale padstapkampioenskappe in Kaapstad. Foto's: Roger Sedres/Gallo Images . ARTIKEL: HUGO REDELINGHUYS, GEORGE HERALD-SPORTREDAKTEUR 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/174279/13jarige-wen-weer-SA-staptitel-kaalvoet
2016-10-12 17:00:00
Partye woel vir tussenverkiesings
Hoofverkiesingsbeampte van die OVK in die Wes-Kaap Courtenay Sampson. GEORGE NUUS - Die munisipale tussenverkiesing vir twee wyke in die George-gebied sal na verwagting in Januarie volgende jaar plaasvind. Politieke partye is reeds aan die woel vir 'n kans om wyke 11 en 25 te verower. Beide wyke het vakant geraak nadat hul wyksraadslede Lulamile (Lux) Xesi (wyk 11, Thembalethu) en Marlin du Preez (wyk 25, Uniondale) gesterf het. Xesi was 'n lid van die DA en het op 25 September in sy huis doodgebrand. Du Preez, 'n ANC-raadslid, is op 4 Oktober in sy slaapkamer dood aangetref. Volgens Courtenay Sampson, die hoofverkiesingsbeampte van die OVK in die Wes-Kaap, was daar aanvanklik sprake dat die tussenverkiesing op 7 Desember sou plaasvind. "Politieke partye in die streek het egter op raadsvlak byeengekom en aangevra dat die tussenverkiesing in die nuwe jaar plaasvind, en nie vanjaar nie. Dit sal waarskynlik die laaste Woensdag in Januarie (25 Januarie 2017) plaasvind," het hy gesê. Ongeag die uitkoms van die tussenverkiesing sal die DA steeds met 'n meerderheid in die raad seëvier. DA-kiesafdelingshoof vir George, Okkie Terblanche, het bevestig dat dié party in beide wyke verteenwoordig sal wees. "Ons het reeds begin met voorbereidings en is in die proses om kandidate te identifiseer," het hy gesê. "Ons is baie optimisties wat ons kanse ten opsigte van wyk 25 betref. Ons het geleer deur ons ondervinding gedurende die 2016-verkiesing en is baie beter voorbereid. Ons is vol vertroue dat ons die wyk nou gaan wen en sien uit na die tussenverkiesing." ANC-voorsitter vir die George-substreek Langa Kholisile Langa sê hy is vol vertroue dat die ANC beide wyke gaan wen. "Daar is geen ongerustheid nie, ons is vol vertroue. Ons wil nie op hierdie stadium enigiets aanjaag nie, daar is nasionale prosesse in plek en ons sal prosedures volg," het hy gesê. "Ons het reeds met die voorbereidingswerk in beide wyke begin." Ander partye wat aangedui het dat hulle wel aan die tussenverkiesing gaan deelneem sluit in die AIC (African Independent Congress), en Icosa. Volgens Abel Kiwit van die AIC gaan hulle in albei wyke verteenwoordig wees en het die party reeds kandidate om van te kies. "As 'n redelike nuwe party moet ons sommer vroeg met ons prosesse begin. In Uniondale het ons na vore gekom as die derde grootste party en ons is reeds gereed om 'n party-tak daar te vorm. Die party toon geweldige groei," het hy gesê. Icosa se Wes-Kaapse leier, Dawid Kamfer, het bevestig dat hulle in wyk 25 (Uniondale) gaan deelneem. "Ons het redelik baie aanhangers in Uniondale," het hy gesê. "Ons is in die proses om 'n kandidaat aan te wys en sal volgende maand (November) die kandidaat bekend maak tydens 'n provinsiale vergadering." Johan du Toit van die ACDP het gesê dat sy party Maandagaand (24 Oktober) tydens 'n vergadering met hul uitvoerende komitee 'n finale besluit oor hul moontlike deelname sal neem. Virgill Gericke, leier van die PBI (Plaaslik Besorgde Inwoners), het gesê hulle oorweeg hul opsies. "Daar is 'n swaai weg van groter politieke partye. Die kiesers soek partye wat hulle belange kan dien sonder vrees en versteekte politieke agendas," het hy gesê. ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS 'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/Politics/174877/Partye-woel-vir-tussenverkiesings
2016-10-21 12:00:00
Skoene vir kaalvoetstapper van Borcherds
Dubbele stapkampioen Durando Aweries (13) met sy helder oranje tekkies van die sportikoon Elana Meyer. Foto: Roger Sedres/ImageSA GEORGE NUUSFLITS & VIDEO - 'n Dertienjarige kaalvoetkampioen van Borcherds met twee nasionale staptitels agter sy naam, oefen deesdae met helder oranje tekkies wat deur die beroemde Suid-Afrikaanse langafstandatleet, Elana Meyer, geskenk is. Durando Aweries, 'n gr.7-leerder van Heidedal Primêr, is baie opgewonde oor die verrassingspakkie wat verlede Woensdag by sy huis afgelaai is. Meyer het gesorg vir 'n hele boks vol atletiekklere en twee pare oefenskoene nadat sy van Durando se omstandighede te hore gekom het. Durando het die gemeenskap se hartsnare geroer nadat foto's van die jong atleet op sosiale media gesirkuleer is waar hy met wit verbande, hande in die lug, oor die wenstreep loop tydens die interprovinsiale padstapkampioenskappe by Youngsfield in Kaapstad op 8 Oktober. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat hy die SA 3 km-staptitel verower. Oor sy oorwinning is Durando blinkoog en nederig. Tydens 'n onderhoud met die George Herald gesels hy oor sy liefde vir die sport. "Wanneer ek stap dink ek aan my omstandighede," het hy gesê. Sy pa is 'n laaigraafoperateur en sy ma is 'n huisvrou. Hy is een van vyf kinders en deel 'n dubbelbed met sy sussie. Daar is nie beddens vir almal in die huis nie. 'n Fondsinsameling wat aanvanklik vir Durando van stapel gestuur is vir stapskoene, kan dalk nou wyer uitkring. Lede van die gemeenskap het reeds begin om geldelike bydraes vir die inisiatief by Top Gear-sportwinkel in Meadestraat te los. Volgens die winkeleienaar, Ters Gilliomee, is die gedagte tans om al 13 uitblinkers in die stapspan met stapskoene te voorsien. Kyk na 'n video-onderhoud met Durando, hieronder: Dubbele stapkampioen Durando Aweries (13) met sy helder oranje tekkies van die sportikoon Elana Meyer. Foto: Roger Sedres/ImageSA Nederige herkoms, groot drome. Foto: Roger Sedres/ImageSA Lees meer in môre se George Herald, asook aanlyn. 'Ons bring jou die nuuste George, Tuinroete nuus'
http://www.georgeherald.com/news/News/General/174620/Skoene-vir-kaalvoetstapper-van-Borcherds
2016-10-19 08:00:00
Wil jy ‘n bietjie feestydvoggies die land inbring? Hier is wat jy oor invoere moet weet
Die Departement van Landbou wil dit onder internasionale reisigers wat SA kom besoek gedurende die feesseisoen of terugkeer na SA na die vakansie, se aandag bring om te voldoen aan die vereistes van die land se invoere. Die nakoming hiervan sal ons land help in die voorkoming en vermindering van die potensiële risiko van uitheemse indringerspesies, buitelandse peste en siektes wat verbind kan word met ingevoerde plante, plantprodukte, diere, diereprodukte en ander gereguleerde goedere. Suid-Afrika, net soos ander lande, het ‘n belangrike mandaat en regte om hulle grondgebied, biodiversiteit en ekonomie te beskerm teen skade. Dus reguleer die staat die invoere van diere en diereprodukte, alkoholprodukte, plante en plantprodukte, heuning en heuningprodukte en enige ander materiale vanaf ander lande wat skade kan doen. Dit is in ooreenstemming met toepaslike wetgewing van die land, wat daarop gemik is om vestiging en verspreiding van peste en siektes uit ander dele van die wêreld te verhoed. As dit eers in die land is, is dit duur en moeilik om te beheer daarom is voorkoming belangrik in hierdie verband. Die invoer van sekere alkoholiese produkte met ‘n alkohol-inhoud van meer as 1% in die land vir drinkdoeleindes word beperk, behalwe op die gesag van ‘n invoersertifikaat uitgereik deur die departement van Landbou. Neem kennis dat die invoervoorwaardes van land tot land en tipe produk verskil. Reisigers kan die Departement van Landbou kontak as hulle meer inligting oor produkte wat hulle wil invoer benodig: Diere en diereprodukte: Tel: 012-319-7514/7476 Faks: 012-319-8292 E-pos: [email protected] Plante en plantprodukte: Tel: 012-319-6102/6130/6207 Faks: 012-319-6370 E-pos: [email protected] Alkoholiese produkte: Tel: 012-319-6333 / 078-754-4488/ 060-527-3622 E-pos: [email protected], [email protected] of [email protected] By die aankoms in Suid-Afrika, moet al die ingevoerde besendings van die bogenoemde gereguleerde produkte aan die Departement van Landbou se inspekteurs gegee word by aankoms. Die besendings mag nie verwyder word uit die plek van binnekoms sonder skriftelike toestemming deur die Departement van Landbou se inspekteurs nie. Vir inligting oor die departement van Landbou se inspeksiedienste en prosedures, kontak die Direktoraat Inspeksiedienste by 012-309-8701, faks 012-309-8785 of e-pos: [email protected] Bron: Departement van Landbou
http://www.proagri.co.za/wil-jy-n-bietjie-feestydvoggies-die-land-inbring-hier-wat-jy-oor-invoere-moet-weet/
2016-11-16 13:48:31
British American Tobacco rook steeds die pyp in SA ekonomie
‘n Studie deur die onafhanklike ontleders, Quantec Navorsing, het die beduidende ekonomiese bydrae wat BAT(British American Tobacco) SA tot die nasionale ekonomie uitmaak uitgelig. Dit demonstreer die skaal van die maatskappy se regstreekse impak asook die van die wyer waardeketting. Volgens Quantec Navorsing, is BAT SA se totale bydrae tot Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) ‘n geskatte R18,4-miljard, gelykstaande aan 0,52% van die land se algehele BBP. Die maatskappy het 2 100 mense in diens, koop goedere en dienste wat R6-miljard werd is vanaf plaaslike verskaffers en genereer R14,5-miljard aan belasbare inkomste. Hierdie aanvanklike bydrae is slegs ‘n fraksie van die wye ekonomiese invloed van die maatskappy. Soraya Zouehid, die besturende direkteur, sê: “BAT SA is verantwoordelik daarvoor om 72 000 werksgeleenthede regoor die land in verskillende sektore soos kleinhandel, landbou, besigheidsdienste, vervaardiging en vervoer te ondersteun. Die meeste van hierdie geleenthede is in klein ondernemings en meer as 86% van die mense is swart Suid-Afrikaners.” “Ons is baie trots op ons beduidende bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie. Ons koop oor die 90% van al die plaaslike gekweekte tabakblaar wat R550-miljoen werd is. En ons ondersteun 5 800 plaas-werksgeleenhede. Met oor die 179 000 spazas, huiswinkels, tavernes en gerieflikheidswinkels wat ‘n inkomste maak uit die verkoop van ons produkte help ons ook om 25 000 werksgeleenthede in die kleinhandelsektor vol te hou,” sê Soraya. Vir elke een werksgeleentheid by BAT SA word 32 bykomende geleenthede deur die wyer ekonomie geskep. Van die totale belastingbydrae is die maatskappy se aksynsbelasting R10,2-miljard, wat 27% van alle aksynsbelasting in Suid-Afrika verteenwoordig. Soos Soraya verduidelik: “Ons het ‘n lang geskiedenis hier in Suid-Afrika en terwyl die vervaardiging en plaaslike tabak duurder is as op ander plekke, is ons daartoe verbind om dit vir so lank as moontlik te volhou. “Ons kan en moet ‘n rol speel om Suid-Afrika te help om sy nasionale prioriteite van ekonomiese groei, werkskepping en sosiale insluiting te lewer.” Bron: British American Tobacco Suid-Afrika
http://www.proagri.co.za/british-american-tobacco-rook-steeds-die-pyp-sa-ekonomie/
2016-11-16 08:13:29
Engen stel PETRONAS-smeermiddels bekend
Die bekende petroleummaatskappy, Engen, het sy smeermiddelreeks uitgebrei en sal nou ook PETRONAS-smeermiddels versprei. Saam met die bekendstelling van PETRONAS het Engen ook aangekondig dat sy smeermiddelverspreidingstelsel voortaan bekend sal staan as Engen Oliesentrum. Engen Oliesentrum bestaan uit ‘n nasionale netwerk van goedgekeurde verspreiders vir Engen- en PETRONAS-smeermiddelprodukte, en ander verwante olies. Verspreiders Die Engen Oliesentrum, voorheen bekend as Die Olie Sentrum, is Engen se vlagskip- smeermiddelsverspreider. Hulle eerste tak is in 2004 in Port Elizabeth oopgemaak, met die fokus op klein- en medium-grootte sake-ondernemings. “Sedertdien is daar nog tien takke oopgemaak in Johannesburg (drie takke), Durban, Kaapstad, Oos-Londen, Rustenburg, Phalaborwa, Nelspruit en Kimberley,” sê Keshwin Soni, nuwesake-ontwikkelingsbestuurder by Engen smeermiddels. Nuwe era John Kennedy, Engen se smeermiddels-sakebestuurder, sê dis ‘n nuwe era vir Engen. Die PETRONAS reeks komplemeteer Engen se eie omvattende portefeulje van motor- en nywerheidssmeermiddels. “Die PETRONAS Syntium handelsmerk van hoë-prestasie smeermiddels sal motoriste bly maak aangesien dit in alle Mercedes AMG-motors wêrelwyd gebruik word,” sê John. Vir meer inligting, ook om as verspreider op te tree, skakel Keshwin Soni by 031-250-2676/ 084-851-0613 of stuur ‘n e-pos aan [email protected].
http://www.proagri.co.za/engen-stel-petronas-smeermiddels-bekend/
2016-11-30 09:53:25
Eersteklas werktuie: Agri Shalom dien die boer al beter
Vir sterk, stewige, betroubare plaastoerusting hoef die kieskeurige boer nie verder as Agri Shalom te soek nie. Dit is ook geen wonder nie, want die boer se behoeftes is die uitgangspunt van elke Agri Shalom-produk: “Ons ontwerpe is op die praktiese terugvoer wat uit boerderygemeenskappe in ons kliëntebasis kom, geskoei,” sê Jan-Abraham Strauss van Agri Shalom. Sedert die maatskappy se begin in 2006 as vervaardiger van staalstrukture, het hulle gehalte en vakmanskap vir hulle veral onder boere bekendheid verwerf. Algaande het Agri Shalom, vanweë sy noue kontak met boere, die behoefte aan goed ontwerpte, maar eenvoudige plaaswerktuie raakgesien. Vandaar hulle strewe om betroubare toerusting en goeie, tydige diens aan die boer beskikbaar te stel. Wat wil ’n boer dan nou meer hê? Mobiele toerusting Daar is ’n sterk aanvraag vir verskuifbare veehanteringstoerusting. Agri Shalom se produkte vir verskuifbare trophantering en die vervoer van diere is baie gewild by veeboere. “Ons reekse bestaan uit laaiblaaie, nekklampe, verskuifbare hanteringskampies, skale en lyfklampe vir beeste, skape en bokke,” sê Jan-Abraham. Nog nuttige werktuie Namate boere meer behoeftes uitgespreek het, het Agri Shalom se produkreeks uitgebrei na hidrouliese wipbakwaens, plaassleepwaens, bossiekappers, êe en skrapers. Jan-Abraham sê: “Die produkte in hierdie reeks is hard en betroubaar gebou, maar ook ongekompliseerd om by plaastoestande in Afrika aan te pas.” Flukse vervaardigingsaanleg “Ons het ons vervaardigingsaanleg in Bloemfontein so uitgebrei dat ons in groot getalle en deurlopend werktuie vir boere kan aflewer,” sê Jan-Abraham. Die jongste toerusting en vervaardigingsprosesse word ingespan om hoë standaarde te handhaaf. “Ons is by die NRVS (Nasionale Reguleerder vir Verpligte Spesifikasies) as vervaardigers geregistreer, wat beteken dat al ons sleepwaens met die nodige registrasiedokumente verkoop word. Kyk maar net – jy sal Agri Shalom se toerusting op openbare paaie sien. Alle kliënte in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) -streek sal ’n toepaslike SAOG-sertifisering kry aangesien ons alles in Suid-Afrika vervaardig,” voeg Jan-Abraham by. Vir meer inligting oor Agri Shalom se voortreflike werktuie, skakel Jan-Abraham Strauss by 082-636-1785 of 082-4677-834 of of stuur vir hom ’n e-pos by [email protected]. Jy kan ook hulle webwerf besoek vir meer inligting: www.agrishalom.co.za
http://www.proagri.co.za/eersteklas-werktuie-agri-shalom-dien-die-boer-al-beter/
2016-11-10 11:27:23
Like Father Like Son-wynreeks bekend gestel
Bon Courage Wynlandgoed, geleë in die Robertsonwynvallei, het die nuwe verpakking van hulle gewilde Like Father Like Son-wynreeks bekend gestel. Die nuwe ontwerp beeld die parallelle silhoeëtprofiel van ‘n pa en seun uit. Dít simboliseer die hegte skouer aan skouer-band wat al oor drie geslagte tussen die Bruwers van Bon Courage heers. Dit dien ook as ‘n uitnodiging aan die verbruiker om simbolies deel te raak van hierdie familie en sy tradisies deur die produk van hulle familiekameraadskap te geniet. Die drie wyne in dié reeks is onopgesmuk en sonder tierlantyntjies, dus is die ontwerp eenvoudig, ontspanne en vriendelik – soos ‘n Sondagbraai saam met die familie. Wyne in die reeks Die drie wyne in die Bon Courage Like Father Like Son-reeks is ‘n chenin blanc, ‘n merlot/cabernet sauvignon versnit sowel as ‘n pinotage rosé. Koste Die wyn is teen R39 per bottel by die kelder beskikbaar asook landswyd by verskeie drankwinkels, Pick ‘n Pay, Spar en Makro teen handelsprys. Die Landgoed Bon Courage is geleë in die skilderagtige Robertsonvallei – dikwels genoem die vallei van wyn en rose en welbekend as tuiste van sommige van Suid-Afrika se topwyne. Bon Courage is trots op ‘n wye reeks nasionaal en internasionaal bekroonde wyne wat jaar na jaar volgehou presteer en bevorder word deur die Landgoed se diverse terroir. Dit spreek van uitnemende gehalte en Bon Courage se groot bydrae tot die Robertsonvallei se sukses as een van die top wynroetes in Suid-Afrika. Familieverhaal Die statige Kaaps-Hollandse herehuis dateer uit 1818 en is sedert 1927 die tuiste van drie opeenvolgende geslagte Bruwers. Dis juis hierdie span, André en sy twee seuns, Jacques en Pieter, se familiewaardes, toewyding en passie wat gereken word as die geheim tot Bon Courage se sukses. Vir meer inligting skakel Bon Courage by 023 626 4178 of [email protected] Facebook: https://www.facebook.com/pages/Bon-Courage-Wine-Estate/279611185844 Twitter: @BonCourageWines Instagram: boncourage.estate
http://www.proagri.co.za/like-father-like-son-wynreeks-bekend-gestel/
2016-11-23 11:47:00
Dom Boer se lag vir die dag:
Diekant of daaikant – reg is reg Hennie: “Ek het gister ‘n klompie goed hier in jou winkel gekoop en toe ek by die huis kom, sien ek jy het ‘n fout van R200 in die berekening gemaak…” Heinie: “Jammer vir jou. Jy moes gister gepraat het. Ons kan nie foute die volgende dag regstel nie.” Hennie: “Jammer vir jou ook – dan hou ek maar die R200.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-242/
2016-11-24 08:12:03
Agri SA sê NEE vir grondbesettings
“Daar was onlangs heelwat politieke retoriek oor grondbesettings wat ons voel baie onverantwoordelik is”, sê Johannes Moller, president van Agri SA. Hy sê dit is noodsaaklik dat die impak van die uitsprake en die uitwerking daarvan op voedselsekerheid en die algehele stabiliteit van die sektor verstaan word. Die stellings is strydig met die bepalings van die Grondwet wat voorsiening maak vir ordelike grondhervorming. “In Zimbabwe het ons die verwoesting gesien wat gepaardgaan met grondbesettings en waar dit nie net enorme onsekerheid vanuit ‘n beleggingsperspektief veroorsaak nie maar ook diegene wat ‘n lewe uit die grond maak in ‘n armoede-situasie laat beland waar hulle hulself nie kan voed of ‘n bestaan kan maak nie,” sê Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se Beleidskomitee oor Landbou-ontwikkeling. Hy sê: “Die waardeketting as geheel begin met die boere en maak nagenoeg 3% van die land se BNP uit. Waar die produksiebasis verkrummel, word duisende werksgeleenthede bedreig. Daar is ‘n nou skakeling tussen finansiële stelsels, landbou-veiligheid en belegging. Waar die primêre stukkie van hierdie legkaart beïnvloed word, ly die res,” sê Ernest. “Ons moet hierdie aangeleenthede op ‘n baie verantwoordelike en volwasse wyse benader,” sê Johannes. “Ons is bereid om met enige party te praat ten einde oplossings te vind vir die transformasie van die sektor en die vestiging van suksesvolle nuwe kommersiële boere. Ons werk nou saam met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landelike-ontwikkeling en Grondhervorming om projekte te loods en het reeds verskeie suksesse in hierdie verband behaal. Grond as sodanig beteken nie veel sonder die nodige kapitaal en vaardighede om ‘n onderneming te ontwikkel wat winsgewend sowel as volhoubaar is nie. Daarom is ons die enigste land in sub-Sahara-Afrika wat voedselsekerheid geniet en ons kan nie waag om met ons suksesvolle formule te torring nie,” aldus Ernest. Uitgereik deur Agri SA
http://www.proagri.co.za/agri-sa-se-nee-vir-grondbesettings/
2016-11-16 14:49:18
Dom Boer se lag vir die dag:
Hulle sê… Hennie en Heinie ry met die trein Kaap toe. Toe hulle vir middagete aansit, vra Heinie die kelner: “Is ons nou al in die Karoo?” Kelner: “Ja, ons het reeds die Oranjerivier oorgesteek en ons is al diep in die Karoo.” Heinie: “Jippie! Dan wil ek skaaptjops bestel. Hulle sê in die Karoo smaak die skape lekkerder as op enige ander plek.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-245/
2016-11-30 12:58:21
Verskansingstrategie vir onsekere tye
Gesonde sake- en risikobestuursbeginsels vereis dat boere deeglik oorweeg en beplan hoe om die onseker omgewing waarin boerdery bedryf word, aan te spreek. Dit is deel van die TLU SA se strategie om seker te maak dat lede en ander boere toegerus is om die regte besluite te neem. Verskeie inisiatiewe en moontlikhede bestaan vir boere om behoorlike diversifikasie te bewerkstellig maar hulle is moontlik nie bewus van die verskillende opsies, faktore en oorwegings wat in ag geneem moet word nie. In die lig hiervan het Old Mutual, die TLU SA en Agri All Africa ooreengekom om gesamentlike inligtingsessies aan te bied in verskillende streke sodat kommersiële boere die geleentheid kan kry om met kundiges opsies te bepreek en sodoende meer ingeligte besluite te neem. Volgens Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA “maak die onsekere aard van landbou dit belangrik dat boere op verskillende maniere risiko’s moet bestuur om volhoubaarheid te verseker. Dit sluit in ‘n behoorlike finansiële plan wat risiko’s in die boerdery beter kan bestuur, sekerheid kan skep vir families met ‘n behoorlike opvolgplan en die opbou van bates buite die boerdery.” Hy sê: “Die onsekere beleidsomgewing en toekoms van landbou in Suid-Afrika maak dit verder belangrik dat opsies oorweeg moet word om buite die Suid-Afrikaanse ekonomie te diversifiseer. In die opsig het die TLU SA reeds moontlikhede in Georgië en Bulgarye ondersoek wat landbou-vriendelike geleenthede aan boere bied. Dit is egter belangrik dat alle belangrike opsies oorweeg moet word en daarom wil ons boere ook bekendstel aan geleenthede in Afrika, waar hande gevat word met Agri All Africa, asook verskansingsmoontlikhede wat beskikbaar is deur finansiële instellings en platforms, waar Old Mutual as vennoot betrek is.” Dr Theo de Jager, voorsitter van Agri All Africa, sê: “Agri All Africa het ten doel om geleenthede in Afrika meer toeganklik te maak vir boere deur die uitklaring van beleidomgewings, sluit van ooreenkomste met gasheerlande, vestiging van netwerke en die verskaffing van advies aan voornemende boere en landbou-ondernemings. Daar is reeds meer as 3 000 Suid-Afrikaanse boere in Afrika bedrywig en die kundigheid van ons plaaslike boere is groot in aanvraag. Ons neem graag deel aan die inisiatief om voorligting aan boere te gee want ons weet dat die vraag na voedsel sterk toeneem en goeie geleenthede vir boere, in Suid-Afrika, maar ook in die res van Afrika, bied.” Volgens Koos Nel van Old Mutual se Agri-bemarkingspan, is “bates en beleggings buite die boerderybesigheid ‘n fundamentele bousteen van ‘n weldeurdagte sakeplan om seker te maak jy bereik jou langtermyndoelwitte. Bo en behalwe dat sulke bates jou leefstyl beskerm, verminder dit ook risiko’s omdat jy diversifiseer. Navorsing wat MSSA (Mark Studies en Statistiese Analise) in opdrag van Old Mutual gedoen het, toon dat slegs 6% van boere in Suid-Afrika oorsese beleggings het wat hulle teen moontlike swak prestasie in die Suid-Afrikaanse ekonomie kan verskans. “Die geleentheid wat deur die TLU SA geskep word om kommersiële boere in te lig oor die verskillende moontlikhede, word graag ondersteun. Verskeie beleggingsgeleenthede op die wêreldmark is nou beskikbaar en toeganklik vanuit die gerief van jou kantoor of bakkie. Dit is belangrik dat boere bewus is van en opsies oorweeg hoe om swaarverdiende plaas-opbrengste te verskans te midde van ‘n relatiewe klein Suid-Afrikaanse ekonomie en die wisselvalligheid van die rand,” sê Koos. Die voorligtingsessies sal vroeg in 2017 in vier streke gehou word (Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mpumalanga). Verdere voorligtingsessies sal volgens behoefte aangebied word. Belangstellendes kan met Lynne Kayser by 012-804-8031 of [email protected] skakel by die TLU SA. Verdere inligting sal bekend gemaak word sodra die reëlings gefinaliseer is. Bron: TLU SA
http://www.proagri.co.za/verskansingstrategie-vir-onsekere-tye/
2016-11-10 09:17:28
Chalmar Beef stel nuwe lamsvleisproduk bekend
Chalmar Beef, bekende vleishandelsmerk wat fokus op gehalte vleis, het so pas in hulle 47 ste herdenkingsjaar ‘n nuwe produk, Chalmar Lam, bekendgestel. Hulle het ook aangekondig dat hulle nuwe voerkrale vir lammers bou en hulle het aanbouiings by hulle beesverwerkingsaanleg gedoen. “Soos met ons beeste is die hele skaaplamproduksiestelsel gerat om ‘n uitsonderlike produk te produseer. Ons gaan ook kyk na nuwe gewilde snitte, soos in Australië, asook gerieflike aankoopmetodes vir die publiek soos ons aanlynverkope en tuis afleweringsdiens,” sê Sarah Wethmar, direkteur by Chalmar Beef. Chalmar Beef het geweldig gegroei die afgelope paar jaar en het ‘n vlak bereik waar verdere uitbreiding sou beteken dat hulle in ‘n minder selektiewe mark sou moes beesvleis verkoop. “Ons produseer nie ‘n kommoditeit nie en het besluit om dus die onderneming te laat groei deur lamsvleis aan ons huidige beesvleiskliënte – wat beslis fynproewers is – aan te bied. Die swak gehalte van lamsvleis wat oor die algemeen beskikbaar is, het definitief die deur hiervoor oopgemaak,” voeg sy by. Chalmar Beef het op 31 Oktober hulle eerste lammers geslag. “Die projek is aangedurf met ‘n langtermyn uitkyk so daar is in die stadium nie ‘n einddatum nie. Ons sal aanhou om uit te brei tot ons voel ons die prima mark is versadig.” Die droogte het natuurlik ‘n groot invloed op hierdie organisasie gehad. “Die droogte se impak was baie negatief op vleispryse en ek glo dit gaan nog vir ten minste drie jaar ervaar word in die beesbedryf. Ek glo groot opskuddings gaan kom in die voerkraalbedryf,” sê Sarah. Chalmar Lam sal in November by die Wethmar-woning in Bapsfontein bekendgestel word.
http://www.proagri.co.za/chalmar-beef-stel-nuwe-lamsvleisproduk-bekend/
2016-11-02 14:30:18
Weeg en wen vir die toekoms
“Ek doen dit vir my kinders,” sê Armand de Villiers van Fochville. Hy is een van die kategoriewenners van DuPont Pioneer se Weeg en Wen™-oesopbrengskompetisie. Hy sê deelname aan so ’n wedstryd stel hom in staat om skouers te skuur met suksesvolle boere wat bereid is om goeie, ware inligting te deel sodat hy meer volhoubaar kan boer. “My wêreld word al hoe kleiner om my met al die myne in die omgewing en dit is ’n stryd om landbougrond te behou. Ons móét meer opbrengs op minder grond behaal,” sê Armand wat met ’n soja-oes van 3,96 t/ha op droëland kan spog in ’n baie droë seisoen. Hy skryf die opbrengs toe aan die regte kultivar op die regte tyd op die regte plek en die feit dat hy net na opkoms met ’n 12-meter roller oor die land beweeg het om sy bone ’n gelyke ontwikkelingskans en stewige vastrapplek in die lewe te gee, en om “die klippe terug te rol in die grond in!”. Gesonde, gebalanseerde grond is vir elkeen van die sewe wenners die belangrikste beginpunt vir ’n goeie oes, maar elkeen het sy eie manier om sy grond te bewerk, of nie te bewerk nie! Zirk Scheepers van Cradock laat doen sy grondontledings in Amerika en ontvang ’n omvattende verslag sodat hy elke duim onder sy spilpunte kan regstel. Hy praat met lof van sy plantvennoot, Cradock Saad, wat hom bystaan om die regte besluite te neem. Hy het ’n mielie-oes van 20,5849 t/ha onder besproeiing behaal, hoewel dit nie sy hoogste ooit is nie. In ’n meer reënryke jaar het hy al 22,5 t/ha geoes. Zirk sê sy planne is gereed vir volgende jaar, maar hy gaan nie nou die sluier lig nie! William Gibbings van Winterton het die hoogste droëlandmielie-opbrengs (13,53) behaal met ’n geenbewerkingstelsel, “maar as dit nodig is om te bewerk of kalk in te werk, dan doen ons dit”. Mieliestoppels word byvoorbeeld met ’n vertikale bewerking ingewerk. Hy sê deelname aan so ’n kompetisie motiveer hom om sy metodes te verbeter en meer doeltreffend te boer. In die westelike streek het Bernard Rabe van Fochville die hoogste droëlandmielie-opbrengs behaal met 11,1 t/ha. Hy sê om oesopbrengs te verbeter is ’n proses, nie sommer net iets wat een keer gebeur nie. Hy volg verskillende bewerkingsmetodes op verskillende dele van sy grond, maar alles met die doel om die beskikbare vog meer doeltreffend te gebruik. Die twee hektaar wat vir die kompetisie ingeskryf is was op ’n geenbewerkingstelsel. Pieter van Vuuren van Standerton wat die Sojabone Droëland Oosstreek-kategorie gewen het met 3,9634 t/ha volg konvensionele metodes, maar hy hanteer ook elke stukkie grond apart en pas deurlopende wisselbou toe. Aan organiese inhoud in die grond is daar geen gebrek nie as gevolg van gereelde kraal- en hoendermistoedienings en die stoppels wat nie bewei word nie, maar teruggewerk word in die grond. Pieter sê deelname aan die wedstryd help hom om inligting by ander boere wat ook ernstig oor produksie is, te kry en hy is ’n trotse Pioneersaadgebruiker. Met sojabone onder besproeiing het Gerrit Roos van Belfast met sy 5,236 t/ha die top-oes behaal. Hy het ’n unieke boerdery met strookbewerking, die toediening van verwerkte menslike afval, blaarvoeding, vroeë kunsmistoediening en drupbesproeiing uit pype wat 350 mm diep is. Die drupbesproeiing maak die worteldeel van die plante nat en nie die blare nie, wat swamgroei bekamp. Gerrit is deel van die Proteïennavorsingstigting en deel graag sy inligting met ander boere. Sy mikpunt is om 6 t/ha te oes, mits die hitte-eenhede reg is. In die KwaZulu-Natal-streek het Mark Stein met droëlandsojabone ’n wenoes van 4,0296 behaal. Hy sê grond is ’n lewende organisme en dit is hoe jy dit moet hanteer, en dan moet jy ook die regte kultivar vir die regte plek kies en op die regte tyd plant. Mark het, net soos al die ander wenners, in sy gesprek met ProAgri een ding beklemtoon: “Jy kan alles binne jou vermoë doen, maar uiteindelik is dit net genade.” Hy glo die goeie opbrengste dien as kragtige getuienis van ’n Groter Genade. Meer oor Weeg-en-Wen™ Enige mielie- en/of sojaboonboer, 18 jaar of ouer, kan inskryf met ’n minimum van twee hektaar wat beplant moet word met ’n geregistreerde mielie- en/of sojaboonsaadbaster van enige saadmaatskappy. Die Amerikaner wat hulle soortgelyke wedstryd die afgelope drie jaar gewen het, David Hula, het in 2015 ’n goeie opbrengs van 32,5 t/ha met Pioneer mieliebasters behaal – ’n nuwe wêreldrekord! Die hoofborge van die 2015-kompetisie was: DuPont Pioneer, John Deere met ondersteunende borge Syngenta, Sanlam, Santam, FNB en Senter360. Vind meer uit oor DuPont Pioneer se Weeg-en-Wen™Nasionale Opbrengs-wedstryd by WeegenWen.co.za of stuur e-pos aan [email protected].
http://www.proagri.co.za/weeg-en-wen-vir-die-toekoms/
2016-11-10 11:01:52
Dom Boer se lag vir die dag:
Ware diplomaat Voordat die gesin vertrek om by die see te gaan vakansie hou, waarsku die kwaai pa al die kinders: “Ons gaan baie ver ry en eers na donker by die see aankom. Moenie my elke nou en dan vra of ons al daar is nie.” Nadat hulle ‘n paar minute gery het, vra klein Dawietjie: “Is dit al donker?”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-234/
2016-11-15 16:09:28
TOYOTA lewer nog ‘n skittervertoning
Toyota het nou ’n bykans onoorkombare voorsprong van meer as 24 558 verkope teenoor sy naaste teenstander op sy pad om sy markleierskap in Suid-Afrika die 37 ste keer te bekragtig. Toyota was ondanks ’n algehele markdaling van 10,1% teenoor voertuigverkope in Oktober verlede jaar die enigste vervaardiger wat weer eens die grens van 10 000-kleinhandelverkope met ’n algehele verkoopsyfer van 11 129 eenhede in Oktober gehaal het. “Dit is die meeste voertuie wat ons nog vanjaar verkoop het en dit kan grootliks toegeskryf word aan goeie verhoudinge in die kleinhandelwêreld met betrekking tot talle van ons modelle, waaronder die Hilux (2 781), Etios (1 520), Quantum (1 451), Corolla Quest (1 272) en Fortuner (1 172),” het Calvyn Hamman, senior vise-president vir verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, gesê. “Trouens, Toyota het ’n aantal bestes in die segment vir Oktober aanteken: die Quantum was eerste in die mensedraerklas, die Quest tesame met die Corolla en die Auris (saamgestelde verkope van 1 968 eenhede) het die C-segment oorheers, die Fortuner was ver voor in die sportnutssegment waar hy verkope van 1 172 eenhede aangeteken het, en die Avanza, wat onlangs met bykomende veiligheidstoerusting opgekikker is, het die topposisie in die veeldoelvoertuigklas gemaklik ingeneem.” Melding moet ook gemaak word van die Aygo (216), wat besig is om staanplek in die A-segment te kry, terwyl die Land Cruiser-bakkie aan die ander kant van die spektrum ’n bestendige 276 eenhede vir die maand aangeteken het – ’n merkwaardige prestasie as ’n mens die spesialis-gebruik van hierdie voertuig in ag neem. En, moenie vergeet dat Suid-Afrika se topverkoper-voertuig, die Toyota Hilux, die pas met ’n aansienlike voorsprong in die bakkie-brigade aangee nie. Die Hilux is vir die jaar tot nou 3 739 eenhede voor sy naaste mededinger wat verkope betref. Handelsvoertuigverkope is ewe uitdagend, maar die Hino het nogtans sy markleierskap in die medium handelsvoertuigsegment (MHV) behou met ’n markaandeel wat op 26,5% staan. Bron: Toyota
http://www.proagri.co.za/toyota-lewer-nog-n-skittervertoning/
2016-11-04 08:35:55
TLU SA Noord ook bekommerd oor die voorgestelde minimumloon
TLU SA Noord het sy stem by ander rolspelers in die landboubedryf, wat bekommerd is oor die nuwe voorgestelde minimumloon, gevoeg. Die voorgestelde nasionale minimumloon is R20 per uur en R3 500 per maand. Volgens TLU SA is dit nog net ’n voorstel, maar as dit in werking tree hou dit baie probleme vir landbouwerkers in. Grootskaalse afleggings mag volg wat landelike armoede gaan aanblaas en diefstal sal laat toeneem. Die maatskaplike probleme in landelike gebiede sal hand-oor-hand toeneem. “Die regering verwag van die landboubedryf om teen 2030 een miljoen nuwe werksgeleenthede te skep. Hierdie voorstel sal die verwagting om werk te skep brutaal tot halt roep,” sê die organisasie in ‘n verklaring. Minimum nasionale lone sal ook jaarliks verhoog, wat die druk op die boer verder sal verhoog. Hierdie is net ’n bewys dat ons al hoe nader aan ’n volskaalse kommunistiese stelsel beweeg, weg van die vryemark-ekonomie, sê TLU SA Noord,. “Die regering moet eerder daaraan begin dink om boere in Suid-Afrika te begin subsidieer. Ons sal genoodsaak wees om meer te meganiseer in ’n ekonomie waar die bestaande arbeidsmag geen begrip het van produktiwiteit nie. Die minimumloon sal inflasie opblaas en kan noodsaaklike middels, soos brood, se prys tot R50 opjaag.” Bron: TLU SA Noord
http://www.proagri.co.za/tlu-sa-noord-ook-bekommerd-oor-die-voorgestelde-minimumloon/
2016-11-22 13:26:33
Dom Boer se lag vir die dag:
Is almal nou tevrede? Nols van der Merwe en sy uitgebreide gesin koop ‘n plasie en gaan boer. Een van sy vriende besoek hom en hy en Nols loop op die plasie rond. Nols vertel: “Ons het almal saam besluit om met ‘n beesboerdery te begin. Omdat dit oorspronklik my plan was, het ek voorgestel die boerdery moet na my genoem word: NvdM-boerdery. “My vrou, Blommetjie het gereken omdat die plasie grootliks met haar erfgeld gekoop is, behoort die naam aan haar erkenning te gee: BvdM-stoetery. “My oudste seun, Arrie, is eintlik die een wat die meeste werk moet doen, daarom het hy gereken AvdM-boerdery behoort die regte naam te wees. “My jongste seun, Junior, sê dit is hy wat steeds die onderneming in die verre toekoms sal moet bestuur wanneer ons ander al te oud is om te werk, daarom behoort die boerdery JunvdM-toekomsboerdery te heet. “My dogter, Sussie, wat vir die boekhouding en rekordhouding verantwoordelik is, reken sy moet erkenning kry deur die boerdery SusvdM-beeste te noem. “My skoonseun, Osie van der Westhuizen, is ‘n KI-kontrakteur wat reken sy deel tot die boerdery is belangrik genoeg om dit OvdW-KI-stoetery te noem. “Ons besluit toe maar om almal tevrede te stel en die boerdery NvdMBvdMAvdMJunvdMtoekomsSvdMOvdW-KI-beesstoetboerdery te noem.” Vriend: “Dit is baie interessant, maar waar is die beeste? Ek wil darem graag die beeste sien.” Nols: “Ja, dit is nou jammer. Nie een van hulle het die brandmerkproses oorleef nie.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-243/
2016-11-25 09:51:11
Oktober 2016 se trekker- en stroperverkope
Volgens verwagtinge sal algehele trekkerverkope laer wees as verkope verlede jaar, dalk teen tussen 15 en 20% laer, of anders gestel, verkope van tussen 5 250 en 5 600 eenhede. Trekkerverkope van 567 eenhede in Oktober is aansienlik (16%) laer as die 678 eenhede wat verlede Oktober verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope 14% laer as verkope vir dieselfde tydperk verlede jaar. Stroperverkope van 18 eenhede in Oktober is 10% laer as die 20 eenhede wat verlede Oktober verkoop is. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope ongeveer 16% laer as verkope verlede jaar. Reën het in sekere dele van die somergewasgebiede geval en sekere boere, veral boere in die oostelike dele, het reeds aangeplant. In ander dele is boere besig om aan te plant. Oor die algemeen is boere baie versigtig ten opsigte van besluite om landboutoerusting aan te koop. Dié neiging sal waarskynlik oor die korttermyn volgehou word. Banke tree ook baie konserwatief op wanneer finansiering oor die aankoop van masjinerie oorweeg word. Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie
http://www.proagri.co.za/oktober-2016-se-trekker-en-stroperverkope/
2016-11-16 12:05:14
Swaar reën oor die noordelike dele van die Vrystaat
Talle boere in die noordelike dele van die Vrystaat is vandag besig met skade-opnames na swaar reën en hael oor die naweek sporadies voorgekom het. Reënmetings in die Parys-distrik het tussen 30 mm en 200 mm binne vier ure op Vrydagmiddag, 11 November 2016, gewissel. Kobus Dannhauser, voorsitter van die Parys Boerevereniging, sê sporadiese wolkbreuke het oor gebiede voorgekom. “Een boer het 30 mm oor vier ure gemeet, ‘n ander 100 mm oor dieselfde tydperk en nog ’n boer 200 mm.” Die reën volg op sowat 250 mm wat die vorige drie weke oor dele van die gebied geval het. “Ten spyte van die skade is ons ongelooflik dankbaar! Die plaasdamme is almal vol, die Vaalrivier loop mooi en ons is dankbaar dat ons kan weet die Bloemhofdam kan nou aangevul word,” aldus Kobus. Sowat 80% van boere in die distrik is reeds klaar geplant, en veral sojaboon-aanplantings het erge haelskade. Talle landerye het ook spoelskade en skure se dakke het afgewaai of op werktuie ineengestort. Herman Weiss, voorsitter van Greenlands Boerevereniging naby Koppies, sê talle plaas- en werkershuise se dakke het ook in dié omgewing afgewaai of ingegee, terwyl ander huise oorstroom het. “Tussen 120 mm en 150 mm het binne ‘n kort tyd oor dele van die distrik uitgesak en ons is baie dankbaar vir elke druppel.” Boere in dié omgewing het al begin aanplant, maar nie baie van hulle het klaar geplant nie. Herman sê daar is ook wild deur die hael doodgeslaan of het verdrink. Skade in dié verband word nog nagegaan. 60 stuks wild het op Koos van Niekerk, ’n lid van Gottenburg Boerevereniging noord van Heilbron, se plaas gevrek. Van die diere is deur die hael doodgeslaan, en ander het verdrink. Koos sê tot 236 mm het binne 24 uur in die omgewing geval. “Ons is ongelooflik dankbaar vir die reën.” Boere in die omgewing is tans besig met skade-opnames na dakke ook hier afgewaai of ingeval het en aanplantings beskadig is. In die Bothaville en Wesselsbron-distrik is skade-opnames ook onderweg, veral op koringaanplantings wat deur hael getref is. Tussen 60 mm en 100 mm is Vrydagmiddag in die omgewings gemeet, en hael het ook sporadies voorgekom. Verder wes en in die westelike en suidelike dele van die Vrystaat het talle boere steeds geen noemenswaardige reën ontvang nie, dus het die droogte die boere steeds in sy greep. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ondertussen dat nog swaar reën en oorstromings die week in die noordelike dele van die Vrystaat moontlik is. Foto geneem deur: Herman Weisse Bron: Vrystaat Landbou
http://www.proagri.co.za/swaar-reen-oor-die-noordelike-dele-van-die-vrystaat/
2016-11-15 08:01:00
Plaasmoorde: Voorlegging aan die VN
TLU SA gaan weer hierdie week die probleem van plaasmoorde onder die internasionale gemeenskap se aandag bring. Die VN se menseregtekommissie se forum vir Minderheidsaangeleenthede hou hierdie week weer sy tweedaagse jaarlikse bespreking oor minderheidsake en die tema handel oor minderhede in situasies van humanitêre krisis. Die voorlegging sal handel oor die voortdurende probleem van plaasaanvalle, die regering se hantering van die droogte, grondhervorming, SEB, waterbesoedeling en vernietiging van onderwysgeleenthede as bedreiging vir minderhede in besonder, maar vir die land in die algemeen. Bron: TLU SA
http://www.proagri.co.za/plaasmoorde-voorlegging-aan-die-vn/
2016-11-28 13:09:27
John Deere se Tegnikus van die Jaar los graag taai probleme op
Boere in Suid-Afrika is gesteld op goeie naverkopediens. Dit is ’n les wat John Deere al in 1878 geleer het toe die eerste John Deere-toerusting per ongeluk in die Kaap geland het. ’n Skip met ’n vrag John Deere’s wat vir Indië bestem was, het naby Hermanus gestrand. In daardie dae kon enigeen vat wat hy van ’n gestrande skip kon afhaal en ’n maatskappy wat gespesialiseer het in sulke “reddingsoperasies” het die John Deere’s afgehaal en verkoop. Nog voor John Deere in Amerika die nuus ontvang het dat die skip gesink het, het die eerste briewe van Suid-Afrikaanse boere waarin hulle vra vir onderdele en diens, al aangekom! By die toekenningsgeleentheid van John Deere se Tegnikus van die Jaar 2016, het Jason Brantley, besturende direkteur van John Deere Sub-Sahara Afrika, dié storie vertel om te verduidelik waarom die landboureus so gesteld is op goeie, kundige, tegniese bystand. Hy het ook gesê die beste manier waarop John Deere kan help om die groeiende bevolking te voed, is om op die voorpunt van tegnologie te bly en om te sorg dat die tegnologie verstaan, toegepas en in stand gehou word tot op plaasvlak. “Dit help niks ons bou die wonderlikste masjien en hy staan langs die land nie,” sê Jason. John Deere doen baie moeite om sy tegnici behoorlik op te lei en twee jaar gelede is daar ook besluit om aan die top-tegnici erkenning te gee met ’n kompetisie. 239 van John Deere se 400 gekwalifiseerde tegnici in Sub-Sahara Afrika het aan die eerste uitdunrondte, ’n elektroniese teoretiese toets, deelgeneem. 50 finaliste is daaruit gekies en hulle moes ’n tweede eksamen skryf, waarna die Top Tien tot die finale rondte deurgedring het. In ProAgri 199 (September) het ons breedvoerig berig oor die praktiese en teoretiese eksamen wat die tien finaliste moes aflê. Oor die algemeen het almal saamgestem dat die standaard van die toetse nog hoër as verlede jaar was, maar ook dat dit aan almal ’n gelyke geleentheid bied om as wenner bekroon te word. Hier is die wenners! In die derde plek is Niel Ackerman van AFGRI, Grootvlei. Hy ontvang ’n naweekvakansie vir twee ter waarde van R10 000 wat deur John Deere Produkondersteuning geborg word. Niel was verlede jaar se wenner. In die tweede plek is Charles van Loggerenberg van AFGRI Delmas. Hy gaan nooit weer ’n verskoning hê om nie gras te sny nie, want hy is nou die trotse eienaar van ’n John Deere D110-rygrassnyer wat deur John Deere Financial geborg is. En die John Deere Tegnikus vir 2016 is Artie Bester van AFGRI Betlehem. Hy en sy vrou, Anita, gaan vroeg volgende jaar ’n bietjie oorsee kuier by John Deere se fabrieke. Artie sal ook deur die jaar optree as ambassadeur vir John Deere. Artie het na die aankondiging aan ProAgri gesê dit was baie onverwags, want die toetse was regtig moeilik. Hy voel trots en geëerd om die erkenning te kry en glo daar rus ook ’n groot verantwoordelikheid op sy skouers om ander tegnici aan te moedig om na die beste van hulle vermoë te presteer. Hy sê hy het self as jongeling ’n tyd op die plaas deurgebring toe sy pa naby Paul Roux geboer het en hy weet watter frustrasie staantyd kan meebring. Sy rol as werkende voorman by AFGRI Betlehem is om te help waar ander vasdraai en die lekkerste beloning is om ’n taai probleem op te los! Geniet die voordele van kundige tegnici. Kontak jou naaste John Deere-handelaar om uit te vind hoe hulle jou kan bystaan. Hooffoto: Die Top Tien John Deere-tegnici met die drie wenners in die voorste ry: Niel Ackerman, Artie Bester en Charles van Loggerenberg. Agter staan Sampie Cawood van Mascor Greytown, Gernus Janse van Rensburg van AFGRI Bethal, Casper Botha van Senwes Hertzogville, Eddie Hamilton van Senwes Kroonstad, Roedolf Jones van Senwes Parys, Andrew Killian van AFGRI Delmas en heel agter Gert Grobler van AFGRI Grootvlei.
http://www.proagri.co.za/john-deere-se-tegnikus-van-die-jaar-los-graag-taai-probleme-op/
2016-11-10 10:29:09
McDonalds SA sal 100% hok-vrye eiers gebruik
McDonalds Suid-Afrika het aangekondig dat hulle planne het om oor te skakel na 100% hok-vrye eiers in hulle voorsienningsketting teen 2025. Dit sal duisende henne spaar om in beknopte batteryhokke te sit. Humane Society International, een van die wêreld se grootste dierebeskermingsorganisasies, werk saam met McDonald’s en ander dierewelsynsorganisasies hieraan. Tozie Zokufa, Afrika se programbestuurder van Humane Society International, sê: “Ons jubel oor McDonald’s Suid-Afrika vir sy leierskap in korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid en dierewelsyn. McDonald’s se besluit om oor te skakel na hok-vrye eiers verbeter die vooruitsigte vir plaasdiere regoor Suid-Afrika en maak dit duidelik dat die toekoms van eierproduksie hok-vry is. Ons sien uit daarna om saam met organisasies te werk met soortgelyke beleide.” McDonald SA se hoofuitvoerende beampte, Greg Solomon, sê: “Vandag is ons bly om aan te kondig dat ons ten volle sal oorgaan na hok-vrye eiers in al ons restaurante regoor Suid-Afrika teen 2025. “Ons gaan in 2017 begin om hok-vrye eiers in te bring. Ons eierverskaffer het hom verbind tot die verskaffing aan ons met die kwaliteit, veilige en bestendige lewering van meer as 10% hok-vry per jaar totdat al die eiers wat ons gebruik hok-vry teen 2025 sal wees.”
http://www.proagri.co.za/mcdonalds-sa-sal-100-hok-vrye-eiers-gebruik/
2016-11-23 12:15:43
Ford bereik rekord markaandeel
Ford Motormaatskappy van Suidelike Afrika het ‘n baie goeie verkoopsmaand in Oktober 2016 gehad. Dis nie net die bereiking van die hoogste markaandeel ooit in Suid-Afrika nie, maar ook beduidende winste in die jaar-tot-datum aandeel en algehele verkoopsvolumes. Ford het sy beste markaandeel ooit van 16,4% in Oktober gehad, dit is gedryf deur sy volgehoue groei in beide die passasiers- en ligte handelsvoertuie. In teenstelling met die algemene afname in motorverkope het Ford ‘n totaal van 7 199 eenhede vir Oktober verkoop. Dit is sowat 26% hoër as September 2016 en 8% hoër as Oktober verlede jaar. Dit het bygedra tot Ford se jaar-tot-datum aandeel wat geklim het met 4,2%. Die Ford Ranger het sy pad terug gevind na die bokant van die verkopelys, terwyl die Fiesta ‘n nuwe mylpaal bereik het met sy beste verkope ooit. Die Fiesta het 1 856 verkope in Oktober gehad het. En die Ford EcoSport het die onbetwiste leier in die kompakte sportnutsvoertuie gebly, met sy 1 012 voertuie wat verkoop is. “Ons is baie bemoedig deur die groei van ons nuwe motorverkope wat gelei het tot Ford wat sy hoogste markaandeel ooit in Oktober verkry het,” sê Neale Hill, direkteur van bemarking,verkope en dienste vir Ford Motormaatskappy Sub-Sahara Afrika-streek. “Dit is ‘n baie uitdagende tydperk vir die motorbedryf, met die druk wat by verbruikers en handelaars gevoel kan word. Ons stel hierdie maand die plaaslike Ford Everest reeks voor en ons stel ook die Ford Options Finance Plan bekend wat kliënte ‘n wye reeks opsies bied wanneer dit kom by die koop en finansiering van nuwe Ford motors,” sê Neale. *Volgens die Nasionale Assossiasie van Automobielvervaardigers van Suid-Afrika (NAAMSA) was Oktober 2016 se totaal nuwe voertuigverkope teen 48 745 eenhede ‘n daling van 5 494 voertuie of ‘n daling van 10,1% in vergelyking met die 54 239 voertuie wat verlede Oktober verkoop is. Bron: Ford *Includes Associated Motor Holdings (AMH) and Amalgamated Automobile Distributors (AAD).
http://www.proagri.co.za/ford-bereik-rekord-markaandeel/
2016-11-03 10:07:19
Dom Boer se lag vir die dag:
Die ingewikkelde weë van die liefde Mooi jong nooi aan vriendin: “Dawie het my toe gisteraand gevra om met hom te trou. Hy het my die son, maan en sterre belowe… maar hy was ‘n bietjie ontwykend toe dit by die moontlikheid van ‘n skottelgoedwasmasjien gekom het.
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-226/
2016-11-03 13:35:19
Dom Boer se lag vir die dag:
Foutiewe bedrading Libbie Dioot se deurklokkie werk nie en sy bel Madiba’s Shock Shock BEE Electrical Shop. Hulle belowe om hulle beste elektrisiën dieselfde oggend nog te stuur om die deurklokkie te herstel, maar niemand daag op nie. Die volgende dag bel sy weer om te verneem hoekom niemand die deurklokkie kom regmaak het nie. Die bestuurder antwoord: “No, our electrician was there. He rang the doorbell several times but there was nobody at home.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-233/
2016-11-14 08:34:59
Veediewe brand los op boere en die Polisie
Die veediewe wat vroeg Woensdagoggend 16 November op twee boere asook op Polisiebeamptes in die omgewing van Bothasberg naby Kestell in die Oos-Vrystaat losgebrand het, word steeds gesoek. Die een boer het Dinsdagaand ligte in die veld opgemerk terwyl hy na sy vee omgesien het, wat deur ’n jakkals geteister word. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting is hy en ’n buurman vroeg Woensdagoggend terug na die veekamp toe, waar hulle die veediewe gevind het. ’n Onbekende aantal mans het glo probeer om van die boer se beeste te steel. Hulle het op die twee boere losgetrek, en die boere het die toneel verlaat en die Polisie ontbied. Die veediewe het ook op die Polisiebeamptes geskiet, en die Polisie se Tegniese Reaksie Taakspan is ook ontbied. Die verdagtes het vermoedelik oor die Lesothogrens gevlug, en geen vee is gesteel nie. Die boere is van plan om klagtes van poging tot moord te lê. Wees uiters versigtig Vrystaat Landbou (VL) en die lessenaar wil boere maan om, veral met die naderende feestyd, uiters versigtig te wees op hulle plase. “Ons rig ‘n spesiale versoek aan ons boere om oor die algemeen op hulle eie veiligheid te fokus, veral ook in die feestyd,” aldus Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van VL. Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê dit is die tweede voorval van veeroof wat die afgelope drie maande in die provinsie voorgekom het. “Ons wil boere aanmoedig om, wanneer hulle op veediewe of so ’n toneel afkom, nie die verdagtes alleen te konfronteer nie. Veerowe is uiters gevaarlik, en die boere moet onmiddellik die plaaslike veiligheid struktuur aktiveer en die Polisie ontbied.” Tommie sê hulle is bekommerd oor dié voorvalle, en het in Augustus die jaar reeds die Polisie se hoofbestuur gevra dat sake van betreding ernstige aandag moet geniet en dat swaarder strawwe vir betreders moet geld. Sodoende sal sulke voorvalle voorkom kan word. Die komitee en lessenaar dryf ook ’n deurlopende proses met die Polisie en Departement van Justisie in verband met vervolging van verdagtes en swaarder strawwe vir veediefstal. Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar
http://www.proagri.co.za/veediewe-brand-los-op-boere-en-die-polisie/
2016-11-17 09:57:31
Dankbaar vir goeie reën
Daar is groot dankbaarheid vir die redelik goeie en wydverspreide reën wat oor groot dele van ons land geval het, aldus Louis Meintjes die president van TLU SA. Louis het daarop gewys dat die ingrepe van die droogte in alle boerderyvertakkinge van so ‘n omvang was en steeds is dat daar nog nie sprake van herstel is nie. In sommige gevalle sal dit ‘n paar jaar neem om weer volhoubare produksievlakke te kan bereik. Die geloofspad wat die boere gestap het deur hierdie ongemaklike tyd was ‘n aspek wat uitgestaan het. In die verband wil ons graag al die kerkgenootskappe sowel as boere onderling bedank vir die geestelike bystand en onderskraging wat deurlopend gegee word. Die krag van gebed is opnuut beklemtoon en dit het boere gedra. Louis het daarop gewys dat daar groot dankbaarheid is vir al die skenkings wat vanuit ‘n wye gebied ontvang is om boere se nood te help verlig. Sonder om afbreuk te doen aan elke ander donateur wil TLU SA opnuut baie dankie sê vir Solidariteit-beweging wat deur middel van Helpende Hand, AfriForum en Solidariteit self etlike duisende rand bewillig het waarvan die laaste gelde op hierdie stadium tot beskikking van boere oor die land gestel is. Spanwerk was ook hoog op almal se sakelys en is daar as voorbeeld groot waardering toe ‘n TLU SA-lid by Makoppa, Henk Schutte ongeveer duisend bale voer geskenk het aan medeboere en die volgende rolspelers elkeen binne hul eie vermoë uitgereik het met hulp om die bale te kon verskuif na verskeie boere in Stella, Schweizer Reneke en Coligny. Ons sê dankie aan Obaro, NWK, Boere in Nood, Agri Limpopo en CVO-vervoer wat almal gehelp het met die verskuiwing. ‘n Ander aspek wat in die tyd ook baie sterk na vore gekom het was die wyse hoe boere oor distrik en provinsiale grense heen hulp verleen het. Louis het daarop gewys dat in baie gevalle lê hef-aan nog voor en vertrou ons dat daar deur al die rolspelers gepoog sal word om op so wyse bystand te verleen dat ons die huidige boere in produksie kan hou. Bron: TLU SA
http://www.proagri.co.za/dankbaar-vir-goeie-reen/
2016-11-29 13:36:08
Stoere Kubota werk steeds fluks na 5 500 uur
Pure, onverdunde boerderybloed is wat in die are van Jens Teggethof, pekanneutboer van Hartswater, vloei. Hy is lief vir die buitelug, vir trekkers, vir boerdery, vir die lewe oor die algemeen en veral vir sy vloot flukse Kubota-staatmakers. “Kubota-trekkers se betroubaarheid en hulle krag-tot-gewigverhouding maak hulle perfek vir pekanneutboerdery,” sê hy. “Toe ek destyds saam met my suster begin boer het, het sy ’n Kubota (ME 9000) gehad – ’n trekkerfabrikaat wat ek nooit vantevore gebruik het nie. Kort voor lank het die Kubota se werkverrigting my so beïndruk dat ek nog een gekoop het, en toe nog een, en… wel, vandag het ek ses Kubotas waarvan een, die L5040, met 5 500 probleemvry ure op sy klok spog,” sê Jens. Jens sê hy het lankal geleer dat prys nie die enigste oorweging moet wees as jy ’n trekker koop nie. “Vele boere trap in die slagyster om die goedkoopste te koop en dan jare lank deur hulle nekke te betaal om die ding aan die loop te hou. “Ek het ander soorte trekkers besit en ek kan getuig dat die Kubota se brandstofdoeltreffendheid en betroubaarheid hom een van die goedkoopste trekkers maak om te besit. Met Kubota het ek ’n groot klomp geld bespaar, al mag die aanvanklike aankoopprys ’n bietjie hoër wees,” sê hy. Die hoofwerkesels op Jens se plaas is die drie Kubota M9540’s. “My oudste M9540 het 3 500 uur op die klok en het nog geen probleme hoegenaamd opgelewer nie. Omdat dit ligte trekkers is, versteur dit nie die grond beduidend nie, wat veral vir ons besondere besproeiingsmetode belangrik is. Die M9540 is een van Kubota se beste verkopers. Die M9540 is herontwerp, verbeter en met Kubota se wêreldbefaamde Vlak III-aanpasbare, viersilinder E-CDIS (centre direct injection system) -dieselenjin toegerus. Hierdie ligte, ratse kortasafstandtrekker val presies in die smaak van die boer en ander kieskeurige gebruikers. Een van die M9540 se gewildste kenmerke is sy kragaftakker wat volkome onafhanklik van die ratkas met ’n kort hefboompie net onder die stuurkolom beheer word. Die aparte multi-plaat nat koppelaar werk altyd gladweg en sonder rukke en skokke te danke aan die vloeibeheer van die drukking en die stootremstelsel. Dit is ’n belangrike eienskap vir spuit- of snywerk. Jens se jongste aanwins is die nuut-vrygestelde Kubota L45 TLB (trekker, laaigraaf, trugrawer). Met die nuwe Kubota HST Plus hidrostatiese aandrywing en propvol krag, is die L45 perfek vir al die uiteenlopende take op ’n pekanneutplaas. “Ek is ingenome met die masjien,” sê Jens. “Hy kan gebruik word vir slote en gate grawe, grondverskuiwing, laaiwerk en ’n magdom ander take. Hy is veelsydig en kragtig en veral nuttig vir werk rondom bome waar sy hanteerbaarheid skade aan bome uitskakel.” Jens is ewe ingenome met die diens wat hy van Dirk Venter by Danlou Agri, die Kubota-agentskap in Hartswater, ontvang: “Dirk en sy span is altyd gereed om meer as hulle plig te doen en dit plaas die kroon op die Kubota-ervaring,” verklaar hy. Die Kubota-handelaar wat voortreflike diens aan Jens Teggethof lewer, is Dirk Venter van Danlou Agri, Hartswater, tel 078-560-6704, e-pos [email protected]. Boere in ander gebiede kan Robert Keir by 011-284-2024 skakel of ’n e-pos aan [email protected] stuur. Kubota se volledige reeks pronkprodukte vir die boer is te sien op die webwerf, www.kubotasa.co.za.
http://www.proagri.co.za/stoere-kubota-werk-steeds-fluks-na-5-500-uur/
2016-11-10 09:47:09
TOYOTA bly bobaas wys jongste motoropname
Toyota Motors Suid-Afrika staan weer uit in die 2016-voertuiggehaltepeiling van Ipsos met altesaam twaalf goue-toekennings – vyf in die afdeling vir passasiersvoertuie en sewe in die afdeling vir ligte handelsvoertuie (LHV). Die Hilux was gewis weer ’n held in die Toyota-stal met die beste gehaltetelling vir die petrol-enkelkajuit. Dié model het nog twee toekennings losgeslaan – beste diesel-enkelkajuit en beste diesel-dubbelkajuit. Die Hilux is ook as beste eenton-enkelkajuitfabrikaat en beste dubbelkajuit-voertuigfabrikaat aangewys. Trouens, Toyota het skoonskip in die LHV-afdeling gemaak deur sy mededingers te klop en as beste LHV-fabrikaat algeheel aangewys te word. Van die ander hoogtepunte was die prys vir die beste LHV-aanleg en die goue-toekenning vir sy vervaardigingsaanleg in Prospecton, KwaZulu-Natal. Nog iets wat noemenswaardig is, is dat die Prospecton-aanleg onlangs ’n belegging van R6,1-miljard vir verbeterings vir Hilux- en Fortuner-vervaardiging ontvang het. Die regstreekse gevolg daarvan was ’n toename in vervaardiging, bykans 2 000 werksgeleenthede en ’n styging in plaaslike inhoud vir al twee voertuigreekse. Toyota fokus op ‘ingeboude gehalte’, wat uitgebreide opleidingsprogramme vir personeel beteken om te verseker dat alle prosesse die hoogste gehalte haal. Dit word bewys deur opleiding vir personeel wat gedurende die opgraderingstydperk op R205- miljoen te staan gekom het. “Gehalte is een van die voorkeurgebiede by Toyota,” sê Calvyn Hamman, senior vise-president van verkope en bemarking by Toyota Motors Suid-Afrika. “Ons fokus daarop om gehalte, duursaamheid en betroubaarheid in elk van ons voertuie in te bou omdat ons besef dat dit ’n groot oorweging is wanneer mense voertuie koop, en ons streef daarna om die beste klantediens te bied. Ons is baie in ons skik met die algehele vertoning van Toyota, veral die Hilux-prestasie. Ek glo dit spreek van ons streng interne gehaltestandaarde en ons verbintenis tot ons klante,” het Calvyn gesê. Toyota het ook in die afdeling vir passasiersmotors uitgeblink en nog vyf goue-toekennings vir die beste klein luikrug (Yaris), beste groot luikrug (Auris), beste klein sedan (Corolla Quest), beste nuwe volume-passasiersmotor (Corolla Quest) en beste volumepassasiersmotorfabrikaat gewen. “Ons het ook met ons verkoopsyfers op ’n regstreekse verband teenoor die tellings in die peiling gelet. In die ontleding van die produkgehaltetelling word dit net weer bewys dat Suid-Afrikaners voertuie koop wat hulle glo betroubaar is en op grond van gehalte gebou is. Hierdie bekragtig Hilux net weer as Suid-Afrika se mees geliefde voertuig,” sê Calvyn. Die peiling is die grootste van sy soort in Suid-Afrika en is deel van Ipsos se voertuignavorsing. Die peiling behels elke jaar onderhoude met meer as 30 000 voertuigeienaars. Die gehaltepeiling word drie maande nadat ’n nuwe voertuig aangeskaf is, gedoen om vas te stel watter probleme die nuwe eienaar ondervind het. Die voertuiggehaltepeiling word uitgedruk as PP100 deur nie net te bepaal hoeveel ‘defekte’ elke 100 klante ervaar nie, maar ook hoe doeltreffend voertuie in die smaak van kopers val. “Ons is baie trots op hierdie prestasie. Ons roem op ons gehalte en wanneer ons klante dit beaam, wys dit dat die werk wat ons op hierdie gebied doen erkenning geniet. Ons het twee doelwitte by Toyota – om beter motors te bied en deur glimlagte op ons klante se gesigte beloon te word – en ek dink dit bewys dat ons in die regte rigting op pad is,” sê Calvyn. Bron: Toyota
http://www.proagri.co.za/toyota-bly-bobaas-wys-jongste-motoropname/
2016-11-15 08:09:01
2017 Hyundai Tucson: Gewilde Koreanse veldryer kry diesel enjin
Hyundai het so pas sy baie gewilde nuwe Tucson modelreeks met twee turbodiesel enjins uitgebrei. Vroeë vanjaar is die nuwe Tucson, ‘n medium grootte es-joe-wee, wat die gewilde IX35 model in Suid-Afrika vervang het, met ‘n 1,6 l turbo-aangejaagde petrolenjin bekendgestel. Die model het intussen die segmentleier in plaaslike verkope geword, met meer as 600 eenhede wat maandeliks nuwe eienaars kry sedert die plaaslike bekendstelling. Met twee dieselmodelle ook nou beskikbaar, word verwag dat die modelreeks selfs meer kopers gaan trek. Die 2016 Tucson is ook ‘n finalis in die toonaangewende Wesbank/Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste se 2017 Motor van die Jaar kompetisie. Voorkoms buite het ooreenkomste met die groter en luukser Santa Fé. Onder leiding van Peter Schreyer, Hyundai se hoof ontwerper, is die nuwe Tucson ‘n visuele kragtoer. Die Tucson hurk, soos dit ‘n SUV betaam, oor groot wiele wat die voertuig hoog laat staan, terwyl bultende wielboë saam met die lang kant- en daklyn wat na agter swiep, aggressie en sportiwiteit tot die voorkoms voeg. Die neus is prominent en dra nou, anders as die iX35, die Santa Fé se groot heksagonale sierrooster en LED ligte. Agter sorg nuwe ligte, twee uitlaatpype en die heuplyn bokant die buffer vir ‘n treffende voorkoms. Die binneruim voel en vertoon duursaam en luuks met harde plastiekafwerking grootliks afwesig. Afwerking in swart en dowwe aluminium het duursaam vertoon en gevoel. Digitale klank/radio stelsel met ses luidsprekers is standaard terwyl telefoonkoppeling koordloos via Bluetooth gedoen kan word. Tydens bekendstelling het ons slegs die 1,7 diesel handrat model kon bestuur, want die 2,0 diesel outomaties se aflewering in SA was onvoorsiens vertraag. Die nuwe Tucson se ritgehalte en padgedrag is soortgelyk soos die petrol modelle, maar die diesel se middelstrek wringkrag maak stadsry meer gemaklik. Op die grondpad en die ooppad het goeie hantering en paddinamika opgeval met relatief min bakrol as jy deur die draaie sool. Tydens die bekendstellingsrit het ons vanaf die lughawe oor Stellenbosch tot in die Paarl waar ons bergop na die Paarlberg Natuurreservaat gery het en toe snelweg langs terug Kaapstad toe. Die stowwerige grondpaadjie bergop en af het die onderstel en veerstelsel behoorlik beproef en die goeie balans tussen sportiwiteit en gemak het opgeval, grootliks te danke aan die McPherson stutte voor en die veelskakelveerstelsel met springe en teenrolstaaf agter. Die stuurgevoel en terugvoer het vertroue ingeboesem selfs deur die draaie op die grondpad, terwyl gasgevulde skokabsorbeerders die sinkplaatgedeeltes heerlik gedemp het ten spyte van die groot 245/45 R19 wiele. Die nuwe 1,7 liter turbodiesel enjin, wat voldoen aan die Euro 6 regulasies vir skoon uitlaatgasse, lewer 85 kW by 4000 rpm met 280 Nm se piek wringkrag wat tussen 1250-2750 rpm beskikbaar is. Aandrywing is na die voorwiele deur ‘n 6-gang handratkas. Die nuwe Hyundai Tucson 1,7 Diesel handrat Executive kos R439,900 en die Tucson 2.0 Elite outo wat later vandeesmaand plaaslik land verkoop teen R519 900. Hyundai se 5 jaar/150 000 km waarborg wat ‘n nuwe addisionele 7 jaar/200 000 km waarborg vir die aandrywingstelsel insluit is standaard by alle nuwe Hyundai modelle beskikbaar. Ook ingesluit is ‘n padbystanddiens vir 5 jaar/150 000 km en ‘n 5 jaar/90 000km diensplan. Die 1.7 l Diesel word elke 30 000 km gediens, terwyl die 2.0 diesel se dienste elke 15 000km gedoen moet word. Geskryf deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
http://www.proagri.co.za/2017-hyundai-tucson-gewilde-koreanse-veldryer-kry-diesel-enjin/
2016-11-25 06:43:54
Meer vrugte moet na Sjina uitgevoer word
‘n Samewerkingsooreenkoms om marktoegang vir vrugte tussen Suid-Afrika en Sjina te verseker, is pas onderteken. Willem Bestbier, die adjunk-voorsitter van Vrugte Suid-Afrika en die adjunk-president van die Sjinese Kwarantyn en Inspeksie Vereniging, Wang Xin het die ooreenkoms in Beijing geteken. Sjina bly die land met die grootste mark gegewe sy bevolking van 1,38 biljoen. Die totale invoere van vrugte in Sjina gedurende 2015 was 3,8 miljoen ton en die waarde was $5-miljard. Suid-Afrika kon net 110 000 ton vrugte in die tydperk na Sjina uitvoer, wat ‘n druppel in die oseaan is. Gegewe dat Suid-Afrika tans omtrent 2,7 miljoen ton vrugte wêreldwyd uitvoer is die waarde van sy uitvoere na Sjina baie klein. Vrugte SA werk saam met die departement van Landbou om meer toegang tot ander vrugtetipes te kry. Die doel van die ooreenkoms tussen die twee organisasies is om die uitdagings wat tans ondervind word in die uitbreiding van en die verbreding van toegang tot die mark aan te spreek. Die ooreenkoms sal verseker dat die twee organisasies hulle regerings ondersteun in die verskaffing van die nodige tegniese inligting en leiding om die onderhandelingsproses vir marktoegang vir nuwe produkte te bespoedig. Suid-Afrika kan net appels, tafedruiwe en sitrus na Sjina uitvoer. Die twee regerings onderhandel marktoegang vir pere en daarna avokado’s en dan ander tipe vrugte. Die twee partye sal die ooreenkoms gebruik om die ondersteuning te verskaf wat nodig is tydens onderhandelinge vir marktoegang tussen die twee lande. Met die inwerkingstelling van hierdie ooreenkoms en die versnelling van marktoegang, wil die vrugtebedryf sy uitvoere na Sjina in die volgende vyf jaar met ongeveer 350 000 ton verhoog. Dit sal ‘n seën vir die landbou-ekonomie en ook vir werkskepping wees, aangesien meer boorde gevestig kan word om hierdie belangrike mark te ondersteun. Bron: Bizcommunity
http://www.proagri.co.za/meer-vrugte-moet-na-sjina-uitgevoer-word/
2016-11-08 14:27:40
Twee plaasaanvalle oor een naweek in die Vrystaat
Vrystaat Landbou (VL) wil weer eens boere aanmoedig om uiters versigtig en paraat te wees soos wat die feesseisoen nader kom, met twee plaasaanvalle wat die naweek in die Vrystaat voorgekom het, een plaasaanval wat voorkom is en munisipale beamptes wat deur boere vasgetrek is nadat hulle vee gesteel het. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se inligting, het boere van Warden Sondag 27 November 2016, twee munisipale beamptes van die Phumelela Munisipaliteit vasgetrek wat glo sowat 35 skape gesteel het. Die boere was op pad van die kerk af huis toe, toe hulle die bakkie langs die pad gewaar met 10 skape agter op, maar met geen traliewerk soos wat deur die wet vereis word nie. Ben Greyling, veiligheidskoördineer, sê die plaaswagstelsel is in kennis gestel en boere het die pad afgeblok en die voertuig afgetrek, waarna die Polisie ontbied is. Vyf skape is in die plaaslike nedersetting terugggevind. Nuwe tatoeërmerke was reeds aan die binnekant van die diere se ore aangebring. Die afsetpunt vir die veediewe is glo QwaQwa. Een van die munisipaliteit se bakkies is tydens die voorval gebruik. Die saak word tans verder ondersoek, en nog arrestasies is moontlik. ’n Plaasaanval is Vrydagaand 25 November 2016, in die Reitz-distrik voorkom. Die plaaslike veiligheidstruktuur en Polisie is Donderdag 24 November 2016 oor die moontlike voorval ingelig. Na meer besonderhede bevestig is, het die Polisie en boere saamgewerk om die voorval te voorkom. Een verdagte is gevind by die huis waar die vermeende aanvallers glo sou ontmoet. Dwelms is op die perseel gevind, en die verdagte is onmiddellik in hegtenis geneem. Nog inligting word in verband met die voorval opgevolg, en verdere arrestasies is moontlik. Vrystaat Landbou het sy dank uitgespreek teenoor informante wat baie keer hulle lewens op die spel plaas om misdaad te beveg. “Ons wil diegene wat deel vorm van veiligheidstelsels herinner dat informante baie belangrike rolspelers is en dat hulle inligting en identiteite beskerm moet word.” Intussen is VL baie dankbaar dat geen lewensverlies voorgekom het tydens plaasaanvalle by Viljoenskroon en Ladybrand nie. Jannie du Plessis, ’n boer van die plaas Ramdam naby Viljoenskroon, is Saterdagoggend, 26 November 2016 tussen 01:00 en 01:30 deur ses verdagtes in sy huis aangeval. Hy het wakker geword van die geluid van iets wat breek, en die volgende oomblik is sy kamer se lig aangeskakel. Jannie is vasgebind, en met wapens en messe gedreig. Die verdagtes het met wapens, sy bakkie en ander goedere op die vlug geslaan. Na sowat twee ure kon Jannie homself loswikkel en hy het die Polisie en plaaslike veiligheidstruktuur van die voorval in kennis gestel. Hy het na sy familie naby aan hom gery, en sy bakkie langs die pad gevind. Een van die verdagtes was nog in die bakkie, maar hy het te voet op die vlug geslaan toe hy Jannie en die Polisie se voertuie se ligte sien. Die plaaslike veiligheidstruktuur, VL en die lessenaar wil opregte dank uitspreek teenoor een van die Polisiebeamptes wat sy eie voertuig gebruik het om Jannie te hulp te snel. Die plaaslike Polisiestasie se bakkie het deur die loop van Vrydag gebreek, en die beampte en drie van sy kollegas het in sy eie voertuig na Jannie se plaas gejaag. Jannie se bakkie en een gesteelde wapen is teruggevind. Verdagtes word nog gesoek in verband met die saak. Twee verdagtes word gesoek na hulle ’n voorman op die plaas Italy in die Ladybrand-distrik aangeval het Sondagoggend 27 November 2017, omstreek 02:00. Die 60-jarige ML Masebo is aangeval terwyl hy geslaap het. Die verdagtes het ML met messe aangehou en geld geëis. Hulle het met kontant op die vlug geslaan. Verdagtes word tans gesoek. Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte van VL, betuig opregte dank teenoor al die Polisiebeamptes wat hulle werk getrou verrig en landelike gemeenskappe se belange op die hart dra. “VL wil graag alle boere aanmoedig om uiters paraat te wees in die komende maande, veral aangesien misdaad op plase tradisioneel toeneem in dié tyd.” Tommie Esterhuyse, voorsitter van VL se Wet en Orde Komitee, sê die organisasie is baie dankbaar vir die goeie samewerking wat tussen die Polisie en boere in die provinsie bestaan wat tot die suksesse van die naweek bygedra het. “Lig jou werkers in dat hulle jou op hoogte moet hou van enige besoekers wat hulle verwag, en stel die plaaslike veiligheidstrukture in kennis van verdagte voertuie. Maak ook seker dat die veiligheidstelsels op die plaas en by jou huis in goeie werkende toestand is en toets dit gereeld.” Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar Foto: verskaf
http://www.proagri.co.za/twee-plaasaanvalle-oor-een-naweek-die-vrystaat/
2016-11-28 15:56:13
Noupoort Merinoklub se beste ooi aangewys
Deur Juan Venter, NWKV Produksie Adviseur: Middelburg Noupoort Jongooi Merinoklub se mees ekonomiese ooitjies is aangewys en groep ooitjies is geïdentifiseer op grond van wolgroei en massa-toename. Kategorieë waarin deelgeneem word, is (per groep ooitjies en individuele ooitjie) beste totale waarde (vleis en wol), hoogste vleiswaarde, hoogste wolwaarde en hand-en-oog klassering. Die klub is in 2010 deur elf merino-boere van Noupoort gestig. Vanjaar het 13 boere deelgeneem, waarvan een ‘n gas was, naamlik PD Jacobs en sy skoonseun Willem Grobbelaar van Pdrino Merinos van Trompsburg in die Vrystaat. Jaarliks skryf die lede ‘n groep van 6 speenooitjies in (ouderdom van ongeveer 6 maande met inname). Die ooitjies word dan vir ʼn periode van ongeveer 8 maande by een van die lede geëvalueer. Elke jaar word ‘n gas, gewoonlik ‘n bekende stoetboer uitgenooi om ook 6 ooitjies in te skryf. Hierdie ooitjies word vir die tydperk wat hulle by die gasheer is, volgens die oordeel van die gasheerboer bestuur. Daar word so ver moontlik gepoog om die ooitjies op dieselfde wyse te bestuur as wat die gasheer met sy jong ooitjies doen. Hierdie wyse van bestuur sluit die gasheerboer se ent- en doseringsprogramme in en die ooitjies kan ook ‘n lek ontvang om hulle vermoë om die veld beter te benut, te stimuleer. Daar word daarteen gewaak om die ooitjies te ‘voer’. Die gasheer vir 2016 was Jim de Villiers van die plaas Toitdale, Noupoort. Gedurende die inname en met die opedag gedurende die toetsperiode, het PD Jacobs en Willem Grobbelaar die ooitjies beoordeel volgens die hand-en-oog metode en die 5 beste ooitjies is uitgehaal. Hierdie evaluasie tel egter geen punte nie. Met die opedag word ‘n wolmonster van elk van die ooitjies geneem. Hierdie wolmonsters word ontleed en daarvolgens ontvang elke ooitjie ‘n wolwaarde wat gekoppel is aan die pryse van die jongste 3 wolveilings voor die finale dag. Op die finale dag word die kompetisie in twee verdeel. Eerstens kies een of twee onafhanklike beoordelaars (vanjaar was dit dr Nolte Troskie) die vyf beste individuele ooitjies volgens die hand-en-oog metode. Tweedens word die ooitjies geskeer en elke ooitjie ontvang ‘n wol- en vleiswaarde, waar faktore soos wolmassa (volgens die pryse soos hierbo verduidelik), massa-toename en eindmassa die belangrikste faktore is. Hierdie waardes word alles in ‘n rekenaarprogram ingevoer en die mees ekonomiese groep ooitjies gekies (waar elke boer se beste vyf ooitjies se waardes gebruik word in die finale resultate). Deur die jare het die betrokkenheid van die dames ook baie gegroei, tot by die punt waar dit nou ‘n familie-kuier is waar die mans en vrouens elk hulle eie verrigtinge het, maar ook by mekaar inloer. Vanjaar was daar ‘n damesprogram wat deur Ashley Lombard aangebied is met die tema, “Spiritual, Physical and Mental wellness.” Die projek word ook sterk deur verskeie borge ondersteun. Hierdie borge maak dit moontlik vir die gasheerboer om nuwe middels en lekaanvullings op die proef te stel, asook om groot pryse op die finale dag beskikbaar te stel. Die groot voordeel van die projek is dat daar gesien word watter tipe ooie die meer ekonomiese ooie is en dat die boere sosiaal saam verkeer en ook so by mekaar leer. Die wenners vir 2016 lyk as volg: Mees ekonomiese groep van 5 ooitjies Dykie de Villiers Jimpie de Villiers Hand-en-oog klassering SP van der Walt Dykie de Villers Groep van 5 ooitjies met hoogste wolwaarde Dykie de Villiers Jimpie de Villers Enkel ooitjie met hoogste wolwaarde Dykie de Villers Arina de Villiers Groep van 5 ooitjies met hoogste vleiswaarde Dykie de Villiers Jimpie de Villiers Enkel ooitjie met hoogste vleiswaarde Jimpie de Villiers Piet Davel Enkelooitjie: Mees ekonomiese ooitjie en dan die wenner vir 2016 – Dykie de Villers Foto: Wenners van hand-oog-klassering van links na regs – SP van der Walt, Dykie de Villiers, Frikkie Visser, Jim de Villiers en Michael Hayward.
http://www.proagri.co.za/noupoort-merinoklub-se-beste-ooi-aangewys/
2016-11-21 14:37:11
Verspreider van die maand: Alzu en ProAgri boer saam
Dit is nie net boere wat ProAgri lees nie. Ons Verspreider van die Maand, Shen-Lee Flavell, assistent-depotbestuurder van Alzu, Rayton, sorg ook dat prof Cheryl McCrindle, ’n plaaslike grootdierveearts, haar eksemplaar elke maand kry voordat die boere alles opraap! Prof McCrindle se praktyk, Donkerhoek Veearts, is reg langs die depot geleë en hulle albei is maklik bereikbaar as deel van die Jan Ellis-kompleks by die Rayton-afrit van die N4-deurpad af. Prof McCrindle (70) is veral bekend in die perdewêreld en het ook al internasionaal as ruiter meegeding in die “Western”-styl in die Wêreldkampioenskap in Amerika. Shen-Lee ontvang vandeesmaand die R500-koopbewys wat ProAgri elke maand aan die verteenwoordiger van ‘n landbouhandelstak wat besondere moeite gedoen het om die tydskrif onder die boere te bevorder, skenk. Die Rayton-depot van Alzu versprei egter nie net ProAgri aan die boere (en veeartse!) in die onmiddellike omgewing nie. Oom Pat Pannall, die bestuurder, sorg ook dat die hele Alzugroep se tydskrifte van daar af hulle pad vind na al die depots. Alzu se hoofkantoor is naby Middelburg en die voermaatskappy het nou al 17 takke in ’n 300 km straal van daar af. Die depots bedien boere van enige soort voer, waarvan die meeste op die Alzu-plaas by Middelburg vervaardig word. Perde, beeste, skape, varke, hoenders, honde, katte, voëls en selfs visse se eienaars maak gereeld ’n draai by hulle plaaslike Alzu vir goed gebalanseerde kos vir hulle diere. ’n Verskeidenheid ander dierepodukte word ook aangehou, van krippe en hoenderbakke tot gesondheidsmiddels en speelgoed vir dierekinders. En natuurlik is daar ook goeie leesstof in die vorm van 50 gratis ProAgri’s in elke tak! Neem só deel: Neem ’n foto of laat jou kollega ‘n foto neem van jou of julle tak se poging om te sorg dat ProAgri elke maand by elke boer uitkom en stuur dit na 079-515-9708 of na Angeline by [email protected]. Angeline sal verder met jou gesels. Sy gaan ook elke maand skakel om seker te maak dat julle wel julle tydskrifte ontvang het. Foto: Shen-Lee Flavell, assistent depotbestuurder van Alzu Rayton, sorg dat prof Cheryl McCrindle, ‘n plaaslike grootdierveearts, haar ProAgri elke maand kry.
http://www.proagri.co.za/verspreider-van-die-maand-alzu-en-proagri-boer-saam/
2016-11-11 09:04:02
Ranger klop Hilux: Bakkieverkope vir Oktober 2016
Die Ford Ranger se verkope het die Toyota Hilux s’n in Oktober verbygesteek, volgens verkoopsyfers wat deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) vrygestel is. Binnelandse verkope van nuwe ligte handelsvoertuie (LHV) wys dat 13 559 eenhede gedurende Oktober verkoop is, wat ‘n ernstige afname van 1 623 eenhede of 10,7% is in vergelyking met die 15 182 voertuie wat gedurende dieselfde maand in 2015 verkoop is. Die Ranger en Hilux is die enigste bakkies wat meer as 2 000 eenhede verkoop het, met die Nissan NP200 wat na die Hilux op 1 175 staan. Die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van SA sê: “Plaaslik bly die kort- tot mediumtermyn ooruitsigte uiters uitdagend. Nuwe voertuie se prysinflasie plaas druk op huishoudings se besteebare inkomste. Lae vlakke van sakevertroue en relatief hoë rentekoerse sal voortgaan om ‘n negatiewe impak op verkope van nuwe voertuie te hê. ” Die top 10: Ford Ranger – 2 964 Toyota Hilux -2 781 Nissan NP200 – 1 175 Chevrolet Ute – 1 131 Isuzu KB – 953 Nissan Hardbody – 868 Toyota Land Cruiser-bakkie – 276 Volkswagen Amarok – 264 Mahindra Bolero – 69 Mahindra Scorpio bakkie – 68 Bron: wheels24
http://www.proagri.co.za/ranger-klop-hilux-bakkieverkope-vir-oktober-2016/
2016-11-14 08:45:00
Dom Boer se lag vir die dag:
Ek dink ek weet… Klein Marietjie krap oral rond en brom: “Ek wonder waar die hel is my ander skoen…” Pa Dawie bestraf haar onmiddellik: “Waar die hel kom jy aan sulke lelike taal?”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-235/
2016-11-16 08:07:51
Goeie geleentheid vir opleiding in omgewingsverwante beroep
Skoolverlaters wat graag ‘n omgewingsverwante beroep wil volg of nog onseker is oor hulle toekoms, kan gerus by die Academy for Environmental Leadership aanklop. By die instelling word skoolverlaters se lewensvaardighede, kennis, selfvertroue en leierskapeienskappe ontwikkel terwyl hulle werk aan ’n tersiêre kwalifikasie. As hierdie kwalifikasie bereik word, sal dit die studente in staat stel om ’n verskeidenheid loopbaangeleenthede in omgewingverwante rigtings soos die alternatiewe energiebedryf, landbou, bewaring, toerisme, navorsing en impakstudies te volg. Die Academy for Environmental Leadership Suid-Afrika (AEL) het pas hoër sertifikaat-status vir hulle een jaar-kursus ontvang. AEL is in September in kennis gestel dat die Raad op Hoër Onderwys (RHO) hulle aansoek goedgekeur het. “Daar is net twee formaliteite wat nog oorbly, maar die resultaat van hierdie akkreditasie is dat dit AEL volle erkenning gee op ’n tersiêre vlak vir ons unieke en heel eerste omgewing- en leierskap-kurrikulum. Ons het nou die vryheid om ’n kursus wat ten volle geakkrediteer is by ons unieke instelling in sy unieke omgewing te adverteer,” sê Gys Botha, hoofuitvoerende beampte en direkteur van AEL. Die kwalifikasie, ’n hoër sertifikaat in Bewaringsekologie, NKR Vlak 5, sal in werking tree tydens die eerste kwartaal van 2017, sodra verdere goedkeuring ontvang is deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasie-owerheid (SAKO), waarna die sertifikaat op die Nasionale Leerdersrekordsdatabasis gepubliseer sal word. “Die akkreditasie en erkenning van AEL as ’n hoër opvoedkundige instelling is ’n groot prestasie. Uiteindelik, as ons dit versigtig beplan en bestuur, mag ons in die toekoms besluit om ’n een jaar-kursus vir ’n hoër sertifikaat, ’n twee jaar-kursus vir ’n diploma en ’n drie jaar-kursus vir ’n graad aan te bied,” sê advokaat Fef le Roux, voorsitter, direkteur en stigter van die Akademie. Die idee vir ’n keer-terug-na-ons-grondbeginsels opvoedkundige program is voorgestel deur advokaat Fef en onderskryf deur die beroemde omgewingspesialis, Dave Pepler. Saam het hulle die nuut-geakredditeerde kurrikulum waarvoor AEL reeds bekendis, ontwerp. Vir meer inligting of enige navrae met betrekking tot AEL of om in te skryf, kontak vir Gys Botha by +27 (82) 4416 825, of stuur ’n e-pos aan [email protected]. Bron: Lumico
http://www.proagri.co.za/goeie-geleentheid-vir-opleiding-omgewingsverwante-beroep/
2016-11-14 11:28:57
Renault Captur Sunset Edition
Renault het onlangs sy gewilde Captur sportsnuts-modelreeks uitgebrei met die toevoeging van dieselenjins asook ‘n pragtige Sunset Edition wat as ‘n beperkte weergawe beskikbaar is. Volgens Renault groei verkope in die klein sportnuts segment en is hulle Captur-model waarvan 300 eenhede elke maand nuwe eienaars kry, se verkope aan’t klim. Dit is tans, naas die goedkoper intreevlak Sandero, hulle tweede beste verkoper wat, midde in ‘n straf kompeterende segment en ‘n ekonomie wat knyp, boekdele spreek van die oulike Fransman se gewildheid. Die Captur-reeks het aanvanklik slegs bestaan uit twee petrolenjin-modelle. Die intree model is die 900 cc turboaangedrewe petrol wat 66 kW en 135 Nm se pieksyfers lewer en na die voorwiele aangedryf word met ‘n 5-gang handratkas. Twee afwerkingsvlakke naamlik Expression (R249 900) en Dynamique (R264 900) is beskikbaar. Renault se amptelike brandstofverbruik word aangegee as ‘n indrukwekkende 4,9 liter per 100 km. Die Captur 88 kW Turbo EDC kom toegerus met ‘n 1200 cc vier silinder turbo-oondjie wat 88 kW en 190 Nm uitskop. Aandrywing is ook na die voorwiele maar hier wel deur ‘n 6-gang dubbelkoppelaar outokas. Slegs die hoër Dynamique afwerkingsvlak is plaaslik beskikbaar teen R304 900. Volgens Renault gebruik hierdie knaap slegs 5,4 liter per 100 km. Nou onlangs was ons by die bekendstelling van twee nuwe modelle, waarvan een ‘n Limited Edition is, wat tot die reeks gevoeg en met die bekende 1,5 dCI diesel turbo enjin toegerus is. Die 1461 cc viersilinder dieselturbo enjin lewer 66 kW se piekkrag en ‘n gewillige 220 Nm wringkrag. Aandrywing is na die voorwiele deur ‘n 5 gang handratkas. Hierdie dieselenjin is geen onbekende op plaaslike bodem nie en doen reeds fluks diens in die Juke, Qashqai en NP200 bakkie-modelle van Nissan. By Renault kom die Duster en die Kadjar met hierdie gewilde oliebrandertjie toegerus. Volgens Renault is hierdie enjin wêreldwyd gesog en word reeds in 85 voertuigmodelle gebruik, waaronder Mercedes se A-klas in Europa. Benewens die twee nuwe modelle het Renault ook die hele modelreeks se multimediastelsel opgegradeer. Hierdie stelsel bied klasleidende funksies soos ondermeer satnav navigasie in al die modelle. Die bedryfstelsel wat benewens die satnav ook die kommunikasie en slimfoon integrasie, klankstelsel en voertuiginligting oordra, werk nou vinniger met die raakskerm wat aan selfoontablette herinner en soortgelyk werk. By die satnav stelsel is die beelde en kaarte veel meer akkuraat en realisties en is die steminstruksies ook makliker om te verstaan. ‘n Tru-kamera met hoëresolusie beelde wat vertoon as die motor in trurat geskakel word is ‘n verdere toevoeging . Die radio skakel nou koordloos met jou slimfoon sodat jy jou gunsteling kompelasies vanaf jou selfoon oor die Captur se klankstelsel kan speel. Die nuwe dieselenjin is beslis ons gunsteling. Tydens die bekendstelling in die dun Gauteng se lug het die klein dieselenjin beïndruk met die gemak waarmee die klein enjintjie verbysteek en versnel. Die hoë wringkrag by lae toere maak die Captur ‘n fees om in verkeer te bestuur. Voeg daarby sy klasleidende verbruiksyfer van 3,6 liter per 100 km( selfs beter as Toyota se Prius hibriede motor!) en ‘n CO₂ syfer van onder 100 g per km en die Captur se gewildheid gaan beslis toeneem. Die Captur 1.5 dCi Dynamique kos R289 900. Uiteraard sal ons verkies om een van die beperkte weergawe Captur dCi Sunset modelle te hê (slegs 100 word beskikbaar gestel). Die treffende tweekleurmotief afwerking van swart en skel-oranje is heerlik op die oog. Die oorwegend swart afwerking van die Sunset Edition word binne en buite met mildelike spatsels, strepe en aksente van skel-oranje getooi om ‘n vrolike, treffende en tog stylvolle geheelbeeld te skep. Die Captur en veral die Sunset Edition stel nuwe standaarde in sy segment vir uitleg en afwerking van die binneruim en instrumentasie. Die Captur 1,5 dCi Sunset Edition kos R294 400. As jy een kan kry, koop hom dadelik! Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive
http://www.proagri.co.za/renault-captur-sunset-edition/
2016-11-18 09:18:46
Dom Boer se lag vir die dag:
Die regte kontakte ‘n Man wat pas uit die hospitaal ontslaan is, gesels met sy twee seuns wat altwee dokters is: “Julle moes net sien watter goeie diens het ek by die hospitaal gekry nadat ek hulle vertel het dat ek twee seuns het wat dokters is.” Seun: “Pa sou nog beter diens gekry het as Pa hulle vertel het dat Pa twee seuns het wat prokureurs is.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-236/
2016-11-17 09:44:07
Dom Boer se lag vir die dag:
Uitgelese geselskap Dawie besluit om sy liewe vrou vir hulle huweliksherdenking na die deftigste, duurste, opstêrsste, mees snobistiese restourant in die stad te neem. Toe die statige kelner met sy swart swaelstertpak die slaai op die tafel neersit, loer ‘n vet, groen ruspe van onder ‘n slaaiblaar na Dawie. Dawie ontbied die bestuurder en maak beswaar. Restourantbestuurder: “Meneer, oral waar daar slaai is, sal jy maar ‘n slaaiwurmpie kry. Troos jou daaraan dat ons slaaiwurms darem van ‘n veel hoër klas is as enige ander restourant s’n.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-227/
2016-11-07 09:00:53
Die boer kan alles monitor met FarmTrack
FarmTrack is ‘n eenvoudige maar doeltreffende GPS-kontroletoestel op plaasvoertuie wat boere kan help om altyd in beheer te bly. Johan Pienaar, produksiebestuurder van Sharon Fruit in Swellendam gebruik FarmTrack al vir die afgelope vyf jaar. Hy sê: “’n Mens kan op enige tydstip sien waarheen die trekker op pad is, teen watter spoed hy ry en dit met die kalibrasie spoed vergelyk, asook hoe lank die operateur stop en hoe lank dit vat om die trekker vol te maak. Die waarde van die gebruik van hierdie toestel as ‘n plaasbestuurhulpmiddel kan nie genoeg beklemtoon word nie.” Johan gebruik FarmTrack op vier Sharon Fruit-persele, twee in die Buffeljagsrivier en twee in Bonnievale. “Die eerste eenhede moes kantoor toe gebring word om die data af te laai, maar die nuutste modelle kan permanent op die trekkers bly en die inligting kan enige tyd afgelaai word na FarmTrack. Ons gebruik tans tien eenhede en ons is baie gelukkig met hulle en die resultate wat hulle oplewer. Ons kan presies sien wat op die plase gebeur,” sê Johan. Een van die grootste voordele van die stelsel is die verslag wat hulle van FarmTrack af kry wat presies wys waar het elke trekker gery. Dit skakel die risiko uit dat operateurs rye oorslaan as hulle spuitwerk doen. “Ons spuit meeste van ons boorde in die aand en dit is ‘n groot risiko. Voor ons FarmTrack gehad het, het ons een keer een hele blok van omtrent een hektaar gemis.” ‘n Ander groot voordeel volgens Johan is die feit dat FarmTrack-bestuur help om hulle personeel verantwoordelik te hou, volgens meetbare standaarde. “Die bestuurders het aanvanklik nie geglo dat ons hulle kan monitor nie, maar hulle het sedertdien besef dat ons kan sien wat hulle doen en hulle foute kan uitwys. “Ons is in staat om hulle spoed te monitor deur die programmering van die maksimum spoed in die eenheid en ontvang ‘n waarskuwing wanneer dit verbreek is.” Rekords word ook gehou van die trekker se ure wat help met sy diensrekords. In vandag se lewe maak al hoe meer boere in Suid-Afrika gebruik van tegnologie as ‘n manier om die produksieproses en die algemene bestuur van plase te verbeter. FarmTrack is ‘n koste-doeltreffende hulpmiddel wat boere nie net help om hulle voertuie se doeltreffendheid dop te hou nie, maar help ook met brandstofbeparing, oesbeskerming en om optimale opbrengste te verseker. “InteliGro, die verspreidingsmaatskappy, verskaf uitstekende diens en ons is regtig dankbaar dat Oostewald Eksteen ons gehelp het om hierdie produk te gebruik. Ek sal FarmTrack ten sterkste aanbeveel, dit is werklik doeltreffend,” sê ‘n gelukkige Johan. Vir meer inligting oor jou naaste agent besoek gerus www.farmtrack.co.za. Anders kan jy InteliGro se hoofkantoor in Wellington by 021-873-6177 skakel.
http://www.proagri.co.za/die-boer-kan-alles-monitor-met-farmtrack/
2016-11-30 09:07:38
Damvlakke hierdie week
Die gemiddelde damvlakke is hierdie week 0,8% hoër as gevolg van die reën wat verlede week neergestort het en staan nou op 48,7%. Dieselfde tyd verlede jaar was die damvlakke op 63,6%. Alle provinsies behalwe die Oos-en Wes-Kaap weerspieël ‘n toename. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) sal storms aan die einde van die week terugkeer na die Hoëveld (Vrystaat, Gauteng, Oostelike Hoëveld en Mpumalanga). Damme en stelsels: Algoa-stelsel: Vyf damme dien Nelson Mandela-baai: Hierdie week is daar ‘n afname van 0,9% en die stelsel staan op 66,4%. Verlede jaar hierdie tyd was dit op 100%. Amathole-stelsel: Ses damme dien die Buffalo City: Hierdie week is daar ‘n verhoging van 0,7% en die stelsel staan op 77,7%. Verlede jaar dieselfde tyd was dit op 99,2%. Kaapstad damstelsel: Ses damme wat hoofsaaklik die stad van Kaapstad dien: Hierdie week was daar ‘n afname van 1,6% en die stelsel staan op 57,1%. Die stelsel was op 68,1% dieselfe tyd verlede jaar. Die Voelvleidam is laer met 1,7% en staan op 67,4%. Die Clanwilliamdam is ook laer met 2,7% en staan op 92,3%. Daar is 20% waterbeperkings in plek vir huishoudelike- en landbougebruike in die Kaapstad-stelsel. Die stad van Kaapstad het hulle vlak van beperking na vlak 3 verhoog. Umgeni Damstelsel: Vyf damme wat hoofsaaklik eThekwini en Msunduzi dien. Hierdie week is daar ‘n verhoging van 1,7% en die stelsel staan op 46%. Die stelsel was hierdie tyd verlede jaar op 63,2%. Hazelmere staan op 71,8% wat ‘n verhoging is van 3,3% week-op-week. Nageldam is 69,4% vol. Die Midmardam is hoër met 1,9% en staan op 50,5%. Waterbeperkings van 15% vir huishoudelike, 50% vir besproeiing en 15% vir die bedryf is in plek. Ander KwaZulu-Natal damme: (Is baie laag maar het vir die eerste keer die somer bietjie verhoog) Klipfontein staan op 11,6% en het met 1,2% verhoog, Hluhluwe het met 3,5% verhoog en staan op 24,4% en Goedertrouw het met 1,4% verhoog en staan op 19,6%. Die stabilisering van hierdie damvlakke is as gevolg van die reën die afgelope week. Die huidige beperkings vir die Goedertrouwdam sal op 15% vir die bedryf, 40% huishoudelik en 80% besproeiing bly. Die Vaalrivier-stelsel: Die 14 damme wat hoofsaaklik aan Gauteng, Sasol en Eskom water verskaf, het verhoog met 1,6% en staan op 50,6%. Die stelsel was verlede jaar op 66,3%. Katse-dam is op 39,1% en het met 1,2% verhoog. Die Vaaldam het met 5,3% verhoog na 31,5%. Die Sterkfonteindam het met 0,5% verminder en staan op 91,3% as gevolg van die dam wat oorloop en na die Vaaldam toe hardloop. Die Sterkfonteindam se water is steeds op pad na die Vaaldam. Die Grootdraaidam is op 72,5% en het met 7% verhoog. Waterbeperkings van 15% vir stedelike en 20% vir besproeiing is in plek. Oranjeriver: Die Gariepdam staan op 47,7% en het met 0,3% verhoog en die Vanderkloofdam staan op 59,7% en het met 1% verminder. Daar is waterbeperkings van 10% vir stedelike en 15% vir besproeiing ingestel. Polokwane-stelsel: Twee damme met ‘n afname van 0,2% en staan op 28,1%. Beperkings van 20% vir alles gebruikers is in plek. Crocodile West-stelsel: Ses damme wat hoofsaaklik Tshwane Madibeng en Rustenberg dien is af met 4,2% en staan tans op 84%. Die stelsel was op 74,9% dieselfde tyd verlede jaar. Bloemfontein-stelsel: Vier damme wat hoofsaaklik Mangaung dien. Hierdie week was daar ‘n verhoging van 1,1% en dit staan op 36,6% in vergelyking met 28,3% van dieselfde tyd verlede jaar. Die Welbedachtdam staan op 116%, dit is as gevolg van reën in die Caledonrivier. Waterbeperkings is 30% vir stedelike en 75% vir besproeiing. Die departement monitor 211 damme op ‘n weeklikse basis. Op 14 November was 21 damme onder 10%, 66 damme onder 40% en 10 damme bo 100%. Bron: Department van water en sanitasie
http://www.proagri.co.za/damvlakke-hierdie-week/
2016-11-17 12:01:48
Agri SA sê regering moet met boere praat oor minimumloon
Agri SA sê die ingewikkelde balans tussen lone en die volhoubaarheid van landbou kan tot werksverliese lei. “Agri SA is van mening dat die arbeidsmag in die landbousektor van kritieke belang is,” sê Neil Hamman, voorsitter van Agri SA se arbeidsbeleid-komitee. Hy het gereageer op die adjunkpresident, Cyril Ramaphosa, se aankondiging oor die hoër nasionale minimumloon wat van toepassing is op alle sektore in die ekonomie. Die voorgestelde nasionale minimum loon is R20 per uur en R3 500 per maand. “Terwyl arbeidskoste ‘n groot kostebestuurder is, is ‘n tevrede arbeidsmag ewe noodsaaklik vir optimale produksie in die sektor. Die ingewikkelde balans tussen lone en die volhoubaarheid van boerdery-ondernemings sal tot sekere gevolge soos werksverliese lei.” “Gegewe die kwesbaarheid van die bedryf op die oomblik, vra Agri SA vir in-diepte navorsing en konsultasie saam met alle landbou-rolspelers, veral boere in die droogte gebiede, diegene wat stywe internasionale kompetisie in die gesig staar, asook opkomende boere.” “Agri SA verwelkom die feit dat sukkelende boere hulle steeds kan beroep op Artikel 50 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes wat voorsiening maak vir vrystellings van ministeriële vasstellings. “Ons verwelkom ook die feit dat die deskundige raadgewende komitee aanbeveel het dat ‘n laer gemiddelde van toepassing is op huis- en plaaswerkers, afhangende van die omstandighede”, sê Neil. Agri SA bly besorg oor die huidiges stand van die landboubedryf. Die skep van meer besighede en die versekering van hoër produktiwiteit en mededingendheid moet Suid-Afrika se eerste prioriteit wees. Uitgereik deur Agri SA
http://www.proagri.co.za/agri-sa-se-regering-moet-met-boere-praat-oor-minimumloon/
2016-11-22 08:28:15
Die nuutste oor damvlakke en waterbeperkings
Suid-Afrikaners het rede tot kommer oor die stand van damme en moet te alle tye probeer om water te bespaar. Hierdie week het die Suid-Afrikaanse Weerdiens vir die eerste keer gesê dat bo-normale reënval vir die tydperk November tot Januarie verwag kan word. Dit kan die stand van Suid-Afrika se damme drasties verbeter, maar vir nou lyk die prentjie baie sleg. Die gemiddelde damvlakke is met 0,5% laer teenoor verlede week en staan nou op 47,9%. Verlede jaar dieselfde tyd het die gemiddelde damvlak op 64,6% gestaan. Die departement monitor 211 damme weekliks. Op 7 November was 21 damme onder 10%, 64 damme onder 40% en 5 damme bo 100%. Damme en stelsels Die Vaalrivier-stelsel: Daar is 14 damme wat hoofsaaklik Gauteng, Sasol en Eskom dien en hierdie damme het met 0,1% afgeneem en staan op 49%. Dit is die vierde week wat die stelsel onder 50% gedurende die droogte is. Die stelsel was 66,9% vol verlede jaar. Die Katsedam staan op 37,9% en is 0,5% laer as verlede week. Die Vaaldam het met 0,2% week-vir-week afgeneem en staan op 26,2%. Die Sterkfonteindam het met 0,3% verhoog en staan op 91,8%. Die Grootdraaidam is op 66,5% en het met 0,8% afgeneem. Waterbeperkings van 15% vir stedelike gebiede en 20% vir besproeiing bly in plek. Om die Vaaldam te beskerm teen ‘n minimum vlak van 25% het die departement op 7 November die Sterkfonteindam se sluise oopgemaak om water na die Vaaldam te stuur. Die hoeveelheid water wat vrygestel sal word, word ook verhoog van 180 tot 203 miljoen m3. Dit sal die Sterkfonteindam met 7,8% laat val. Vanaf 2 November 2016 was daar ‘n merkbare verbetering met die bereiking van die teiken van 15% vermindering in waterverbruik, die groter Pretoria bereik 14,8% net soos Mogale City, Govan Mbeki, Rustenburg, Merafong, Victor Kanye en Ngwathe. Johannesburg het net 9,7% behaal. Algoa-stelsel: Vyf damme dien Nelson Mandelabaai. Hierdie week was daar ‘n 1% afname en staan die stelsel op 67,3%. Verlede jaar hierdie tyd was die stelsel op 100%. Amathole-stelsel: Ses damme dien die Buffalo City Metropolitaanse Munisipaliteit. Hierdie week was daar ‘n 0,1% verhoging en staan die stelsel op 77%. Verlede jaar hierdie tyd was die stelsel op 99,7%. Kaapstad damstelsel: Ses damme dien hoofsaaklik die groter Kaapstad. Hierdie week was daar ‘n afname van 1,2% en staan dit op 58,7%. Die stelsel was op 69,7% dieselfde tyd verlede jaar. Die Voelvleidam het 0,5% gesak en is tans op 69,1%. Die Clanwilliamdam is met 2,7% laer en is tans op 95%. Die 20% waterbeperkings vir huishoudelike- en landbougebruik is in plek vir die Kaapstad-stelsel. Umgeni damstelsel: Vyf damme dien hoofsaaklik eThekwini en Msunduzi. Die week is die stelsel met 0,2% op en staan op 44,3%. Verlede jaar hierdie tyd was die stelsel op 64,2%. Hazelmere is op 68,5% en het met 1,1% verhoog. Die Nageldam staan op 69,4%. By die Midmardam is daar ‘n verhoging van 0,7% en hy staan nou op 48,6%. Beperkings van 15% vir huishoudelike, 50% vir besproeiing en 15% vir nywerhede is in plek. Oor die algemeen word beperkings nagekom. Ander KZN damme wat laag is: Klipfonteindam staan op 10,4% en is laer met 0,5%, Hluhluwe is op met 0,1% en is nou 20,9% en Goedertrouw is op met 18,2%. Die stabilisering van hierdie damvlakke is as gevolg van die kus se reën die afgelope week. Die huidige beperkings vir die Goedertrouwdam sal op 15% vir nywerhede, 40% huishoudelik en 80% besproeiing bly. Oranjerivier: Die Gariepdam staan op 47,4% met ‘n afname van 0,9% en die Vanderkloofdam is op 60,7% met ‘n afname van 0,9%. Waterbeperkings van 10% vir stedelike- en 15% vir besproeiingsgebruik, insluitende oorplasings uit die Oranjerivier, is ingestel. Polokwane-stelsel: Daar is twee damme met ‘n afname van 0,8% en staan tans op 28,3%. Waterbeperkings van 20% is in plek. Crocodile west-stelsel: Daar is ses damme wat Pretoria, Madibeng en Rustenburg dien. ‘n Afname van 0,3% het plaasgevind en die stelsel staan op 79,8%. Die stelsel was op 77,2% dieselfde tyd verlede jaar. Bloemfontein-stelsel: Vier damme dien hoofsaaklik die groter Bloemfontein. Die week het dit verhoog met 0,8% en staan dit op 35,5% teenoor die 30,1% van hierdie tyd verlede jaar. Die Welbedacht-dam is laer met 13,3% en staan op 110%. Dit is as gevolg van reën in die gebied. Waterbeperkings van 30% vir stedelike- en 75% vir besproeiingsgebruik is in plek. Besproeiingsbeperkings van 100% is vir water uit die Lesotho Hoogland gestel. Bron: Departement van Water en Sanitasie Foto: Gariepdam
http://www.proagri.co.za/die-nuutste-oor-damvlakke-en-waterbeperkings/
2016-11-09 16:32:20
Boere en landboukundiges ontvang hoogste erkenning in landbou
Die bestes in die Suid-Afrikaanse landbou is op ’n spoggeleentheid net buite Pretoria deur Landbouskrywers SA aangewys. Allesbeste Boerdery (dr André, Liezel, Edrean en Zander Ernst) was die wenner in die kategorie Boer van die Jaar, Eric Ntlaba is as die beste nuwe toetreder tot die kommersiële landbou bekroon en dr Theo de Jager is aangewys as Landboukundige van die Jaar. Die prestigeryke geleentheid is deur Absa, Monsanto en Santam Landbou geborg. Landbouskrywers SA bied die kompetisie vir kommersiële boere, nuwe toetreders tot die kommersiële landbou en landboukundiges sedert 1977 aan. “Vanjaar se kandidate in die drie kategorië is elk op hulle eie terrein besonderse presteerders en dit was nie maklik om wenners aan te wys nie. Ons voel trots op al die kandidate wat in die provinsies aangewys is as wenners. Ons wil diegene wat die toekennings as nasionale boer, nuwe toetreder tot die kommersiële landbou en landboukundige ontvang het, baie gelukwens. Ons beskou dit as ‘n pluimpie vir Suid-Afrikaanse landbou en meen dat die kandidate enige tyd op die wêreldmark met die bestes kan meeding,” sê Magda du Toit, voorsitter van Landbouskrywers SA. “Een van die doelwitte van die toekennings is om die prominente rol wat boere en landboukundiges in die landbousektor in Suid-Afrika speel, te beklemtoon. Dit is egter ook belangrik om kennis te neem van die breër rol wat hierdie kandidate in die land en vasteland se ekonomie speel.” Die kandidate was: Nuwe toetreder tot kommersiële landbou Sentrale streek – Eric Ntlaba Noordelike streek – Simon Teffo Wes-Kaap (suidelike) streek – Phirdy Motala Landboukundige van die Jaar Oos-Kaap – Dr Gerhard Verdoorn Vrystaat – Dr Mias van der Westhuizen Gauteng – Jannie de Villiers Limpopo – Dr Theo de Jager Mpumalanga – Barry Christie Noord-Kaap – Hannes Hattingh Noordwes – Prof Flippie Cloete Wes-Kaap – Andre Roux Boer van die Jaar
http://www.proagri.co.za/boere-en-landboukundiges-ontvang-hoogste-erkenning-landbou/
2016-11-14 15:22:00
Dom Boer se lag vir die dag:
Nooit reg Pa en die ouer broers werk aan ‘n trekker. Kleinboet wil ook help, maar hulle stoot hom heeltyd weg en sê hy is in die pad. Uiteindelik sê hulle Kleinboet moet eers ouer word voordat hy met sulke werk kan help. Dikbek stap hy weg terwyl hy brom: “Ja, soos julle werk is ek eendag al te oud om te help dan sukkel julle nog steeds met die dessitse trekker…”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-231/
2016-11-11 09:00:01
Wat om te doen as jy in ‘n storm beland?
Die storms, hael en vloede verlede week in Johannesburg en Pretoria, het tot 600 nuwe eise vir skade aan voertuie, huise en geboue by Standard Bank se versekerings-afdeling gelei. Denise Shaw, van Standard Versekering Beperk sê: “Sodra die Suid-Afrikaanse Weerdiens bekend maak dat ernstige storms kan plaasvind, voordat enige werklike skade gedoen is, het die bank al sy planne geaktiveer om te verseker dat kliënte hulle eise so gemaklik as moontlik kan indien.” Die storms het wyd skade aangerig aan mense se persoonlike eiendom en gelei tot motorongelukke en meer. “Ons is toegewyd om ons kliënte by te staan in enige manier wat ons kan en raai diegene aan wat nie geregistreer is vir stormskade nie om dit dadelik te doen,” sê Denise. Sy sê ook dat baie versekeringsmaatskappye hulle kliënte met ‘n teksboodskap in kennis stel indien ‘n storm op pad is en sê die boodskappe moet ernstig opgeneem word en voertuie moet onder dakke ingetrek word. Standard Bank se veiligheidsriglyne: Probeer dit vermy om op die paaie te wees as daar ‘n storm is, maar as jy alreeds op die pad is, wees versigtig en ry stadig. Verminder jou spoed en moenie te naby aan ander voertuie ry nie. Sit jou hoofligte aan sodat ander motoriste jou kan sien. As dit nodig is, trek af van die pad af en sit jou noodflikkerligte aan. Moenie onder bome parkeer nie aangesien hulle kan omval. Wees proaktief en maak seker dat ruitveërs altyd in ‘n goeie toestand is sodat hulle erge storms kan hanteer. Moet nooit uit jou motor klim nie, want jy kan seerkry as gevolg van haelstorms. Moenie probeer om deur water te ry wat diep lyk of om oor lae brûe te ry nie. Bykomende maatreëls wat die publiek kan doen om te vermy dat hulle huise en eindom skade ly: Maak seker rekenaars, TV’s, dekodeerders en ander toerusting is uitgeprop. Maak seker die dak het geen lekplek nie. Maak seker die dak se geute is skoon. Hou huisventers toe. “Kliente met eise van verlede week se storm moet dit so gou moontlik indien. Ons werk hard om seker te maak dat alle eise so vinnig as moontlik hanteer word,” sê Denise. Eise kan geregistreer word deur Standard Versekering Beperk te kontak by 086-012-3444 vir struktuele- en gebou-eise of 086-010-9459 vir voertuigeise of om Standard Bank se selfoontoepassing te gebruik. Bron: persverklaring
http://www.proagri.co.za/wat-om-te-doen-jy-n-storm-beland/
2016-11-16 08:37:14
Dom Boer se lag vir die dag:
Woorde wek… Kaptein Kruidentaal hoor hoe een van die matrose ‘n ander een aansê om die vloer te vee. Hy vlieg die matroos in: “Weet jy niks, jou idioot? Op ‘n skip praat ‘n mens nie van ‘n vloer nie, dit is ‘n dek. Jy praat van bakboord en stuurboord en van die boeg en die agterstewe. As ek weer hoor jy praat op my skip van ‘n vloer, dan smyt ek jou deur hierdie klein, ronde venstertjie binne-in daardie groot dam met die soutwater.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-238/
2016-11-20 16:53:20
Kleinskaalse vissers kry meer tyd
http://www.proagri.co.za/kleinskaalse-vissers-kry-meer-tyd/
2016-11-22 11:16:40
Dom Boer se lag vir die dag:
Kwaad, maar propvol begrip Dawietjie aan ‘n maatjie: “Ek sou al lankal van die huis af weggeloop het as my pa my nie so nodig gehad het as ‘n aftrekking vir ‘n korting op sy belastingaanslag nie.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-241/
2016-11-23 08:08:34
Dom Boer se lag vir die dag:
Probleem Dawie: “Ons het moeilik grootgeword. My pa het tweehonderd koeie gehad en ek en my twee boeties moes hulle elke môre en elke aand melk. Dit was baie moeilik.” Gawie: “Drie klein seuntjies om tweehonderd koeie te melk? Ek stem saam – dit is eintlik amper onmoontlik.” Dawie: “Ja, dit was ‘n swaar tyd vir ons. Gelukkig het my pa toe nog honderd koeie bygekoop en toe was dit baie makliker.” Gawie: “Makliker? Hoe kan dit makliker wees om driehonderd koeie te melk as tweehonderd koeie?” Dawie: “Jy moet darem weet, ons drietjies was nog maar klein en dit was vir ons baie makliker om driehonderd deur drie te deel as tweehonderd…”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-240/
2016-11-22 07:52:38
Wild kan binnekort by abattoirs geslag word
Goeie nuus vir die wildbedryf is dat wild wat in die veld gejag word, eersdaags na ‘n slagpale geneem kan word om die karkas te laat verwerk. Tot op hede mag geen dier wat in die veld geskiet is na ‘n abattoir geneem word nie. Die minister van Landbou, Senzeni Zokwana, het verlede week aangekondig dat hy die wildsvleisregulasies so wil verander dat wild wat buite ’n abattoir geskiet is wel daar verwerk mag word. Volgens Piet Neethling, voorsitter van Wild, Abattoirs en Vleisuitvoerders, is dit die beste nuus ooit. “Ons dring al lankal hierop aan, want dit sal beteken dat gehaltevleis deur ’n gekwalifiseerde en onafhanklike vleisinspekteur goedgekeur sal word. Die gehalte van wildsvleis wat ingevolge hierdie regulasies verkoop sal word, sal uiteraard uitstekend wees. Die wildkarkasse sal in koelvragmotors na die abattoir vervoer moet word en nie agterop ’n bakkie nie,” sê Piet. Minister Senzeni sê diegene wat belangstel om kommentaar te lewer of ’n voorlegging wil doen oor die beplande wysiging, moet dit binne 30 dae aan die Kantoor van die direkteur-generaal, Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, Privaatsak X138, Pretoria stuur. Of dit kan na na 012-329-7699 gefaks word. Hier is die volledige verslag van die regering: 40402_gon1371 Bron: Netwerk 24
http://www.proagri.co.za/wild-kan-binnekort-abattoirs-geslag-word/
2016-11-15 14:27:03
Ons praat oor kruisteling: Pinzgauer-ras
In kommersiële teelstelsels word kruisteling dikwels toegepas. Die sukses van kruisteling hang grootliks af van die genetiese samestelling en meriete van die ouers wat in die program gebruik word. Die waarde van kruisteling lê daarin dat ouerrasse mekaar kan aanvul ten opsigte van die laagoorerfbare eienskappe waarin hulle onderling tekortskiet, naamlik deur basterkrag of heterose. Die sukses van basterkrag is egter afhanklik van die ouerrasse se suiwerheid en die genetiese afstand tussen hulle. Diere wat in kruisteling gebruik word, moet indiwiduele voortreflikheid besit ten opsigte van byvoegende eienskappe wat in die teelprogram van belang is, byvoorbeeld produksie-eienskappe. Onoordeelkundige gebruik van kruisbulle kan nadelige langtermyn gevolge inhou en selfs ʼn kommersiële boer se ondergang beteken. Die sukses van kommersiële veetelers se teelprogramme is afhanklik van die genetiese gehalte van die insette en dit bewys duidelik hoe wedersyds afhanklik die stoetteler en die kommersiële veeboer van mekaar is. Die rol van die stoetteler is hoofsaaklik om by te dra tot die suiwerheid en verbetering van die ras deur seleksie, die handhawing van rasstandaarde en uitruiling van genetiese materiaal met ander telers binne die ras. Stoettelers moet produktiewe maar bekostigbare teelmateriaal aan die kommersiële bedryf lewer deur meting, aantekening van herkoms, produksie-evaluasie en seleksie. Sulke bydraes vorm ʼn belangrike grondslag van die doeltreffende produksie in die veebedryf. Stoettelers moet bewus wees van wat die mark en hulle kliënte (die kommersiële telers) verlang en hulle teelbeleid sodanig ontwerp dat hulle nie alleen in die mark se behoeftes kan voorsien nie, maar om slegs bewese meerderwaardige genetiese materiaal so bekostigbaar as moontlik aan die kommersiële bedryf te lewer. Deur ’n voerstelsel toe te pas waar elke bul se indiwiduele voerinname bepaal kan word, kan die bulle se VOV (voeromsetverhouding) bepaal word. VOV is die hoeveelheid voer wat ’n bul moet inneem om in 1 kilogram lewende liggaamsmassa toe te neem. Dit word dan as ’n verhouding gegee, byvoorbeeld 5,8 : 1. Dit beteken hierdie bul moes 5,8 kilogram kos inneem om 1 kilogram toename te toon. Dit is dus logies om vir ’n laer VOV (minder behoefte) te selekteer. Hierdie toetse word Fase C genoem en die belangrikste evaluasies hiertydens is: Naspeense groeivermoë Gewigstoename Voerinname Skrotumomtrek Liggaamsmates Funksionele voorkomspunting Ultrasoniese aftasting Kondisiepunting Fase C-toetse is die enigste toetse waar die voerinname van die bulle indiwidueel gemeet word en waar voeromsetdoeltreffendheid dus bereken kan word. Fase C-toetse duur normaalweg 84 dae na ’n aanpassingsperiode van 28 dae. Geen minimum aantal diere per toets is nodig nie, aangesien rantsoene gestandaardiseer is en vergelykings van alle bulle (van ’n spesifieke ras) wat die toets gedoen het, gedoen kan word. Bulle moet tussen 151 en 250 dae oud wees wanneer die toets begin en daar is bepaalde gewigsgrense vir elke ras. Die prestasies van ZZ2 Pinzgauers spreek vanself. Op skoue dwarsoor Suid-Afrika presteer hierdie Suid-Afrikaans aangepaste diere met groot sukses. Die kampioene wat hierdie stoet opgelewer het, is legio en daarom behaal ZZ2 Pinzgauerstoet se diere ook rekordpryse op veilings. Die genetika van hierdie kudde is baie gesog onder medetelers en dit maak hierdie stoet die grootste voorsiener van Pinzgauer-genetika aan die Pinzgauer-bedryf in Suid-Afrika. Een kyk na die raskampioenbul of die pragtige rooibruin en wit embrio-kalwers is al genoeg om enige beesboer se aandag te trek, maar uiteindelik is dit die syfers en feite wat saamgaan plaas toe, soos: Wins wat gewaarborg word deur: Voortreflike voeromset: Die Pinzgauer presteer die beste en word 4 uit die 5 jaar as Vleissentraal en SA Stamboek se Bulgroeitoets-klaskompetisie se kampioen aangewys. Presteer baie goed in die LNR se Fase C-groeitoetse van die afgelope 5 jaar Hoë vrugbaarheid: Farmers Weekly se Koei van die Jaar (10 kalwers op 11,5 jaar) Gemiddelde daaglikse gewigstoename van tot meer as 3 kg Dubbeldoelras: Hoë melkproduksie ideaal vir speenkalwers en kruisteling Gesogte vleisgehalte: Sag en met goeie marmering Goeie temperament: Hanteer met minimum arbeid Gehard: Presteer goed op die veld Aanpasbaar: Aard enige plek in Suid-Afrika Al hierdie goeie eienskappe kan ’n voornemende teler dalk laat wonder oor die koste om nou in te klim. Die diere het bewys dat hulle hulleself kan handhaaf deur die hoogste moontlike aantal kilogram vleis per hektaar te produseer teen die laagste moontlike koste. En dit doen hulle selfs in die harde Bosveldwêreld van Mooketsi. Dit is dus geen wonder dat die Pinzgauers op groot skaal gebruik word vir kruisteling met ander rasse soos Nguni (vanwaar die PinZ²yl ras), Brahman, Santa Getrudis, Bonsmara en Brangus nie. Hierdie program word spesifiek gevolg vir speenkalfproduksie vir die voerkraalbedryf. Die Amerikaners raak ook al hoe meer gaande oor die voordele van Pinzgauers. ’n Artikel in die tydskrif, Cattle Today, besing die sagtheid van die vleis en die goeie vetverspreiding (marmering). ’n Eenvormige beleid geld vir die stoet- sowel as die kommersiële kuddes, naamlik: Diere moet hulleself kan handhaaf sodat die hoogste moontlike aantal kilogram vleis per hektaar geproduseer kan word teen die laagste moontlike koste. Omdat Pinzgauers uitmuntende kruisteelteienskappe besit, pas ZZ2 op groot skaal kruisteelt toe. Hierdie program word spesiek gevolg vir speenkalfproduksie vir die voerkraalbedryf. Meer vleis per hektaar is die wagwoord.
http://www.proagri.co.za/ons-praat-oor-kruisteling-pinzgauer-ras/
2016-11-10 13:14:02
Dom Boer se lag vir die dag:
Flinkdink Oupa en Ouma stap met hulle jaaroud kleinseun in die park. ‘n Deftige dame stop hulle en koer: “Ag is hy nie die lieflikste, skattigste, pragtigste ding op aarde nie? Hoe oud is hy?” Oupa: “Ek word einde November agt-en-vyftig.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-228/
2016-11-08 08:06:56
Nasionale Veiling bewys: Brahmanboere belê in die toekoms
“Ek het baie navrae gehad oor die koei en kalf. Die kalf kom uit ’n Ivory-bul uit die stal van V/B8 (V8) Brahmane in Amerika. Ek het die saad ingevoer van daar af en ek is die enigste ou in Suid-Afrika wat die kalf het. Die koei kom uit R10 Brahmane uit, van die R10/67-bul.” So gesels Hannes Liebenberg van SHL Brahmane (Koster) wat by die Brahman Beestelersgenootskap se Nasionale Veiling die rekordprys van R110 000 behaal het vir sy koei en bulkalfie. Aan koperskant vertel Hannes Vosloo, wat namens Arc-en-Ciel Brahmane van Delmas gebie het: “Ons kyk maar watter genetika, watter bloedlyne, gaan vir ons werk en ons is doodtevrede met wat ons gekoop het.” Hy sê hulle het minder diere as gewoonlik by die veiling gekoop, bloot as gevolg van die droogte wat hulle drakrag verminder het. Oor die algemeen was die kopers en verteenwoordigers van BKB, wat jaarliks die veiling hanteer, aangenaam verras met die gehalte van die diere wat aangebied is, selfs in die droogtetyd. Jan Mostert van BKB Louwid sê daar het 85 kopers geregistreer en hulle kon kies uit die room van die ras: “Die gehalte van die aanbiedings was baie, baie goed. Die stoetbulle het teen ’n goeie gemiddelde prys van naby R100 000 verkoop, daar is goeie pryse vir embrio’s en saad behaal, maar die verrassing vir die dag was beslis die koei en kalf wat vir R110 000 verkoop is.” Adel Schoeman, wat tydens die Presidentsdinee as Jong Teler van die Jaar aangewys is, het voor die veiling aan ProAgri gesê: “Ons verwag die beste, maar ’n mens weet nooit wat die mark in die droogte sal maak nie. Ons is darem nie kwaad vir ons diere nie; ons kan hulle weer terugvat huis toe.” Haar bul, B124, het verseker nie saam met haar teruggegaan huis toe nie. Hy is vir ’n allemintige R100 000 aan Hansie Viljoen Boerdery van Leeudoringstad verkoop. Die ander R100 000-bul was HJW 11-169 van Hennie en Marelize Jacobs (HJW Brahmane) wat aan De Waal Nigrini (DK Nigrini) van Parys verkoop is. HJW Brahmane het ook die duurste vers, HJW 13-245, gelewer, wat vir R75 000 aan Schalk Burger Boerdery verkoop is, en die duurste vroulike dier, HJW 12-168, wat vir R90 000 aan DK Nigrini verkoop is. Die goeie pryse wat vir vroulike diere behaal is, het ook net weer die belang van die rol wat goeie moe-ders in die opbou van ’n kudde speel, beklemtoon. Op die Presidentsdinee het twee telers toekennings ontvang vir hulle uitsonderlike koeie: Mike Bentley het ’n toekenning ontvang vir die mees produktiewe Brahman-koei. JH 58-18 het in haar produksie-leeftyd van 23 jaar 20 natuurlike kalwers geproduseer. Dit is ’n gemiddelde tussenkalfperiode van 372 dae. Llewellyn Labuschagne het die toekennning ontvang vir die oudste en mees produktiewe Brahman-koei wat steeds aktief is. R10 98-25 is 18 jaar oud en het al 19 kalwers gehad (drie stelle tweelinge) en ses embrio-kalwers. Llewellyn is die vise-president van die Brahman Beestelersgenootskap. Hy sê Suid-Afrikaanse boere het die ras ontsettend verander, met meer vleis, beter bespiering en stewiger beenstruktuur as die Brahmane elders in die wêreld. Hy sê: “Ons is in die vleisbedryf en jy het alleenlik ’n bestaansreg as jy diere kan produseer wat in die voerkrale kan aanpas en goed presteer.” Die skou het ook die beoordelaars met ’n paar moeilike keuses gelaat. Jan van Zyl sê: “Die gehalte van diediere is elke jaar beter. Daar is elke jaar by ons beoordelaarskonferensie sekere aspekte wat ons uitwys waaraan gewerk kan word. Die mense vat dit huis toe en gaan werk daaraan.” Hier is ’n kort opsomming van die algehele raswenners in die verskillende kategorieë: Nie-haltermak raskampioenkoeie: Rooi: HJW 14-86 van HJW Brahmane Wit: HJW 13-245 van HJW Brahmana Reserwe rooi: BOSR 15-84 van BW Staal (Edms) Bpk Reserwe wit: BOS 15-274 van BW Staal (Edms) Bpk Nie-haltermak raskampioenbulle: Rooi: HJW 13-263 van HJW Brahmane Wit: BOS 11-383 van BW Staal (Edms) Bpk Reserwe rooi: JHA 13-46 van JHA Prinsloo Reserwe wit: BOS 12-309 van BW Staal (Edms) Bpk Haltermak raskampioenkoeie: Wit: HOT 13-255 van Brandwater Boerdery Rooi: DSV 12-118 van Bonvu Brahmane Reserwe wit: BHH 13-124 van JH Hattingh Reserwe rooi: BON 14-3 van Bonvu Brahmane Haltermak raskampioenbulle: Rooi: BON 14-5 van Bonvu Brahmane Wit: BAR 13-80 van WJ Barnard Reserwe rooi: WWH 13-600 van WW Hattingh Reserwe wit: R10 12-314 van L Labuschagne BAR 13-80 van Willem en Adri Barnard wat aangewys is as die Senior Kam-pioen en Raskampioen (Wit) is ook by die afgelope Alfaweek se Nasionale Interras-kompetisie aangewys as die Interraskampioen van Suid-Afrika. Willem en Adri was baie betrokke by die organisasie van die geleentheid. Willem sê hy glo dit is belangrik dat dit goed moet gaan met die Genootskap, want dan gaan dit ook goed met die telers en dan kan die Brahmanbedryf internasionaal bevorder word. ’n Liefde vir die ras is die beginpunt. Soos Adri sê: “’n Brahman het ’n persoonlikheid en ’n karakter wat geen ander bees na my mening het nie. Dis ’n liefde vir ’n Brahman wat ons het.” Vir meer inligting oor die geleentheid en die ras, kontak gerus vir Karin Botha by 051-446-4619/3452 of [email protected] of besoek www.brahman.co.za.
http://www.proagri.co.za/nasionale-veiling-bewys-brahmanboere-bele-die-toekoms/
2016-11-10 13:32:40
Dreigende brandstofkrisis lankal te wagte
Deur Fanie Brink, Onafhanklike Landbou-ekonoom “Die nuutste bevinding oor die dreigende krisis waarop die brandstofbedryf in Suid-Afrika afstuur was baie lankal te wagte. Die oliemaatskappye wil reeds vir jare nie hulle eie kapitaal aanwend om hulle verouderde raffinaderye op te gradeer nie en verwag dat die regering die koste vir die opgradering na die brandstofverbruiker moet afwentel,” sê Fanie Brink, ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. Hy het gereageer op die verslag van ‘n studie oor die invloed van die petroleumbedryf op die land se ekonomie wat in opdrag van die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsassosiasie (Sapia) deur KPMG onderneem is en op 16 November in Sandton bekend gemaak is. Suid-Afrika het oor die jare baie agter geraak in terme van internasionale aanvaarbare standaarde oor die kwaliteit van brandstof en volgens die verslag sal dit sowat R53-miljard kos om al die plaaslike raffinaderye op te gradeer om aan die skoner brandstofstandaarde te voldoen. Die vorige tegnologiese aanpassing vir die verpligte uitfasering en verlaging van die lood- en swaelinhoud van brandstowwe het die verbruiker miljarde rand uit die sak gejaag. Volgens die KPMG-verslag “sloer die opgradering van die land se raffinaderye om skoner brandstof te kan vervaardig al lank omdat dit te duur is en omdat daar tans ’n ooraanbod van raffineringsvermoë wêreldwyd is.” Brink sê die verbruiker moet vir feitlik al die brandstofbedryf se koste om ru-olie in te voer en te raffineer betaal, terwyl die bedryf se winsmarges deur middel van die regering se vasgestelde formule gewaarborg word. Die koste sluit benewens die vry-aan-boord pryse in die uitvoerhawens ook nog onder meer vervoerkoste, versekering, fisiese verliese, aflaai- en stoorkoste in die plaaslike hawens en finansieringskoste van voorrade in. Die gereguleerde marges wat deur motoriste aan oliemaatskappye betaal word om brandstof van die raffinaderye na vulstasies te versprei het oor die afgelope 16 jaar ook vinniger as die inflasiekoers toegeneem. Die land moet alreeds tot soveel as 25% van sy petrol en diesel invoer ten spyte van vrygewige regulasies wat spesifiek bedoel is om beleggings in olieraffinaderye te verseker. Die oliebedryf het in werklikheid ‘n dooiepunt met die regering bereik oor beleggings wat nodig is om skoner brandstof te vervaardig. Die bedryf weier om self kapitaal te belê en verwag van die regering om motoriste te verplig om die kapitaal te voorsien by wyse van ‘n groter belastingheffing op brandstof, en die ergste van alles is, dan wil die oliemaatskappye, soos in die verlede, weer die opbrengs op hierdie kapitaal hê. “Die vraag sal gevolglik een of ander tyd gevra moet word oor wie besit nou eintlik die raffinaderye as dit langer so aanhou!” Die uitfasering van die plaaslike raffineringskapasiteit wat nie aan die standaarde kan voldoen nie en die groter invoere van brandstof hoef die verbruiker nie veel meer te kos nie. Die plaaslike oliemaatskappye word in elk geval vir die petroleumprodukte wat plaaslike vervaardig word vergoed op grond van die pryse van dieselfde produkte wat by sommige groot internasionale raffinaderye aan die kus van die Middellandse See, Singapore en die Arabiese golf vervaardig word. Die verslag kom gevolglik tot die gevolgtrekking dat dit finansieel meer sin sal maak om petrol en diesel in te voer wat “algemeen verwelkom en ondersteun moet word omdat dit nie toegelaat mag word dat die kapitaal en koste vir die opgradering weer van die verbruiker verhaal word nie.” “Die land wil ook nie met ‘n tweede Petro SA sit nie en dan kan die onwettige spekulering met die plaaslike oliereserwes deur die Sentrale Energiefonds ook nek omgedraai word,” aldus Fanie.
http://www.proagri.co.za/dreigende-brandstofkrisis-lankal-te-wagte/
2016-11-17 10:03:19
Dom Boer se lag vir die dag:
Vraag en aanbod Dawie spog gereeld by sy vriende in die kroeg met sy slim perd, Poon: “Smôrens vroeg wag Poon vir my voor die deur sodat ek op hom lande toe kan ry. Terwyl ek op die trekker is, keer hy die skape uit die lusernland uit, pas die kalwers op en gaan haal my koffie by die huis. Smiddae keer hy die melkkoeie aan kraal toe voordat hy my by die lande kom haal en as daar ‘n bees of skaap siek is, kom roep hy my.” Gawie is so beïndruk met die perd dat hy Dawie R1 000 aanbied om die perd te koop. Dawie: “Nee, dit is gans te min vir so ‘n nuttige dier. Ek sal nie eers daaraan dink om hom so goedkoop te verkoop nie.” Uiteindelik koop Gawie Poon vir R10 000, maar hy is nie tevrede nie. Hy kla by almal in die kroeg: “Al wat die perd doen is om te eet en te slaap. Hy beteken niks.” Dawie roep hom eenkant toe en sê vertroulik aan hom: “As jy so sleg van Poon praat, sal jy nooit regkry om hom te verkoop nie.”
http://www.proagri.co.za/dom-boer-se-lag-vir-die-dag-237/
2016-11-20 16:51:37
Veilige hande stuur Bonnox op sy tweede skof
Afrika bied tallose geleenthede, en die moontlikhede om die landboumark te ontwikkel is onbeperk. Daarom kom vele mense met geesdrif en volharding na hierdie kontinent om hulle lewensideale te verwerklik en om ’n bydrae tot die verbetering van talle boere se lewens te lewer. Volker Harmen Schadewaldt en sy moeder, Hertha, het in 1951 Suid-Afrika toe gekom. Hy was ’n Duitse radiotegnikus wat uiteindelik by die destydse Jan Smuts-lughawe in Johannesburg gewerk het. Teen die einde van die vyftigerjare het hy met sy spaargeld ’n plasie by Laezonia, suidwes van Pretoria, gekoop. Boerdery was in sy bloed sedert sy oupa voorheen in Tanzanië geboer het. Anita Gent, mnr Schadewaldt se dogter, vertel: “My pa en ouma was baie lief vir Afrika met sy son en het daarvan gehou om met hulle hande te werk. Terwyl my pa besig was om doringdraad op sy plasie te span, het hy begin dink aan ’n plan om hierdie veeleisende werk makliker te maak. Dit is waar sy droom ontstaan het om sy eie, maklik-om-op-te-rig heinings te vervaardig.” Destyds het mnr Schadewaldt ’n Amerikaanse vriend gehad wat hom ’n Sears, Roebuck & Co-nywerheidskatalogus uit Amerika gegee het. Daarin was ’n advertensie vir geweefde heinings – die perfekte antwoord vir die gedagte waarmee hy aan die speel was, en hy was oortuig dat Suid-Afrika so iets nodig gehad het. Hy het na Amerika, Australië en Nieu-Seeland gereis waar heiningmaakmasjiene vervaardig is, maar hy kon nie een bekostig nie. Terug in SA, het hy met die befondsing van ’n draadmaatskappy twee masjiene wat skarnierdraad vervaardig ingevoer en die produk as een van hulle agente in Suid-Afrika versprei. Vandag kan hy beskou word as die persoon wat die konsep van skarnierdraadheinings na Suid-Afrika gebring het. In 1962 het hy die naam, Bonnox, van ’n aptekerswaremaatskappy gekoop. Hy het van die naam gehou omdat die eerste deel, bon, goed en pragtig in Frans en Latyn beteken. Hy het ’n winkeltjie in die suide van Pretoria gehuur vanwaar hy sy heinings kon invoer en versprei. Sy vrou, Jean, was die boekhoudster en sy ma ’n aandeelhouer-werknemer wat gehelp het waar sy kon. “My pa was ’n plannemens en met sy wonderlike planne het hy geweet hoe om die saak te stuur. As klein dogtertjie het ek in die winkel rondgespeel en omheining is steeds in my bloed. Hy en my ma het altyd Bonnox gepraat,” sê Anita. Dit was nie die einde van mnr Schadewaldt se droom nie. In 1982 het hy ’n tweedehandse masjien vanaf Pennsylvania, Amerika, ingevoer. Hy het ’n winkel in Rosslyn, steeds ’n belangrike nywerheidsgebied noord van Pretoria, gekoop. Later het hy dit verkoop en in 1984 ’n eiendom in Sunderland Ridge, suidwes van Pretoria, gekoop toe die gebied net as nywerheidsenstrum begin ontpop het. Hy het een van die eerste fabrieke in die gebied gebou. Nou het hy ’n fabriek en een rustende masjien gehad. Om die geldjies aan die rol te hou, het hy steeds ingevoerde en plaaslike omheiningsmateriaal verkoop. Kort daarna het hy twee vergrendeling-draadweefmasjiene (Interlock) uit Nieu-Seeland ingevoer. Een was meer as ’n eeu oud en buite werking. Die bal was nou aan die rol en hulle kon dit bekostig om nog ’n paar mense aan te stel. Spoedig was die fabriek ten volle operasioneel. In 1994 het mnr Schadewaldt nog ’n praktiese genie, die passer en draaier Charl de Beer, aangestel. Hy kon van enige stuk staal enige onderdeel vir die ou masjiene maak. Na die val van die Berlynse muur in 1989 het mnr Schadewaldt, wat oorspronklik van Berlyn kom, Duitsland besoek. Hy het ook die nywerheidstad met talle staalfabrieke, Reutlingen, besoek en ’n groot ringskakelmasjien (Ringlock) van ’n maatskappy genaamd Wafios ingevoer. As radiotegnikus was mnr Schadewaldt wetenskaplik aangelê en presies, en hy het daarvan gehou om met toegepaste wetenskaplike begrippe rond te speel. In samewerking met metallurge en ingenieurs het hy en sy verskaffers baie tyd en moeite daarin belê om die perfekte draadmengsel vir Bonnox te bepaal. Met ’n tipies Duitse werksetiek het hy nagte lank gewerk en was selde tuis. Die vloerruimte het te klein geword. In 2002 het hy die perseel oorkant gekoop en ’n fabriek met twee selfgeboude masjiene ingerig. In 2010 het mnr Schadewald, toe reeds in sy tagtigs, as hoofbestuurder afgetree. Kort daarna het Anita, wat eintlik ’n apteker is, die leisels oorgeneem. “Vandag vervaardig Bonnox 70 verskillende omheiningsprodukte van 600 tot 2 400 mm hoog vir elke moontlike toepassing op ’n plaas. Ons draad is ten volle versink en ’n enkele vertikale draad kan ’n spanning van 220 kg weerstaan. ’n Enkele horisontale draad stuit 415 kg. Bonnox se voorafvervaardigde heinings maak die lewe van duisende Suid-Afrikaanse boere veel makliker,” sê Anita, wat vasbeslote is om hierdie saak nog ’n leeftyd vorentoe te neem. Skakel die vriendelike Bonnox-verkoopspan by 012-666-8717 of stuur ’n e-pos aan [email protected], [email protected] of [email protected]. Besoek ook Bonnox se nuttige webwerf by www.bonnox.co.za vir meer inligting.
http://www.proagri.co.za/veilige-hande-stuur-bonnox-op-sy-tweede-skof/
2016-11-10 14:32:03
GWK groei aansienlik in die moeilike jaar
Dit is een van die beste finansiële jare nog vir die landboumaatskappy, GWK. Hulle omset het met 11,2% gegroei tot R8,34-miljard. En hulle het ‘n netto-wins van R148-miljoen voor die uitbetaling van dividende vir sy finansiële jaar geëindig op 31 Mei 2016. Dit is ‘n uitmuntende prestasie met die droogte wat hierdie jaar regoor die land voorgekom het. Die aandeelhoudingsfonds het met 12,8% verhoog en staan op R1,04-miljard. Die gemiddelde opbrengs op GWK se aandeelhouding die afgelope sewe jaar is 21% per jaar en ‘n toename in die getal aandeelhouers is 10%. “Om hierdie te kan bereik, gegewe die huidige landbouklimaat, spreek van die hoeveelheid moeite wat die aandeelhouers ingesit het by GWK,” sê GWK -groep se finansiele direkteur, Johann Klopper. “Ek glo dat GWK hulself weer bewys het as een van die top landboumaatskappye in Suid-Afrika.” Beleggings ‘n Bedrag van R434-miljoen is in meestal nuwe ondernemings belê wat in werking getree het gedurende die jaar en R137-miljoen was spesifiek in hierdie jaar belê. Die belegging in die nuwe GWK Farm Foods-koringmeule, pasta en koekiefabriek by Modderrivier was die groep se grootste belegging tot op hede. Alhoewel daar nie verwag word dat die fabriek ‘n wins sal maak in sy eerste twee jaar nie, behoort dit wel daarna aansienlike winste te toon. GWK het ook in ander infrastruktuur die jaar soos silo’s, grondbootjiebotterverwerking, die uitbreiding en opgradering van handelstakke, vulstasies en die opgradering van John Deere-fasiliteite belê. Volhoubare groei Volgens Pieter Spies, GWK se uitvoerende hoof, het die maatskappy sy belofte om volhoubare belegging in die landboubedryf te maak, nagekom. “Die uitwerking van die droogte van die afgelope twee jaar het die uitdaging aan die hele landboubedryf vergroot met minder plaaslike verhandelbare produkte beskikbaar en ‘n afname in die verkryging van nuwe infrastruktuur oor die hele bedryf,” sê hy. “Uitdagings in terme van die lam waardeketting beperk die algehele groepprestasie. GWK werk aan oplossings om volhoubaare prestasie in die lambedryf te verbeter.” Bron: Bizcommunity
http://www.proagri.co.za/gwk-groei-aansienlik-die-moeilike-jaar/
2016-11-15 13:29:02
GSI maak jou graan meer werd
Oom Hendrik Eksteen het reeds 45 jaar gelede die voordele van private graanberging ingesien en vir hom ’n silo uit Frankryk ingevoer. Sy seun, Ian, en skoonseun, Danie Nieuwoudt, wat vandag aan die stuur van Ekland-boerdery buite Marquard staan, het die silo tot onlangs gebruik om mielies vir hulle beeste te berg. Ian plant op ’n derde van sy grond sonneblom en op twee-derdes mielies. ’n Derde van die mielies is wit en twee-derdes geel. Hy hou een derde geelmielies vir die beeste wat Danie se verantwoordelikheid is. Ekland het egter snaakse grond wat vog aggressief laat deurslaan. Dit het die ondergrondse koniese vloer van die silo laat roes. “Ons het toe uitgevind dat GSI ’n platvloersilo vervaardig wat die graan buite bereik van enige grondvog berg,” sê Ian. In 2014 het hulle twee 1 300-ton silo’s bestel met ’n graanhanteringspoed van 60 ton per uur. Hulle het ook ’n bakkieshyser van 33 meter binne-in ’n viermeterput gesit om die graan tot hoog bo die silo’s op te trek sodat dit maklik daarin kan vloei. Die swaartekragsif tussen die graan en die onderste deurlugtingswaaiers is baie fyn sodat enige graan daarop geberg kan word sonder om deur te val. “Ons het vir GSI gevra om hulle beste kontrakteur aan te wys. Ons het die materiaal en betonmengers voorsien en hulle het die fondament, vloer en putte binne twee maande gebou. Dit het nog twee weke geduur om die silo’s, hysers en awegare te installeer en die projek te voltooi,” sê Ian. Buiten die graan wat Ian nou op sy terme kan berg en verkoop, gee GSI se silo’s vir hom soveel meer keuses en hy het groot planne om die oorsese uitvoermark te betree. “Ons is nie te ver van Durban af nie en wanneer daar weer ’n groot oorskot in die land is, wil ek graag regstreeks uitvoer,” sê Ian. Hy het reeds ’n semelsif tussen sy silo’s om onsuiwerhede en semels uit die mielies te haal. Sy mielies se waarde is nou hoër en boonop kan Danie die semels vir sy beeste voer. Hy gaan binnekort ook ’n vogmeter aanskaf sodat hy presies weet teen watter graad verlaat sy mielies die plaas. Dit sal ook enige verneukery voorkom. Sodra hy die res van die toerusting aangeskaf het, sal hy aan die uitvoervereistes voldoen en hoef dan nie deur ’n goedgekeurde gradeerder te werk nie. Ian het slegs een man wat die hele stelsel in die hitte van oestyd kan beheer. “Ons wil graag nog ’n silo bysit om ons kapasiteit te verhoog en ander graan te hanteer. Ons volgende silo sal ook groter wees en ongeveer 1 500 ton moet hou. Ek sal die huidige stelsel binne vyf jaar afbetaal en dan is dit myne. Dan hoef ek nooit weer ’n sent aan ’n ander man vir berging te betaal nie,” sê Ian. Jy kan vir GSI nader om jou geld op die langtermyn te bespaar. Skakel 011-794-4455 of stuur ’n e-pos aan [email protected] om meer uit te vind.
http://www.proagri.co.za/gsi-maak-jou-graan-meer-werd/
2016-11-10 11:14:26
Goliat van Gat Pampoenfees 2017
Dit is planttyd vir die groot pampoene. Om deel te neem aan volgende jaar se Goliat van Gat pampoenkweekwedstryd moet die pampoene nou geplant word. Pampoenpitte en inskrywings is beskikbaar by TLU SA se kantoor in Silverton Pretoria teen R50 per pakkie. Saam met die pitte kry jy ook duidelike instruksies opgestel deur Hygrotech hoe om die pitte te plant en te versorg. Kom skryf in en staan ‘n kans om groot prysgeld te wen vir die swaarste pampoen ingeweeg in Maart 2017. Daar is ook pryse vir die mooiste, lelikste en oorspronklikste pampoen, sowel as vir juniors onder 16 jaar. Vir meer inligting of pitte en inskrywings kontak vir: Lynette du Plessis by TLU SA by 012-804-8031 of Henri Combrink by 082-552-9428 Bron: TLU SA
http://www.proagri.co.za/goliat-van-gat-pampoenfees-2017/
2016-11-07 10:56:52
RPO Voorsitter is veeprodusent van die jaar
GWK, die Suid-Afrikaanse agri-onderneming wat aan boere behoort, het die wenners van sy jaarlikse GWK Ikone aangewys, ‘n viering van die leiers in die landboubedryf. Mnr Koos van der Ryst van die Koopmansfontein-omgewing is as die veeprodusent van die jaar aangewys in erkenning van sy uitstekende boerderypraktyke. Hy het meer as 1 000 beeste vir vleisproduksie gelewer. Die jaarlikse eretoekennings gee erkenning aan boere, rolspelers in die bedryf, personeel en GWK se vennote vir hulle pogings en bydrae tot die bedryf en die rol wat hulle in voedselproduksie, skeppingskrag en ekonomiese groei van die sektor speel. GWK Ikone salueer vooruitgang in die bedryf en gee so erkenning aan mense wat die bedryf na die toekoms lei deur te weier om die gegewe aanvaar en die moed het om hulle werkswyses so te verander dat beter ondernemings gebou word, meer werksgeleenthede geskep word en om die voedsel te voorsien wat Suid-Afrika se mense nodig het. Bron: RPO Bulletin
http://www.proagri.co.za/rpo-voorsitter-veeprodusent-van-die-jaar/
2016-11-04 16:02:20
35 arrestasies aangeteken tydens blou/witlig operasie
’n Totaal van 35 arrestasies is aangeteken na ’n provinsiale blou/witlig operasie in die Vrystaat op 27 Oktober 2016. Tydens die operasie is 11 boetes ook uitgereik, en verskeie voorvalle van veediefstal en diefstal van koper kabel is in die Clocolan en Excelsior-distrikte voorkom. Boere van Vredefort het ook aangedui dat geen sake van veediefstal na die operasie aangemeld is nie, terwyl ’n toename in veediefstal gewoonlik in die laaste week van die maand in die omgewing aangeteken word. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se statistiek het 1007 boere met 705 voertuie aan die operasie deelgeneem, terwyl 181 Polisiebeamptes met 89 voertuie deelgeneem het. Die lessenaar sê met talle boere wat begin het om te plant na die eerste reëns in die provinsie, het operasies ook op ander aande plaasgevind sodat almal kon deelneem. Die clusters waar die beste deelname aangeteken is, is Thabong, Welkom en Kroonstad. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee, bedank elke boer en Polisiebeampte vir sy of haar deelname. Hy bedank ook elke boer vir die opoffering van hul tyd/voertuie/brandstof om hulle gemeenskappe se veiligheid te bevorder. Dit was die vierde provinsiale blou/witlig operasie wat die jaar gehou is, en verbeteringe in terme van misdaadvoorkoming en samewerking tussen boere en die Polisie kon al in talle gebiede gesien word. Die arrestasies aangemeld kan soos volg gelys word: Veediefstal – 2 arrestasies Diefstal – 4 arrestasies Alkohol verwante misdade – 23 arrestasies Besit van gesteelde eiendom – 6 arrestasies Boetes uitgereik – 11 Bron: VKB/VL veiligheidslessenaar
http://www.proagri.co.za/35-arrestasies-aangeteken-tydens-blouwitlig-operasie/
2016-11-04 15:06:59
November 2016
Gerugte van reën is soms al wat nodig is om ’n planter die land in te stuur, lyk dit vir my! Met die opvolg van die Weeg en Wen-kompetisie het ek die geleentheid gehad om boere op verskeie plekke in die land te bel, van Winterton tot Lichtenburg, en almal was besig om te plant. Op ’n paar van die plekke het dit selfs al ’n bietjie gereën. Op ander… wel daar is gerugte van reën! Dit is vir my die wonderlikste nuus. Dit oorskadu al die ander goed wat gebeur soos die vernietigende hordes wat Oom Paul se standbeeld met petrolbomme bestook en die bekgevegte wat daarna in die sosiale media volg, net om ons aandag af te trek van die hordes se leier se dreigement dat hy nou enige tyd die opdrag kan gee dat witmense voor die voet doodgemaak moet word. Die foto’s op Bakkiesblad van strome water wat deur die suide van die Wildtuin spoel, groen spatsels in die veld waar twee weke gelede nog niks was nie en selfs die motorkarre in Pretoria wat in die pad af dryf, is ook vir my veel belangriker as wêreldnuus oor die Amerikaanse verkiesingsirkus. Ons land smag na reën, ons damme, riviere en vrugbare aarde lê dorstig en wag en die geghriesde planters is gereed. Ek vra weer vandag vir diegene in meer geseënde streke om tog weer te kyk hoe hulle kan help met voer vir die diere wat ongelukkig nie op gerugte van reën kan oorleef nie. Die nood is baie hoog in sekere streke en met die uitkoms wat so naby lyk, wil boere hard probeer om kernkuddes te behou. Kom ons staan mekaar steeds by; niemand anders gaan dit vir ons doen nie. Ek hoop u geniet hierdie Novemberuitgawe. Daar word baie geskryf oor meganisasie-oplossings vir saaiboere, maar in hierdie uitgawe gee ons ’n bietjie aandag aan die groenteboere ook. Die dae van spanne werkers wat ingeroep moet word om te plant, skoffel, oes en verpak word al hoe minder. Lees gerus op bl 13 meer daaroor. ProAgri het ook heerlik gekuier by ’n hele aantal veilings en skoue en ons belig so ’n bietjie die Brahmane se Nasionale Kampioenskap en Veiling. Lekker lees! Boer slim! Annemarie Bremner >[email protected] Laai ProAgri 201 hier af: proagri_201_november_2016_web
http://www.proagri.co.za/proagri-201-november-2016/
2016-11-10 09:01:48
Nuut in Suid-Afrika: Nuwe enjinolie met hoë werkverrigting perfek vir boere
Goeie nuus vir boere is dat Chevron Suid-Afrika ’n nuwe topvlak-dieselenjinolie bekend gestel het wat spesifiek ontwerp is om die werkverrigting van toerusting in die plaaslike mark te optimaliseer en bedryfskoste te verminder. Die nuwe Caltex Delo® 400 MGX SAE 15W-40-olie, wat met ’n gevorderde, rewolusionêre formule spog, sal by die maatskappy se plaaslike smeermiddelvervaardigingsaanleg in Durban vervaardig en vandaar versprei word. Die aanleg se topvlak-basisoliesentrum, met ’n vervaardiging-, berging- en infrastruktuurvermoë van wêreldgehalte, lewer ’n sleutelbydrae tot plaaslike ekonomiese groei. Chevron se wêreldwye bestuurder van kommersiële handelsmerke, Leonard J Badal Jr, sê: “Ou én nuwe dieselenjins sal by die verbeterde formule baat vind. Toerusting en vlooteienaars hoef nou slegs één swaardiens-enjinolie te gebruik wat doeltreffende werkverrigting bied, ongeag of die betrokke enjin se brandstof ’n hoë of lae swaelinhoud het. Die produk is ontwikkel om te help om uitlaatgasreulasies na te kom, en voldoen aan die vereistes en werkverrigtingspesifikasies van die plaaslike mark se OTV’s (oorspronklike toerustingvervaardigers). “Aangesien die Suid-Afrikaanse streek ’n verskeidenheid diesel met ’n hoë en lae swaelinhoud – van 5000 dpm tot 50 dpm – bied, besef ons dat ons ons topvlak- Delo®-produkreeks se unieke pluspunt moet beklemtoon. “Die bekendstelling van die Caltex Delo® 400 MGX getuig van Chevron se verbintenis om vernuwende produkte aan klante te verskaf wat werkverrigting laat styg, bedryfskoste laat daal en verseker dat hulle dieseltoerusting glad bly loop. Die nuwe produk se werkverrigting is deeglik saam met diesel met ’n hoë én lae swaelinhoud getoets ten opsigte van die vermoë om skadelike sure te neutraliseer en alkaliniteit tydens verlengde dreineringsintervalle te handhaaf,” sê Leonard. Chevron benut ISOSYN®-tegnologie om hulle topvlak-produkte te formuleer. Met hulle formuleringskennis kombineer hulle hoëklas-basisolies met hoëwerkverrigting-bymiddels om beskerming aan dieselenjinonderdele te verleen. Die produk doen weg met roet en bied slytasiebeskerming en slyk-oliebeheer om die enjinlewe te verleng en olieverbruik te help verminder. Die smeer- en koelmiddels in Caltex se Delo®-produkreeks bied beskerming, werkverrigting en waarde-vir-geld uit die boonste rakke. Dit geld vir diesel-aangedrewe toerusting, op of van die pad af, in bedrywe wat wissel van handelsvervoer, konstruksie en mynwese, tot landbou en kragopwekking. Die streeksakebestuurder vir verkope in Suider-Afrika, Fabian Magerman, som dit soos volg op: “Ons nuwe produk, wat op veeleisende werkstoestande gemik is, is ’n beduidende verbetering van die Caltex Delo®-handelsmerk. Caltex Delo® 400 MGX stel dit ten doel om ons klante en sakevennote se verwagtings ten opsigte van toerusting in hoë en lae swaelinhoud-omgewings in alle segmente te oortref.” Hy voeg by: “Caltex Delo® met ISOSYN®-tegnologie vaar deurlopend beter as die jongste API- en OTV-spesifikasies. Ons sakevennote in hierdie mededingende ekonomiese omgewing kan rustig voortgaan in die wete dat daar ’n eenproduk-oplossing vir hulle toerusting se werktyd, betroubaarheid, verminderde staantyd en die allerbelangrike verlaagde bedryfskoste is.” Meer oor Chevron Suid-Afrika (Edms) Bpk Chevron Suid-Afrika is ’n filiaalmaatskappy van die Chevron Korporasie, die wêreld se tweede-grootste geïntegreerde energiemaatskappy, wat sy produkte in Suid-Afrika bemark onder die Caltex-handelsmerk. Dit bied ook smeermiddelvermenging en basis-olieberging en bemark Caltex Havoline en Caltex Delo aan verbruikers regoor die land. Vir meer inligting, besoek www.caltexdelo.com of jou naaste Caltex Delo-handelaar. Skakel ook kliëntediens by 0860-300860.
http://www.proagri.co.za/nuut-suid-afrika-nuwe-enjinolie-met-hoe-werkverrigting-perfek-vir-boere/
2016-11-10 10:11:20
Miss Eco SA uit Thabazimbi
Dajana Rijetkovic, ‘n inwoner van Thabazimbi, is verlede naweek as Miss Eco South Africa aangewys. Die beoordeling van die finaliste het oor twee aande gestrek en is by die Arto Teater in Pretoria aangebied. Volgens Lenie Pieterse, die nasionale direkteur van Miss Eco South Africa, is heelwat inskrywings van regoor die hele land ontvang en was die kompetisie straf. Buiten die Eco-vriendelike projekte wat die deelnemers self moes inisieer en uitvoer, is die twaalf finaliste oor die twee aande deeglik getoets oor wie die kroon uiteindelik sou dra. Op 11 November is onderhoude met die deelnemers gevoer en het hulle ook aan ‘n talentkompetisie deelgeneem. Op 12 November moes die finaliste in “Eco Wear”, ‘n uitrusting gemaak vanuit afval materiaal, wat insluit ‘n bikini en aanddrag, hul skeppings op die loopplank vertoon. Buiten die wennerskroon het Dajana ook die volgende spesiale toekennings ingepalm: Mej Fotogenies, Mej Debutante, Beste Aanddrag, Beste Bikini-lyf en Beste Talent. Aan die einde van die aand is Dajana as Miss Eco South Africa aangewys en is sy deur Talitha Bothma, Mej Supernational SA gekroon. Dajana sal die eerste deelnemer van Suid Afrika by die “Miss Eco International” kompetisie wees in 2017. Hierdie kompetisie sal vanaf 1 tot 16 April 2017 in Egipte aangebied word.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/16/miss-eco-sa-uit-thabazimbi/
2016-11-16 17:18:32
HFM presteer met ATKV Poësiekompetisie
Leerlinge van Hoërskool Frikkie Meyer wat aan die Thabazimbi ATKV Poësiekompetisie deelgeneem het, het uitstekend gevaar. Altesaam ses leerlinge het vir die kompetisie ingeskryf. Die beoordeling van die gedigte is gedoen deur die Woordgilde van Pretoria. In die Junior hoërskoolafdeling het Simoné du Plessis ‘n derde plek behaal, terwyl Tacia van Wyk die naaswenner was. Die afdelingswenner is Caronay Fouché (gr. 8) met haar gedig “My wêreld”. Hiervoor ontvang sy ‘n goue sertifikaat en ‘n medalje. In die Senior hoërskoolafdeling het Louis Janeke twee silwer sertifikate verwerf, terwyl Aurelia van Zyl ‘n goue sertifikaat en ‘n derde plek behaal het. Marlie Snyman verwerf ‘n silwer en twee goue sertifikate. Sy is dan ook die wenner en naaswenner van hierdie afdeling. Sy is ook die hoërskoolafdelingswenner met haar gedig “Blosende Zonnedauw” waarvoor sy groot lof ontvang het. Daar word met groot verwagting na haar eerste digbundel uitgesien.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/22/hfm-presteer-met-atkv-poesiekompetisie/
2016-11-22 15:10:41
KunsteGrot se Hollywood Fliekdag
Die KunsteGrot op Thabazimbi bied op Woensdag 30 November ‘n Hollywood fliekdag aan om die begin van die vakansie met veilige vermaak vir die kinders in te lui. Vir die ouer mense is daar iets vir die aandvertoning. Die spyskaart vir die dag se flieks is as volg: 09:30 – Bee Movie 11:30 – Free Birds 14:00 – Transformers Age of Extinction …en vir die “grootmense” 18:00 – Begin Again (John Carney , director, met Keira Knightley, Mark Ruffalo en ander groot name) Toegang: Slegs R20 toegang per fliek. So-pas is bevestiging gekry dat “Sy klink soos Lente” ook oppad is na die Kunstegrot. Bespreek sommer nou jou kaartjie vir die vertonings Vrydag 2 Desember om 19:00 en Saterdag 3 Desember om 10:30. Toegang is slegs slegs R50. Kom pak die KunsteGrot asseblief vol om bietjie fondse in te samel vir die vol program wat reeds vir volgende jaar beplan word. 2017 word dan ook sommer vroeg in die nuwe jaar afgeskop met “Jonathan” en “Vir die Voëls “.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/24/kunstegrot-se-hollywood-fliekdag/
2016-11-24 17:44:16
Karate presteerder met skakels in Thabazimbi
Oud Thabazimbi inwoner, Jaco Harding en sy ouers Issa en Willen Harding, loop breë skouers nadat hul kleinseun en sy pa se trots, Colin Harding (11), groot opslae gemaak het in die 10de WMAG. Colin is deel van die Kachi Knights Shorin Ryu Karate Klub in Centurion. Hy het nie net sy ouers (Jaco en Yolanda) maar ook Suid-Afrika se naam hoog gehou by vanjaar se World Martial Arts Games (WMAG) wat gedurende Oktober by die Ticketpro Dome in Johannesburg aangebied is. Dis die eerste keer dat die spele in Suid-Afrika gehuisves was. Sewe van die Kachi Knights klub se lede was vroeër vanjaar gekies as junior Proteas om Suid-Afrika op die 10de WMAG te verteenwoordig. Die WMAG was verteenwoordigend van 11 ander lande wat onder andere die verenigde State van Amerika, India, Spanje en Iran ingesluit het. Colin het met twee brons medaljes weggestap wat hom huidig 3de op die internationale wêreld-ranglys maak deur sy 3de-plekke in Kumite en Wooden weapons. Issa en Willem Harding spog saam met hul kleinseun Colin Harding oor die uitmuntende prestasie wat hy reeds op so ‘n jong ouderdom bereik het. Sy pa, Jaco Harding wat self ook groot geword het in Thabazimbi en ook die sport beoefen het glimlag seker die breedste. Volgende jaar word die 11de WMAG in Florida, USA aangebied. Colin oefen reeds hard om seker te maak hy word weer volgende jaar vir die Protea span gekies.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/17/karate-presteerder-met-skakels-thabazimbi/
2016-11-17 12:59:12
Beeste en perde sak op myndorp toe
SWARTKLIP – Inwoners van Swartklip moet reeds vir etlike weke lank aanskou hoe beeste en selfs perde tussen die huise en teen die grensdraad, wat die myn-eiendom van die aanliggende plaaslike gemeenskappe skei, van honger en dors vrek vanweë die erge droogte en die gebrek aan voldoende weiding. Die bestuur van Anglo American se Union Seksie is sedert Februarie vanjaar in gesprek met die gemeenskapsleiers in die aanliggende eiendomme aan die myn. ‘n Ooreenkoms is aangegaan dat die myn waterkrippe op die buitenste grenslyne sal plaas en in stand hou, wat hulle dan ook gedoen het. As gevolg van die tekort aan weiding is daar ‘n groot tekort aan kos vir hierdie diere in die veld waarop hulle gewoonlik wei. Dit is dan ook die rede dat die diere gelok word na die dorp waar daar gras en ander plante is om te vreet. Die mynbestuur het ‘n beroep op inwoners gedoen om nie die diere te voer of water te gee nie. Alhoewel dit drasties klink, word die situasie deur hierdie handeling net vererger deurdat dit die diere aanmoedig om in die woongebied te bly. Daarby ry dit pogings van die myn om die diere uit woongebiede te hou in die wiele. ‘n Beroep is deur Swartklip inwoners op Rustenburg se Dierebeskermings-vereniging asook TAR van Thabazimbi gedoen om hulp te verleen om voer aan hierdie diere te verskaf. Volgens die inwoners vrek daar twee tot drie diere weekliks.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/06/beeste-en-perde-sak-op-myndorp-toe/
2016-11-06 08:18:19
SANParke: Rondomtalierit in Mei/Junie 2016- Deel twee
Salomi Louw In Mei 2016 wou ek in Weskus Nasionale Park/Langebaan wees vir SANParke ereveldwagters se Algemene Jaarvergadering/Indaba/kursusse. Dis vreeslik ver om te ry vir ‘n week se gebeure, dus is dit die moeite werd om die reis te verleng en ander plekke in so ‘n tog in te sluit. Omdat afstande so groot is, moet jy ook rustig ry en, natuurlik (vir my), langs die pad voëls kyk. Die getroue en beduimelde Southern African Bridfinder* is natuurlik my pad- en voëlkykgids. Twee weke nadat ek uit Pretoria weg is, ná die Indaba, vertrek ek uit Langebaan om nog Nasionale Parke in te pas. Eers volg Agulhas – met darem enkele bloukraanvoëls, dan Bontebok en Wildernis (Tuinroete NP) vir ‘n week. Die Bosjakkalsvoël is tuis hier in die plantasies en op ‘n bootrit op die Touwrivier kry ons ‘n reier wat nie tuishoort in een van die kategorieë nie. Nadat dié foto op Facebook verskyn het, is die besluit dat dit ‘n kruising tussen ‘n Blou- en ‘n Rooireier is, of dalk ‘n swartkop- en rooireier. Ons het wel heelwat rooireiers tydens die vaart gesien. By die vleie is ‘n verskeidenheid waad-, water- en ander voëls te sien, met Waterdikkoppe wat op die grasperk langs die water met jongelinge ronddraf. Vier verskillende visvangerspesies sit sommer naby mekaar; die Grootkoningriethaan met sy lang, rooi tone vermaak my wanneer hy die riete onder die wateropper¬vlak afbreek, die omhulsel stroop en dan die murg vreet. Swartbandlangstertjie, Goudgeelvink, Olyflyster, Bruinjakkalsvoël en Gewone willie, Witkoljanfrederik en Knysnaloerie kan gesien word op die talle staproetes in hierdie omgewing. Na Wildernis en Knysna staan ek 2 nagte in Tsitsikamma, maar kan nie staptogte onderneem nie weens ‘n voetbesering. Van hier af is ek aangewese op besigtiging uit die voertuig uit. Oral waar ek kom – Noord-, Wes-, Suid- en Oos-Kaap is daar swerms en troppe en troppe en swerms tarentale – derduisende van die kekkelende, ronddrawwende spikkelvoëls. Nog nooit voorheen het ek op een enkele dag so baie gesien soos met dié rit nie! Terwyl ek in Tsitsikamma sit en wag vir my wegneem-ete herken die voorsitter van dié streek se ereveldwagters my en kom gesels. Ek word gevra om tydens die Desemberskoolvakansie te kom uithelp – hulle het dié tyd van die jaar altyd hulp nodig, maar dis die enigste tyd van die jaar wat ek glad nie van die huis af kan wegkom nie: wat word van my honde terwyl my getroue tuinier sélf met vakansie is? Die tyd begin kalwe aan my vierde week weg. Camdeboo NP is volgende op my lys. Twee keer hier kry ek Sekretarisvoëls wat wegvlug, maar telkens weer voor my op die pad beland. Natuurlik kan ‘n mens ook nie anders as om die Vallei van Verlatenheid te besoek nie! Sedert ek laas hier was, het die Park geweldig uitgebrei en sluit ook die Nqwebodam in. Hier is dus baie om te sien en elande en swartwildebeeste is volop. Die oostelike deel van die park is egter slegs toeganklik vir 4×4-voertuie; alhoewel mooi op ‘n afstand, waag ek dit nie. Op 3 Junie, nou in Bergkwagga Nasionale Park, kry ek die Klipkoester, Baardmannetjie en Grysrugtinktinkie; die volgende dag die Kaneelborssanger sommer langs die kampeerterrein. Laasgenoemde het ek nog net een keer vantevore ongesoek en onverwags in Namibië gesien. Bergkwagga Nasionale Park het ook geweldig vergroot sedert my vorige besoek; die paaie deur die berge met eindelose vergesigte gryp ‘n mens aan die hart! Wild is nog nie menssku nie en die bergkwaggas, swartwildebeeste, elande en koedoes laat jou toe om naby te kom en hulle rustig te beskou. Die hoofrede waarom ek dié lang tog deur die 9 Nasionale Parke (goed: trek maar 2 af vir die gesamentlike Tuinroete Nasionale Park) onderneem het, was om foto’s te neem vir PEAP se ‘PowerPoint’-aanbieding oor ons Nasionale Parke. As voëlkyker was die geleentheid om ou of nuwe voëls te kan identifiseer en dalk te fotografeer natuurlik ook van belang. Dit was egter ook ‘n heerlike ondervinding en het die besef weer by my tuisgebring dat ons in ‘n asemrowend mooie land bly! My uit-en-tuis het net meer as 4 weke geduur, sowat 7 700km se reis behels en my weer eens getoon ons woon in ‘n suidelike wonderwêreld! Die voëltelling gedurende hierdie (vroeë) wintertyd was 186. Heel skaflik, dink ek. *Cohen, Callan; Spottiswoode, Claire; Rossouw, Jonathan. 2006. Southern African Birdfinder: Where to find 1 400 bird species in southern Africa and Madagascar. Cape Town: Struik Publishers.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/17/sanparke-rondomtalierit-meijunie-2016-deel-twee/
2016-11-17 12:39:51
Hilux SRX maak ‘n Draai in die Gim
Die Toyota Hilux reeks bly maar een van Suid-Afrika se gewildste voertuie, met die nuwe model wat gedurende Februarie vrygestel is waarvan reeds meer as 30 000 eenhede verkoop is. Toyota werk hard daaraan om by die vinnig veranderde tendense ten opsigte van koop patrone en markkragte in die motormark aan te pas en roem daarop om kliënt georiënteerd te wees met hul in-diepte navorsing. Daarom bied hulle met trots die opgegradeerde Hilux SRX modelle. Op die oog af is die grootste verskil in die vorm van die nuwe breër bakwerk. In breë terme kan gesê word dat die Hilux SRX onderwerp was aan ‘n intensiewe oefenprogram in die Gim met die gevolg dat dit nou wyer, hoër en meer prominent uitstaan. Die Xtra-cab modelle spog reeds met hierdie “wye bakwerk” en nou kan al die modelle spog met die nuwe wyer buite afmetings. Die kantspieëls het nou ingeboude kant-rigtingwysers terwyl hulle dieselfde duursame dowwe swart afwerking en elektriese verstelling behou. Nog ‘n opvallende verandering is die wyer wielsporing met 17” allooi wielvellings, teenoor die vorige staal vellings en is toegerus met 265/65/R17 alle-terrein bande. Soos alle fiksheid entoesiaste weet gaan dit alles oor spiermassa, belangrike statistiek waarop die SRX duidelik op aanspraak kan maak. Hiermee plaas die Hilux SRX homself in ‘n unieke segment van die ligte kommersiële mark. Die SRX-pakket word gekomplementeer met die hardwerkende 110kW, 400Nm 2.4 liter GD-6 enjin (of 2.7 liter petrol VVTi kragbron) en bied jou ‘n bakkie wat hard gedurende die week kan werk en sy eienaar toelaat om ook hard gedurende naweke te speel en steeds goed te vertoon. Pryse vir die SRX reeks wissel vanaf R333 100 vir die enkelkajuit tot R385 800 vir die dubbelkajuit 2.4 VVTi en R458 100 vir die 4×4 Dubbelkajuit.* *Pryse ten tye van vrystelling en mag verander. FORTUNER BLINK ’N BIETJIE MEER Allooisierwiele is sonder twyfel een van die belangrikste toevoegings tot ’n voertuig se voorkoms. Op hierdie gebied is al die 2.8 GD-6 en 4.0 V6 Fortuner-modelle nou met treffende 18”-allooisierwiele toegerus. Die nuwe vellings, wat die gewese sewentiensduimweergawe vervang, het 265/60/R18-bande en maak gebruik van kenmerkende terugvloeiende speke met masjienafwerking wat die dubbel-dimensionele ontwerp beklemtoon. Die intreevlak-2.7 VVTi en die 2.4 GD-6 behou hul stylvolle 17”-dubbelrib-sierwiele. Die 2.7 VVTi en 2.4 GD-6 Fortuner-weergawes is as bykomende bonus met leerbeslag toegerus, wat die bestaande tekstielafwerking vervang. Hierdie weelde-toevoeging kos kopers niks bykomend nie, wat die reeds hoë waarde-vir-geld-aanbod net verder vergroot. Nog iets wat genoem kan word, is dat die Fortuner die enigste sportnuts in sy klas is wat só aantreklike intreevlak-prys met sulke omvattende toerusting bied.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/22/hilux-srx-maak-n-draai-die-gim/
2016-11-22 05:02:51
Eskom Hoof, Brian Molefe, bedank
Brian Molefe, Hoof Uitvoerende beampte van Eskom, het sy bedanking uit sy pos aangekondig. Dit volg na die bekendmaking van die voormalige Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, se verslag aangaande die vermeende Staatskaping wat verskeie ernstige suspisieuse omstandighede uitgelig het. In die verslag beveel sy aan dat hierdie saak verder geregtelike ondersoek moet word. In sy verklaring noem Molefe dat hy vol moed is dat sodra die tyd gereed is, daar gewys sal word dat hy niks verkeerd gedoen het nie. Hy het ook gesê dat hy sal bewys kan lewer dat hy ‘n onreg aangedoen is deur “waarnemings”, opgevolg deur ‘n onvolledige ondersoek waar die Openbare Beskermer op “bevindings” gereageer het. “Die waarheid sal uitkom. Ek gaan nou aangesien dit in die belang van Eskom en die publiek is”, het hy gesê. Molefe was die afgelope week in die kollig toe daar na hom in die Openbare Beskermer se verslag oor die Staatkaping verwys is. Die verslag het gewys op sy noue band met die omstrede Gupta familie. Die verslag bevraagteken ook die verkoop van die Glencore Optimum Myn, wat steenkool aan die Arnot Kragstasie lewer, aan Tegeta Resources wat aan die Gupta familie behoort.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/11/eskom-hoof-brian-molefe-bedank/
2016-11-11 21:13:41
SANParke: Rondomtalierit in Mei/Junie 2016
Salomi Louw In Mei 2016 wou ek in Weskus Nasionale Park/Langebaan wees vir SANParke ereveldwagters se Algemene Jaarvergadering/Indaba/kursusse. Dis vreeslik ver om te ry vir ‘n week se gebeure, dus is dit die moeite werd om die reis te verleng en ander plekke in so ‘n tog in te sluit. Omdat afstande so groot is, moet jy ook rustig ry en, natuurlik (vir my), langs die pad voëls kyk. Die getroue en beduimelde Southern African Bridfinder* is natuurlik my pad- en voëlkykgids. Dag 1: ‘Red Sands’ net wes van Kuruman is altyd ‘n lekker oornagplek met Rooioogtiptol, Groot¬rooi¬valk, Bleekvlerkspreeu, Feëvlieëvanger, Namakwasuikerbekkie en Priritbosbontrokkie tussen al die ander voëls deur. Maar die sneeuwind uit die Noordpool waai verwoed en veel meer as genoemde voëls is nie te sien nie; ook staproetes – waar ek voorheen verskeie wildsoorte en ‘n verskeidenheid bome kon sien – is uitgesluit weens die koue en rooi stofwalms. Dag 2: Die plan was om in ‘Oranjerus’ naby Kanoneiland te oornag, maar daar was niemand by ontvangs nie. Dis nog vroeg en ek ry rond. Uiteindelik bevind ek my laatmiddag by ‘Die Eiland’ in Upington. Vermy dié kampeerplek ten alle koste: vuil, verniel en verwaarloos. Sien darem enkele voëls, maar dit vergoed nie vir die toestand van die kampeerterrein nie. Dag 3: Vanaf Keimoes oor Kenhardt ry ek vir meer as 100km in ‘n mistonnel waar jy beswaarlik 50 meter voor jou kan sien. Dit word ‘n lang, stadige tog. Gelukkig klaar die mis voor Brandvlei op. Met ‘n vorige uittog het ek spesiaal Pella toe gery om die Rooilewerik – sonder sukses – te soek. Die Birdfinder sê dat die Rooilewerik ook te vinde is op die Granaatboskolkpad ± 2km noord van Brandvlei en dan moet jy na 2km op die uitkyk wees vir dié voël. Ek het eger pas op dié roete afgedraai of ‘n kontante voël kom land skuins voor my en huppelspring onder die bossies in: Rooilewerik! Hy is egter so vinnig onder die karoobossies in en uit dat dit moeilik is om ‘n foto te neem, maar ek het darem een herkenbare as bewys! Dis my eerste lang rit nadat die VW nuwe vering en bande gekry het en ek is nog versigtig – het voorheen al te veel kere die ding se pens stukkend gestamp en ook vasgesit; na die onlangse reën bestaan die aangeduide pad nie meer nie. Jy moet tussen die bossies langs die pad ry. Ek trek kleinkoppie en draai liewers om. Selfs al kyk die dorpsbewoners my vreemd aan, ry ook oos van Brandvlei na die Sakrivieromgewing en kry nog voëls vir my ritlys, soos die Swartoorlewerik, Rooioorlangstertjie en Namakwalewerik. Bo my sweef ‘n Witkruisarend met ‘n Witborskraai wat hom dan op die stert, dan op die rug of vlerk aanpik, maar die arend ignoreer die aanvaller en hou aan met sy swenkelende draaie. By die oostelike ingang van Calvinia is ‘n oornagplek, ‘Klein Plasie’, letterlik op die rand van die dorp en met ‘n veld en skraapdamme oorkant die pad waar ook ‘n verskeidenheid voëls en springbokke gesien kan word. Die grootste gedeelte van die res van my dag hier het ek egter gewy – soos aanbeveel deur Birdfinder – aan ‘n besoek aan Akkerendam Natuurreservaat. Na die onlangse reën was die paaie egter so onbegaanbaar dat ek nie veilig gevoel het om dit ver met my VW Transporter aan te pak nie. Indien ek sou vasval, was die kans op hulp en redding naby aan nul. Talle nuwe voëls vir my ritlys is wel hierdie dag aangeteken, soos Grysruglewerik, Grystjeriktik, Grysborstjagra, Grootlangtoon, Versamelvoël, Geelkanarie en Vaalstreepkoppie. In dié omgewing is springbokke natuurlik ook algemeen. Dag 4 reis ek vanaf Calvinia na Tankwa Karoo Nasionale Park op slipglibberige en wateroorstroomde paaie (of daar verby deur die veld) en oor/deur botterboom-oorgroeide bergpasse (die Bloukrans¬pas) om vir 3 nagte in Tankwa se Perdekloof te gaan kampeer waar elke eenheid beskik oor ‘n stort-/badkamer, toilet en ‘n kombuisdeel – met sonkragwarmstelsel (as die son skyn!) en minus elektri¬siteit. Vir vier dae beproef ek die paaie waarvoor ‘n voertuig met hoë grondvryehoogte en meestal 4×4 nodig is (maar ek en my VW hanteer die uitdagings terwyl ons ook voëls kyk en ‘n goeie verskeidenheid aanteken). In die mis en reën pak ek ook die (angswekkend in hierdie weersomstandighede) Gannapas aan waar die pad nie net glibberig is nie, maar ook op ‘n stadium bestaan uit twee opgeboude spore van los leiklippe – draai links of regs uit die spore en jy gly die afgrond in! Daar is ook nie plek (nes teen Lenong uit) vir twee voertuie om by mekaar verby te kom nie. Bo-op Gannapas is alles in mis en reën gehul en die pad onhanteerbaar glyerig, maar Withalskraaie ry op die rûe van skape; Kopereende en Wildemakou plas in die modderdamme. By Middelpos aangekom sê die pompjoggie die beste pad na Tankwa is terug oor dié (uitmergelende) Gannagapas – waarvoor ek nie kans sien in die mis, wolke en reën nie. Die pad na Sutherland, sê hy, is baie sleg en ek moet liewers met die Gannagapas terrug¬gaan. Ek is vasbeslote: om in die mis en reën met dié pas af te gaan na Tankwa Karoo NP is meer as wat ek van myself (en my voertuig) kan verwag. Ek ry dus voort na Sutherland – en sowaar, seker die slegste pad wat ek in my lewe gery het, want hulle werk daaraan: een kant is totaal geslote; die ander bestaan uit sowat 1½ meter hoë opvullings met klippe/rotse/grond waaroor jy stadig en versigtig tussen skop¬grawe en stootskrapers deur moet ry (ten minste werk hulle aan die paaie!). Oor Bo- en Onderwaterdrif is ek uiteindelik terug by my kampeerplek in Perdekloof; het darem tydens dié roete Bokmakierie, Karoolewerik, Koper-, Swart- en Teeleend en Wildemakou aangeteken asook Kelkie¬wyn, Karoospekvreter, Bergkanarie en Jangroentjie. Die Kaapse fisant skrop nes in die kampeerterrein en die Geel-, Berg- en Swartkopkanarie hou hulle nie skaars nie. Tankwa Karoo roem hulle op die teenwoordigheid van die Bloukopdrawer, maar dié het ek nie te siene gekry nie (dit wel al in Namibië op my lewenslys kon aanteken), terwyl die Kleinrooibandsuikerbekkie die wêreld vol is. My voëllys raak voller. Tankwa lewer natuurlik ook soogdiere op wat nie aldag te siene is nie, soos troppe elande en gemsbokke. Ek het die oriënteringskurus vir Tankwa gedoen bloot vir selfverryking en ook omdat toeriste ons so gereeld uitvra oor ander Nasionale Parke – sonder dat ek dit oorweeg het om daar te gaan diens doen. Die kursusleier (Willie Engelbrecht) het egter gesê dat hulle hulp soek tydens die blomseisoen. My verblyf in die Park het my gewen vir diens. Toe ek met die dienskoördineerder in Tankwa gesels oor moontlike diens, het sy gesê dat hulle blomseisoen vroeër is as Namakwa s’n en hulle hulp nodig het vroeg Augustus. Ek het dit daar gelaat. Dae hoeveel later: In Langebaan (Leentjiesklipkampering) by Weskus Nasionale Park vir ‘n week. Die Hartlaubmeeue is ‘n verpesting. Swarttobies en Grootswartrugmeeue is al die rotse vol. Bank- en Trekduikers doen gereelde verblyvlugte; die Witpelikane vorm V-vlugte teen die hemelruim terwyl Bergpatrys in die onderbos rondploeter; talle ander voëls is te sien en selfs van die Grasvoël kan ek ordentlike foto’s neem. In die kampeerterrein by Leentjiesklip is ‘n gesin Dikkoppe heeltemal tuis tussen die kampeerders. My ritlys groei aan. Hier naby, in Langebaanweg, besoek ek die ‘West Coast Fossil Park’: wat ‘n belewenis! Menseskedels van sowat 200 000 jaar oud; ‘n Afrikabeer amper die grootte van ‘n volwasse man; kortnek kameelperd; sabeltandtier en 4-tand olifant wat in dié omgewing floreer het se fossiele is hier vasgevang in sand/modder. Dit was destyds ‘n tropiese plek. ‘n Praatjie deur Pamela van ‘Pelican Watch’ tydens die Indaba is interessant. Sy vertel onder andere hoe die pelikane die eiers en kuikens van Malgasse vreet: daarom word daar tydens broeiseisoen mense gebruik om die voëls op Malgaseiland op te pas en te beskerm. In die week by Langebaan besoek ek die Weskus Nasionale Park bykans daagliks. Klein, maar pragtig, en dié tyd van die jaar eintlik maar sonder blomme. Twee weke nadat ek uit Pretoria weg is, ná die Indaba, vertrek ek uit Langebaan om nog Nasionale Parke in te pas. Eers volg Agulhas – met darem enkele bloukraanvoëls, dan Bontebok en Wildernis (Tuinroete NP) vir ‘n week.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/01/sanparke-rondomtalierit-meijunie-2016/
2016-11-01 18:21:16
Krieket-Kultuur kom na Thabazimbi
Cricket School of Excellence gaan in 2017 krieket-kultuur na Thabazimbi bring. Groep oefening sal reg deur die jaar op Vrydag middae by Hoërskool Frikkie Meyer plaasvind en sal alle studente ‘n geleentheid gee vir hoë kwaliteit afrigting en om 100% gereed te wees vir 2017 krieketseisoen. Die Cricket School of Excellence (CSE) is ‘n huishoudelike naam in die krieket gemeenskap sedert sy bestaan in die suidelike voorstede van Kaapstad 16 jaar gelede. Unieke afrigtingsmetodes is aan die orde van die dag en word toegepas deur ervare en gekwalifiseerde afrigters. Die CSE strewe na uitmuntendheid, op en van die veld af, deur to fokus op vaardighede en konsepte soos spanwerk en koördinasie. Hul dienste sluit in klinieke tydens skoolvakansies, private afrigting, groep afrigting, krieket verjaarsdag partytjies en korporatiewe funksies. Die CSE is vandag ‘n landswye instansie met afrigters wat almal deur Krieket Suid-Afrika geakrediteerd is. CSE fokus meestal op geestesfiksheid, fisiese ontwikkeling, kolfwerk, boulwerk, veldwerk en algehele pret. Vir meer inligting kontak Quinton Coetzer op 082 457 8825 of [email protected], regs op foto bo, saam met mnr Collin Campbell en twee lede van HFM se Krieketspan.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/22/krieket-kultuur-kom-na-thabazimbi/
2016-11-22 16:00:14
Staatskaping: DA gaan minister verkla oor Guptas
Die DA sê in ‘n mediaverklaring dat die DA beplan om die minister van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake, Minister Des van Rooyen by die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, te verkla. Dit volg op die berig in Sondag se Sunday Times dat Van Rooyen die Gupta tuiste in Saxonwold sewe keer besoek het voordat hy deur President Jacob Zuma as Minister van Finansies vir ‘n naweek lank aangestel is. “As antwoord op ‘n vraag van die DA tydens die Parlementêre vraetyd, het Van Rooyen dit ontken dat hy ooit by die Guptas gekuier het tot en met sy aanstelling as Minister van Finansies. Volgens wat gerapporteer is het hy die Guptas nie net een keer besoek nie maar sewe keer,” sê die DA. In ‘n skriftelike antwoord gerig aan die parlementêre Hoofsweep, John Steenhuisen se vraag of hy kontak met die Gupta familie of werknemers sedert sy aanstelling gehad het, het Van Rooyen geantwoord dat hy nog nooit met die Guptas in ‘n offisiële kapasiteit vergader het nie. “Duidelik was dit ‘n misleidende antwoord en daardeur het hy ook die uitvoerende etiket-kode oortree,” het die DA verder gesê. Die DA het toegevoeg dat die nuutste bewerings bewys dat die “minister is niks meer as ‘n marionet wie se toutjies getrek is om toegang tot Staatsfondse te kry in ‘n poging om Zuma en sy meelopers te bevoordeel”. Volgens die Sunday Times is daar ‘n e-pos spoor tussen Van Rooyen en die besighede met Gupta bande. Hierdie spoor verbind Van Rooyen, sy adviseur Ian Whitley en Trillian Capital Partners se hoof uitvoerende beampte, Eric Wood, en dui aan dat Wood reeds twee maande voor dit geskied het, geweet het dat Zuma Nhlanhla Nene, minister van finansies, gaan afdank. Die DA sê hy gaan tydens die parlementêre sitting vrae aan Van Rooyen stel om te bepaal of daar enige samesprekings tussen Eric Wood en Ian Whitely was aangaande die gebruik van munisipale bates om privaat lenings te waarborg vir die finansiering van munisipaliteite, die aard van sy verhouding met die Guptas en hul geassosieerde kontakte waarmee hulle verbind kan word asook of hy samesprekings met die Guptas gehad het in die week voordat hy as Minister van Finansies aangestel is. Van Rooyen het ook onlangs sy interdik teen die bekendmaking van die Staatskaping-verslag onttrek nadat hy versekering van die openbare Beskermer se kantoor ontvang het dat dit “geen ongunstighede” ten opsigte van hom bevat nie. Bron: http://www.news24.com/SouthAfrica/News/da-to-report-des-van-rooyen-to-public-protector-20161030
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/01/staatskaping-da-gaan-minister-verkla-oor-guptas/
2016-11-01 21:22:24
Wees verantwoordelik en sê wie is die diewe: Maimane daag die President uit
Die leier van die Demokratiese Alliansie, Mmusi Maimane, het President Jacob Zuma gemaan om op te hou met sy onverantwoordelike gedrag en diegene rapporteer wat hy sê die diewe is wat van die regering steel. Dit volg op die president se opmerking aangaande korrupsie waar hy gesê het: “Hulle sê Zuma steel terwyl hulle self die grootste diewe is. Hulle het my telkens ondersoek maar kan niks vind nie omdat ek niks gedoen het nie. Indien hulle wel iets sou vind dan sou dit verby met my wees. Hulle is die diewe, en ek weet dat hulle steel. Ek kyk maar net toe. Ek ken hulle.” Die DA leier het aangevoer dat mnr Zuma as president ‘n wettige verpligting het om die gereg in te lig aangaande hierdie persone wat volgens hom die diewe is. “Dit wil voorkom asof President Zuma glo dat hy kwytskelding geniet op grond van Afdelings 34(1) en (2) op die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite, om hierdie persone se name bekend te maak aan die SAPD. Indien President Zuma nie hierdie inligting bekend wil maak om politieke redes nie, ondermyn hy die geveg teen die uitwissing van korrupsie en maak dit hom ‘n medepligtige in hierdie misdaad. “Dit is onverantwoordelik en onwettig dat die President van die land oor inligting beskik aangaande korrupsie en lê nie hierdie inligting voor aan diegene wat gemagtig is om die ondersoek te doen en die skuldiges te vervolg nie. Dis is egter nie verbasend nie aangesien President Zuma duidelik toon dat hy geen begrip het van die negatiewe invloed van korrupsie nie. Hierdie is dieselfde man wat reken dat korrupsie ‘n Westerse konsep van misdaad is waar daar geen slagoffers is nie”, sê Maimane Na aanleiding van bogenoemde het hy verwys na die aanklagte wat hy teen President Zuma gemaak het in terme van die Wet op die Voorkoming en Bevegting van Korrupte Aktiwiteite. Hy het die SAPD versoek om hul ondersoek uit te brei om ook diegene in te sluit waarop die President aanspraak maak dat hy hulle ken as die mense wat steel. “Met elke dag wat verby gaan, bewys president Zuma deurentyd dat hy nie geskik is om die President van Suid-Afrika te wees nie. Hy is bevooroordeeld en bring die staat in gedrang deur die ondermyning van sleutel staats-agentskappe.” Maimane het afgesluit deur te sê dat die DA sal aanhou om teen korrupsie en diegene wat in hierdie agterbakse dade betrokke is te beveg, aangesien dit neerkom op gesteelde geleenthede vir Suid-Afrikaners.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/21/wees-verantwoordelik-en-se-wie-die-diewe-maimane-daag-die-president-uit/
2016-11-21 18:04:33
Van Riebeecks het Klassieke Musiektradisie in SA gevestig
Oktober 25, 2016 in Kultuurkroniek http://www.afrikanergeskiedenis.co.za/van-riebeecks-het-klassieke-musiektradisie-in-sa-gevestig/ – respond – Marthinus van Bart (FAK Nuusbrief Nov 1016) Een van die hoogste kultuuruitinge van enige gemeenskap is die uitvoerende kunste, veral musiek. Daarom is dit nie vreemd dat Jan en Maria van Riebeeck Europese klassieke musiekinstrumente saam met hulle na die Kaap die Goeie Hoop gebring en dit bespeel het nie. Daar word onder meer in die Daghregister, die amptelike dagboek van Jan van Riebeeck, na “muziekinstrumenten” verwys en dat in die kommandeurswoning binne die Fort De Goede Hoop ’n klavesimbel bespeel is. Hy noem egter nie die musikant by die naam nie. Omdat Nederlandse meisies van die hoë lui in die sewentiende eeu tradisioneel onderrig in musiek en ander vorme van die kunste ontvang het, was dit heel waarskynlik Maria wat die klavesimbel aan die Kaap bespeel het. Die historikus WC Mees verwys daarna dat Maria die viool kon bespeel. ’n Mens kan vanweë haar status as predikantsdogter aanvaar dat sy ’n fyn opvoeding, wat musiek ingesluit het, ontvang het, en dat sy waarskynlik ook leer sing het. In ooreenstemming met haar status, het sy deftige syklere gedra, soos uit portrette van haar leeftydperk, die Nederlandse Goue Eeu, blyk. Niks in Jan van Riebeeck se biografiese gegewens dui egter daarop dat hy musiekonderrig of opvoeding in die ander kunste ontvang het, of dat hy ’n musikale aanleg gehad het nie. Maar dat hy wel die musiek waardeer het wat sy begaafde vrou gemaak het, is vanselfsprekend, aangesien dit vir hom nogal ’n onderneming moes gewees het om toestemming van die Here XVII te verkry dat die delikate klavesimbel, verwant aan die klavier, aan boord van sy vlagskip gebring kon word en dat die instrument vir die lang en gevaarlike seereis in die betreklik beknopte ruim van die klein seilskip behoorlik, óók waterdig, verpak moes word. Die instrument was klaarblyklik die egpaar se eie besitting en nie eiendom van die VOC nie. In die Daghregister verhaal Van Riebeeck hoedat hy op 29 en 30 September 1660 vir Sousoä, die “koning” van die Chainouquas, en ’n “prinses”, die vrou van Sousoä se seun, in sy private raadsaal, die kommandeursaal genoem, onthaal het. Hulle het op die tapyt gesit en is op kaas, vars brood en suiker, asook op Spaanse en Franse wyn, getrakteer. Ook is daar vir hulle ’n uitvoering op die klavesimbel gelewer. “Hulle het dit wonderlik aangenaam gevind,” skryf Van Riebeeck. Daar word vermoed dat dit Maria van Riebeeck was wat die klavesimbel bespeel het, al word dit nie pertinent in die Daghregister vermeld nie. Van Riebeeck skryf voorts dat die onderdane van die Koina-opperhoof in die Fort De Goede Hoop se voorsaal op beskuit (hardebrood) en brandewyn getrakteer is, sodat hulle by die aanhoor van die musiek lustig gesing, rondgespring en wonderlik-snaakse gebare gemaak het. Laasgenoemde verwys waarskynlik na die dans wat vandag bekend staan as “die riel”. Die kommandeurswoning was ’n vierkantige, stewige woning met klipmure en ’n plat dak. Dit het twee verdiepings met ’n binnetrap beslaan. Die vertrekke was onderskeidelik ’n raadsaal, kantoor, slaapkamer en ’n kinderkamer. Die raadsaal het ook as kelder en pakkamer gedien. Dat daar ook ’n trompetter in die geselskap van Van Riebeeck was, blyk uit ’n staaltjie van 2 Maart 1654 in die Daghregister: ’n Noorkapperwalvis het by die monding van die Soutrivier (Paardeneiland) uitgespoel. Jan en Maria van Riebeeck het in die geselskap van ander lede van die nedersetting met die strand langs daarheen gestap en bo-op die walvis geklim. Toe het ’n trompetter die Nederlandse volkslied, “Wilhelmus van Nassouwe”, gespeel. Dit was destyds die gebruik om op skepe skeepstrompetters te hê, asook tromslaners en beulblasers by militêre eenhede. Hoewel Van Riebeeck en sy geselskap nie streng militêr georganiseer was nie, was hulle ook nie gewone burgerlikes nie, want hulle het die VOC en die regering verteenwoordig. Daar sou dus wel formele tromslaners, trompetters, fluitspelers en beulblasers onder die militia in die nedersetting van die Kaap die Goeie Hoop gewees het om tydens amptelike halfmilitêre geleenthede seremonieel op te tree. Die musieknavorser Jan Bouws vertel in sy merkwaardige boek Solank daar musiek is: Musiek en musiekmakers in Suid-Afrika 1652 tot 1982 dat Van Riebeeck se koms na Suid-Afrika saamgeval het met die hoogbloei van die Nederlandse kuns, musiek en ander vorme van kultuur. Dit was die era van die Hoog-Barok, met veral kamermusiek hoog mode. En hierdie kultuurerfenis het ook aan die suidpunt van die Afrika-vasteland neerslag gevind. Deur sy navorsing het hy bevind dat die volgende Klassieke musiekinstrumente gedurende die 1600’s en 1700’s aan die Kaap bespeel is: Die klavesimbel, viool, bas-luit, ook viola da gamba of teorbe genoem, tjello, basviool, haranger-vedel of handviool, kitaar, siter, harp, fluit, basfluit, serpent, skalmei, hobo, klarinet, fagot, kamerorrel met tien of twaalf registers (later geskenk aan die Groote Kerk as sy eerste orrel), trompet, beul, horing, waldhoring en keteltrom, trom en tamboer. Die Franse reisiger en kunstenaar Francois le Vaillant het in die 1780’s ’n sak trompies van Europa af saamgebring wat hy onder die Koina uitgedeel het. Hy het ’n behoorlike studie van hul instrumente gemaak en dit ook geskets. Op skepe was daar uiteraard die bootmanspyp, ’n soort fluitjie wat gebruik is om offisiersbevele in sinjaalvorm, wat bo die geraas van die golwe gehoor kon word, aan die bemanning oor te dra. Uiteraard was dit nie juis ’n musiekinstrument nie, maar sommige sinjale was wel deuntjies in eie reg.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/01/van-riebeecks-het-klassieke-musiektradisie-sa-gevestig/
2016-11-01 21:02:20
Die Obaro Verskaffer van die Jaar aangewys
Obaro het op 21 Oktober 2016 erkenning gegee aan uitsonderlike diens gelewer deur hulle produkverskaffers. Hoë standaarde word gestel aan hierdie verskaffers om te verseker dat die boer met net die beste produk op sy plaas opeindig. Sewe van Obaro se verskaffers is tydens die dag as finaliste benoem, waarna Protek met die gesogte titel as Verskaffer van die Jaar weggestap het. As ’n landboumaatskappy met 24 handelswinkel oor vyf provinsies, is Obaro afhanklik van gehalte dienslewering en kwaliteit produkte van ’n verskeidenheid verskaffers. Hierdie verskaffers maak Obaro se uitgebreide produkreekse moontlik, wat onder meer besproeiing, dieregesondheid, saad en brandstof insluit. Hierdie simbiotiese verhouding is wat Obaro tydens die maatskappy se jaarlikse Verskaffer van die Jaar-geleentheid erkenning aan gee. “Obaro se visie is om die boer se besigheid op elke plaas te wees. Alles wat die boer benodig om sy besigheid suksesvol te kan bestuur en bedryf wil ons aan voorsien. Obaro se verskaffers dra by om hierdie visie te verwesenlik en daarom doen ons altyd ‘n beroep op hulle om saam met ons deur die plaashek te stap, en deur voete-op-die-plaas te verseker alles loop klopdisselboom,” het Nic Bronkhorst, Besturende Direkteur van die Obaro Groep gesê. Willard Batteries, KRM Plastics, Protek, Bafana Petroleum, Cipla Agrimed, Titan Products en PetrowAgri is elk deur Obaro as die top verskaffer in hul onderskeie kategorieë aangewys. Daar is na algemene dienslewering, verkope en produkgehalte gekyk om ’n persentasiepunt aan elke verskaffer toe te ken. Bafana Petroleum het die derde plek behaal, met Titan Products in die tweede plek. Dit is egter Protek wat as Obaro se Verskaffer van die Jaar 2016 benoem is. Obaro het ook verskeie spesiale toekennings aan spesifieke persone uitgereik wat waarlik die ekstra myl gestap het om buitengewone diens aan Obaro te verseker. Riaan Barnard (Agrinet), Johann Day (Robert Bosch), Marius Opperman (KRM), Dawie Fourie (HAIFA South Africa), Casper Snyman (Intertoy Toyota), Dana Rossouw (Maemo Motors) en Ampie de Jager (Voermol) het elk ’n sertifikaat vir uitsonderlike dienslewering ontvang. Obaro se Verskaffer van die Jaar-geleentheid dien as erkenning vir die rol wat die verskaffers in Obaro se uiteindelike sukses speel en hul toewyding om slegs die beste aan boere beskikbaar te stel.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/17/die-obaro-verskaffer-van-die-jaar-aangewys/
2016-11-17 14:21:27
Obaro vier 2016 met Gholfdag
Obaro, saam met kliënte, aandeelhouers en verskaffers het op 10 November ʼn suksesvolle 2016 tydens die Obaro Gholfdag gevier. Spelers van regoor Obaro se bedieningsgebied het die dag bygewoon en behoorlik hul gholfvaardighede afgewys. Die spanne het nie op hulle laat wag nie en die jolige atmosfeer het bygedra tot die sukses van die dag. Die Obaro Middelburg span het egter die ander 18 spanne uitgestof en as wenners elk met ʼn R 5 000 TurfAg-koopbewys weggestap. Die tweede plek is deur die span van Potchefstroom opgeneem met Obaro–koopbewyse (geborg deur Avidan) en in die derde plek het die span van Brits elk met ’n Kaufmann-kampstoel weggestap. Die veertiende putjie het spelers se vaardighede getoets met naaste-aan-die-pen en Wilscott Radley het die Rain Bird Spuite geborg deur Irrigation Unlimited gewen. Henning Wenhold het ʼn R 1000 Obaro Koopbewys losgeslaan met die langste dryf by putjie agtien. “Om die boer se besigheid op elke plaas te wees, is wat Obaro elke dag dryf. Obaro stap elke dag saam met die boer deur die plaashek en boer saam, dag-vir-dag en jaar-op-jaar. Die Obaro Gholfdag is om dankie te sê vir ons boere, wat ons help om elk dag ons voete-op-die-plaas te kry en saam te boer en saam te droom,” het Nic Bronkhorst, Besturende Direkteur van die Obaro Groep gesê. Obaro wil graag die volgende verskaffers bedank vir hul bydraes: Claas, BBM, Cape Gate, Bafana Petroleum, KRM, BB Cement, Engen, TurfAg, Avidan, RapTech, Agrinet, Irrigation Unlimited en Mpumalanga Discount Wire and Fence. Die wenspan: Foto bo van links: Nic Bronkhorst (Besturende Direkteur: Obaro), Cobus Beetge, Cor Cross en Fritz Marx.
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/21/obaro-vier-2016-met-gholfdag/
2016-11-21 12:07:54
Chris Chameleon goed ontvang by KunsteGrot
Chris Chameleon het Saterdagaand weereens bewys hoekom hy so gewild is by die ondersteuners van die KunsteGrot op Thabazimbi. Soos gewoonlik het hy ook verskeie van sy ou treffers gesing op aandrang van sy ondersteuners. Related
http://www.kwevoel.co.za/2016/11/07/chris-chameleon-goed-ontvang-kunstegrot/
2016-11-07 08:45:52